Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Klaasen bieg: ‘Dít kos ons die wedstryd’

Die laaste vyf boulbeurte in Suid-Afrika én Pakistan se kolfbeurte het die Proteas Saterdagaand in die eerste T20-wedstryd op die Wanderers duur te staan gekom.

Pakistan het dié wedstryd met vier paaltjies gewen. Suid-Afrika het eerste gekolf en 188/6 in sy 20 beurte aangeteken. Pakistan (189/6) het die telling met die voorlaaste bal van die wedstryd bereik.

Suid-Afrika was in sy 15de beurt sterk op koers na ’n telling van meer as 200, maar kon net 37 lopies in die laaste vyf beurte aanteken. Pakistan het 57 lopies in dieselfde tydperk in sy beurt geslaan.

Heinrich Klaasen, die Protea-kaptein wat 50 van 28 balle geslaan het, sê die kolwers is meer teleurgesteld as die boulers.

“Veral met die kolf het ons teleurgestel in die laaste vyf beurte. Ek en Pite (van Biljon, 34 van 28 b) was in ’n goeie posisie om die wedstryd weg te neem van Pakistan. Ongelukkig is ons kort ná mekaar uit. Ons was die kolwers wat in was en dit was ons taak om groot te gaan,” sê Klaasen.

“Ek dink nie ons het soveel met die bal drooggemaak in die doodsnikke nie. Daar was hier en daar swak uitvoering, maar die res was goed. Ons was ook hier en daar ongelukkig, maar ons doodsnik-kolfwerk benodig verfyning.”

Hy het verduidelik waarom die twee debutante, Sisanda Magala (0/35 in drie boulbeurte) en Lizaad Williams (1/39 in 3.5 bbe.) die laaste twee boulbeurte geboul het.

“Hulle is ons twee beste streepbal-boulers. Dit is iets waaraan ons hard gewerk het en jy moet jou planne vertrou. Elke bouler het ’n taak om te verrig en ons moet eenvoudig begin om beter uit te voer.”

Dit was Saterdag weer, soos in die reeks in Pakistan in Maart, die paaltjiewagter/kolwer Mohammad Rizwan (74*, 54 balle) wat die Proteas gekasty het. Wat maak van hom so ’n doring in Suid-Afrika se vlees?

“Hy gebruik die hoeke van die veld baie goed. Hy is nie ’n kragkolwer nie. Ons moet uit sy sterk gebiede bly, wat hoofsaaklik aan die bykant is.”

Die tweede T20-wedstryd word Maandag ook op die Wanderers beslis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.