Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kiwi’s skors ‘krieket-rassis’ vir 2 j.
Jofra Archer (regs) gesels met die voormalige Engelse sterkolwer Kevin Pietersen op die vyfde dag van die tweede toets teen die Proteas op Nuweland. Foto: Getty Images

Nieu-Seeland Krieket (NZC) het ’n toeskouer vir twee jaar geskors om enige plaaslike of internasionale wedstryde in die land by te woon nadat hy erken het dat hy die Engelse snelbouler Jofra Archer met rassistiese uitlatings beledig het.

Archer (24) het ná die eerste toets in November in Mount Maunganui gesê hy het onder rassebeledigings van ’n toeskouer op die Bay Oval deurgeloop. Die NZC het ’n klag by die polisie ingedien toe sy eie ondersoek misluk het om die toeskouer “onweerlegbaar te identifiseer”.

“Die polisie se ondersoek het ’n 28-jarige man van Auckland opgelewer wat aan hulle erken het dat hy verantwoordelik was vir die voorval,” sê die NZC in ’n verklaring.

“Hy het ’n mondelingse waarskuwing gekry vir die gebruik van neerhalende taalgebruik.

“Die NZC het die man sedertdien gekontak en ook aan hom geskryf om hom in te lig van sy skorsing van alle internasionale en plaaslike wedstryde in Nieu-Seeland tot in 2022.”

Indien die man sy skorsing verontagsaam en ’n wedstryd bywoon, sal hy van die stadion verwyder word en verdere regsaksie sal waarskynlik volg.

“Ons vra weer om verskoning aan Jofra en die Engelse spanbestuur vir so ’n onsmaaklike voorval en beaam sulke gedrag is heeltemal onaanvaarbaar,” sê NZC-woordvoerder Anthony Crummy.

“Dankie aan die polisie wat die verantwoordelike persoon geïdentifiseer het.”

Archer het die voorval as “steurend” beskryf, terwyl die Swartpette se kaptein, Kane Williamson, gesê het die beledigings was “afskuwelik” en hy hoop “so iets gebeur nooit weer nie”.

– Sportredaksie

Meer oor:  Toetskrieket  |  Nzc  |  Rassisme  |  Jofra Archer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.