Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kirsten dalk terug in Proteas se kleedkamer

Die Proteas kan Gary Kirsten terug in die kleedkamer in die komende toetskrieketreeks teen Engeland hê.

Krieket Suid-Afrika (KSA) se “nuwe bestuur” beplan om die voormalige Protea-breier in ’n ondersteunende rol te betrek, het die waarnemende uitvoerende hoof, Jacques Faul, Maandag bevestig.

Gary Kirsten / Foto: Gallo Images

Faul beleef ’n dolle Maandag nadat hy oor die naweek met die groot taak toevertrou is nadat Thabang Moroe voorwaardelik geskors is hangende ’n ondersoek teen hom na beweerde wangedrag.

“Ek gaan hom (Kirsten) vandag of later die week bel. Dit is meer ’n ding vir die direkteur van krieket (Graeme Smith kan Woensdag pen op papier sit), maar ons sit nou met ’n kort tydlyn,” sê Faul.

Engeland se eerste toerwedstryd is op 17 Desember en die eerste van die vier toetse teen die Proteas begin op 26 Desember in Centurion.

Om Kirsten te betrek was volgens espncricinfo.com een van nege voorstelle om KSA te herstruktureer van ’n groep met onder meer Norman Arendse, Ali Bacher, Smith en Kirsten self in die geledere.

Kirsten kan volgens berigte betrek word as mentor vir die Proteas se spandirekteur, Enoch Nkwe. Vincent Barnes was in Indië die Proteas se boulafrigter, terwyl Amol Muzumdar as kolfkonsultant betrek is.

Volgens espncricinfo.com kan oud-spelers soos Jacques Kallis en Mark Boucher ook later betrek word.

Die 52-jarige Kirsten het ook sy bereidwilligheid bevestig. “Ek is altyd bereid om te help op watter wyse ook al. Solank dit deur ’n behoorlike en volhoubare proses gedoen word, en nie net as ’n vinnige oplossing nie,” het hy aan Cricbuzz gesê.

Die steeds bekommerde krieketpubliek sal nie ’n beswaar hê daarteen nie.

Kirsten, tans breier van die Durban Heat, is ’n oudspeler en die Proteas was onder sy breierskap die voorste span ter wêreld.

Indië het voor dit onder hom die Wêreldbeker-toernooi gewen.

Onlangs was daar nog sprake dat Kirsten met die komende toetsreeks in Engeland se kleedkamer gaan wees. Hy was op die kortlys om die Engelse af te rig. Chris Silverwood is toe as hoofbreier aangewys.

Ashwell Prince, afrigter van die Cape Cobras en Cape Town Blitz, het intussen op Twitter gemor oor die moontlikheid dat Kirsten nou die spandirekteur kan bystaan.

“So basies, as die berigte korrek is, gaan die spandirekteur iemand nodig hê om hom leiding te gee. Inderdaad interessante tye.”

* Faul het voorts bevestig dat KSA ook Woensdag ’n vergadering met die Suid-Afrikaanse Spelersvereniging (Saca) sal hê.

Hy het oor die naweek gesê die beheerliggaam wil verhoudinge met Saca herstel.

Saca se uitvoerende hoof, Tony Irish, het die naweek uitgevaar omdat die president en die raad nie verantwoordelikheid vir krieket se grootste krisis geneem het nie en steeds vasklou.

Die oorblywende nege direkteure op die raad het die lede se uitgerekte raadsvergadering Vrydagaand oorleef.

Die president, Chris Nenzani, se termyn is in September met ’n jaar verleng.

Meer oor:  Ksa  |  Gary Kirsten  |  Toetskrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.