Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Vuur in toets toe vrou, ma en sus betrek word
’n Teleurgestelde Quinton de Kock (links) en Morné Morkel verlaat die veld nadat die Aussies Maandagoggend die eerste toets in Durban beklink het. De Kock is glo gereeld deur die Aussies beledig tydens sy kolfbeurt van 83 lopies. Foto: Gallo Images

’n Aanmerking oor David Warner se vrou, Candice, is glo wat dié Australiese kolwer se bloed laat kook het en ’n onderonsie tussen hom en die Protea-paaltjiewagter, Quinton de Kock, Sondag tydens teetyd op die vierde dag van die eerste toets op Kingsmead aangehits het.

Na wat verneem word, het De Kock teruggekap nadat die Aussies opmerkings oor sy ma en suster gemaak het en ook onder meer gesê het hy lyk soos ’n bosvark.

Steve Smith, Australiese kaptein, het Maandag ná die eerste toets, wat die Aussies met 118 lopies gewen het, gesê De Kock se opmerking aan Warner was persoonlik, terwyl die besoekers die paaltjiewagter nooit persoonlik aangeval het nie.

In kringtelevisiebeeldmateriaal kan gesien word hoe Warner deur sy spanmaats van De Kock weggehou moes word op die trappe wat na die spanne se kleedkamers op Kingsmead lei.

David Warner en sy spanmaats beweer dat Quinton de Kock ’n aanmerking oor sy vrou gemaak het en dít tot die aanvangskolwer se uitbarsting aanleiding gegee het. Foto: AP

“Quinton het baie persoonlik geraak en ’n emosionele reaksie by David uitgelok. Daardie dinge moenie gebeur nie. Om persoonlik te raak, is om die grens oor te steek. Ons het self ook baie dinge op die veld gesê, maar sover ek weet, het ons niks persoonliks vir Quinton gesê nie,” sê Smith.

“Ek verstaan heeltemal waarom David gereageer het soos hy het. Jy kan nie só oor iemand se persoonlike lewe begin praat nie. Die saak is nou in die hande van die skeidsregters en die wedstrydskeidsregter,” sê hy.

Faf du Plessis, Protea-kaptein, en dr. Mohammed Moosajee, spandokter, verskil egter van Smith.

“Ek was nie voor die penne (net voor die teepouse op die vierde dag) nie, maar ek het gehoor daar is baie persoonlike goed op die veld gesê, van albei kante af. Ek is nie seker wie dit begin het nie, maar dit moes op die veld reeds stopgesit geword het. As jy persoonlik raak, moet dit op die veld bly,” sê Du Plessis.

“Die skeidsregters speel ’n groot rol daarin om seker te maak die goed wat gesê word, ruk nie handuit nie. Ons het al in baie wedstryde gespeel waarin ons boulers gestraf is vir goed wat hulle kwytgeraak het.”

Smith stem duidelik nie saam met die Proteas se definisie van presies wat ’n mens as “persoonlik” kan klasifiseer nie.

“Ek dink nie dit was persoonlik nie, Faf kan sê wat hy wil,” sê Smith.

Du Plessis sê die voorval het nie ’n invloed op De Kock gehad nie.

Volgens Moosajee sal die skeidsregters, Kumar Dharmasena en Sundaram Ravi, en die wedstrydskeidsregter, Jeff Crowe, voor Dinsdagmiddag om 15:00 besluit of hulle die betrokke spelers gaan aankla. As hulle dit nie doen nie, moet die Internasionale Krieketraad besluit of hy die saak verder wil voer.

Die spelers kan strafpunte toegedien word vir hul optrede wat moontlik tot ’n skorsing kan lei.

“Die skeidsregters ondersoek die saak. Dít wat die Aussies gesê het, was sonder twyfel persoonlik,” sê Moosajee.

Hy wou egter nie sê presies wat gesê is nie.

Krieket Australië sê ook in ’n verklaring dat hy die voorval ondersoek. Dié liggaam sal kommentaar lewer sodra die ondersoek afgehandel is.

* Intussen is die Aussies se draaibalbouler Nathan Lyon daaraan skuldig bevind dat hy strydig met die gees van die spel opgetree het. Hy het die bal op AB de Villiers laat val nadat De Villiers Sondag uitgehardloop is in Suid-Afrika se tweede kolfbeurt.

Lyon is met 15% van sy wedstrydgeld beboet en een strafpunt opgelê, het die Internasionale Krieketraad Maandagaand in 'n verklaring bevestig. Volgens ESPNcricinfo het Lyon vir De Villiers intussen om verskoning gevra.

Meer oor:  David Warner  |  Quinton De Kock  |  Bekgeveg  |  Ikr  |  Proteas  |  Onderonsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.