Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kiwi’s dop Tahir-toets

Vir ’n span wat hom daarop roem dat hy sy huiswerk deeglik doen, is dit verstommend dat die Nieu-Seelanders Vrydag gekolf het asof hulle nog nooit vir Imran Tahir sien boul het nie.

Chris Morris was een van die groot uitblinkers in die Proteas se sege met 78 lopies. Hy het 2/10 in sy 3 boulbeurte geneem.Foto: Getty Images

Dié Suid-Afrikaanse bybreekbouler het 5/24 platgetrek om die Proteas te help om die T20-wedstryd teen die Kiwi’s op Eden Park in Auckland met 78 lopies te wen.

Suid-Afrika, wat gevra is om eerste te kolf, het 185/6 in sy 20 boulbeurte gemoker voor hy die Kiwi’s vir net 107 lopies uitgeknikker het.

Hoewel die Proteas alle fasette van die wedstryd oorheers het, was Tahir die grootste doring in Nieu-Seeland se vlees.

Hoogtepunte: Vyfster-vertoning deur Tahir

Hy het veral die tuisspan met sy goëlballe getroef en het drie van sy vyf paaltjies met sulke aflewerings platgetrek. Enige krieketliefhebber wat Tahir al in die verlede dopgehou het, sal weet hy is besonder lief daarvoor om sy goëlbal as ’n aanvalswapen te gebruik. In die verlede is hy selfs al gekritiseer omdat hy dit te veel doen en dus meer voorspelbaar raak.

Imran Tahir is as die Speler van die Wedstryd aangewys vir sy 5/24. Foto: Getty Images

Hoe dit ook al sy, die Kiwi’s het net ’n dag om ’n teenvoeter vir Tahir te vind. Die eerste van vyf wedstryde in die eendagreeks begin Sondagoggend om 03:00 (SA tyd) in Hamilton.

Die Proteas se T20-kaptein, Faf du Plessis, het hoë lof vir sy bybreker-strydros gehad.

“Hy is ’n groot rede vir ons sukses die afgelope 10 maande. Hy is deesdae só bestendig. Jy kan altyd op hom peil trek,” het Du Plessis by die nuuskonferensie ná die wedstryd gesê.

Dit was nie net Tahir wat met die bal uitgeblink het nie. Hy is goed bygestaan deur Chris Morris (2/10) en Andile Phehlukwayo (3/19). Die wisselvallige Wayne Parnell was die enigste SA bouler wat teleurgestel het.

Hy sukkel al die hele somer om opponerende kolwers se lopiekraan toe te draai. Ofskoon hy reg deur die reeks teen Sri Lanka paaltjies laat kantel het, het hy hopeloos te veel lopies met los aflewerings afgestaan.

Gegewe hoe goed Tahir op Eden Park gevaar het, moet die Proteas se breintrust dit dalk oorweeg om nóg ’n gewrigsdraaier, die linkshandige Tabraiz Shamsi, teen die Swartpette los te laat.

Wat hul kolfwerk betref, kan die Proteas ook tevrede voel.

Hashim Amla (62 van 43 balle; 9x4, 1x6) en Du Plessis (36) het 87 lopies om die tweede paaltjie versamel en die grondslag vir ’n hoogs mededingende telling gelê.

Die Proteas sal wel miskien effe ongelukkig wees dat hulle ná Amla en Du Plessis se goeie vennootskap nie by ’n totaal van 200 kon draai nie.

Dit was asof die kolwers in die laaste klompie beurte te aanvallend probeer wees het. ’n Goeie grenshou of twee is gevolg deur ’n waaghalsige hou en so is paaltjies weggegee.

Trent Boult, die Kiwi’s se gevaarlike hotklou-swaaibouler, verdien egter ook lof vir sy vertoning. Hy het slegs agt lopies in sy vier beurte afgestaan en boonop twee paaltjies laat kantel.

Hy sal gewis in die res van die reeks ’n bouler wees om mee rekening te hou.

Kliek hier vir die telkaart.

Meer oor:  Auckland  |  Eden Park  |  Imran Tahir  |  T20  |  Proteas  |  Nieu-Seeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.