Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kirsten soek bietjie pret in MSL
Gary Kirsten sien uit daarna om weer in Suid-Afrikaanse krieket betrokke te wees. Foto: Getty Images

Sy betrokkenheid by die Mzansi-superliga (MSL) as die Durban Heat se hoofafrigter is nie noodwendig ’n aanduiding dat Gary Kirsten weer voltyds by Suid-Afrikaanse krieket betrokke wil raak nie.

“Dit is net ’n bietjie pret,” het Kirsten, wat die Proteas tussen 2011 en 2013 afgerig het, vandeesweek in Soweto by die MSL-spelersloting gesê.

Dit lyk dus onwaarskynlik dat Kirsten sy naam in die hoed sal gooi om voltyds in een van Krieket Suid-Afrika (KSA) se nuwe rolle, hetsy dié van direkteur van krieket of spandirekteur, aangestel te word.

Hy is nietemin opgewonde om by die Heat weer sy hand aan senior afrigting in Suid-Afrika te waag.

Dit is lekker om weer in Suid-Afrikaanse krieket betrokke te wees. Ek is sedert 2013 nie meer betrokke nie.
Gary Kirsten

“Dit is lekker om weer in Suid-Afrikaanse krieket betrokke te wees. Ek is sedert 2013 nie meer betrokke nie,” sê hy.

Sedert hy die tuig as Protea-afrigter neergelê het, het hy hom met die ontwikkeling van jong krieketspelers by die Gary Kirsten-akademie bemoei. Hy het ook sedert 2017 die Hobart Hurricanes in die Australiese Big Bash-liga afgerig en in daardie selfde jaar die Indiese Premierliga-span, die Royal Challengers Bangalore (RCB), begin brei. Hy is wel sy pos as RCB-breier kwyt.

Nou keer die voormalige Protea-aanvangskolwer terug na waar dit alles vir hom begin het.

“Krieket in Suid-Afrika is al deel van my lewe sedert ek tien jaar oud was. Ek is opgewonde om te sien hoe die jong talent daar uitsien.”

Hy het wel tred verloor met plaaslike krieket en het dus mense soos die voormalige Protea-aanvangskolwer Stephen Cook genader om hom met Dinsdag se MSL-loting te help.

“Om eerlik te wees, ek het nie eens baie plaaslike krieket gekyk die laaste ruk nie, buiten nou verlede jaar se MSL en hier en daar ’n eendagwedstryd.”

Hy weet wel watter belangrike rol die MSL in Suid-Afrikaanse krieket kan speel.

Die jong sneller Marco Jansen.

“Jong spelers kry die kans om skouers met internasionale spelers en van die beste plaaslike spelers te skuur. Die toekoms van Suid-Afrikaanse krieket kan baie by dié liga baat vind.”

Een van daardie jong spelers is die 19-jarige linkshandige sneller Marco Jansen. Hy is die Heat se groentjie – ’n speler wat jonger as 21 is en nog nie vir die Proteas gespeel het nie. Kirsten is opgewonde om te sien wat Jansen kan bied.

“In baie opsigte is dit ’n waagstuk, maar hy is ’n opwindende speler en hy speel vir SA A, so hy kan nie te sleg wees nie.”

Jansen sal kan kers opsteek by onder andere die voormalige Engelse veelsydige speler Ravi Bopara.

Bopara is in die derde kiesronde vir R750 000 deur die Heat-span opgeraap.

“Ons het verlede jaar met die kolf gesukkel en wou graag vroeg twee kolwers kies. Ons het dus vir Dane Vilas gekry, waaroor ons baie opgewonde is, en Bopara.

“Bopara het ’n skitterende seisoen in Engeland beleef en hy kolf op nommer 6, wat vir ons baie diepte op nommers 4, 5 en 6 gee, waar wedstryde gereeld gewen of verloor word.”

Durban Heat se groep:
Andile Phehlukwayo (Protea-sterspeler), Alex Hales (oorsese sterspeler), David Miller (behou), Dane Villas (oorsese Kolpak-speler), Ravi Bopara (oorsee), Keshav Maharaj (behou), Kyle Abbott (behou), Khaya Zondo (behou), Marco Jansen (groentjie), Daryn Dupavillon, Sarel Erwee (behou), Malusi Siboto, Prenelan Subrayan, Wiaan Lubbe en Shaun von Berg.

 

Meer oor:  Gary Kirsten  |  Marco Jansen  |  Durban  |  Proteas  |  Heat  |  Msl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.