Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Klaasen stap voor vir Spartans

Die leisels van die Tshwane Spartans in vanjaar se Mzansi-superliga (MSL) word deur Heinrich Klaasen vasgehou.

Nadat hy verlede jaar ’n baie vergeetbare eerste MSL vir die Durban Heat gehad het, is Klaasen terug in Centurion en neem hy die kapteinskap van die Spartans oor by AB de Villiers.

Heinrich Klaasen, hier agter die penne in ’n T20-stryd teen Pakistan, is die Tshwane Spartans se nuwe kaptein. Foto: Getty Images

Hy voel ’n groot bate vir die Spartans, wat net soos sy vorige span in Durban een van die agterosse in die kraal was in die openingstoernooi verlede jaar, is die feit dat hulle baie plaaslike spelers, wat ook hul krieket vir die Titans speel, by die span van Tshwane het.

“Ons het ouens soos AB, Morné Morkel, Theunis de Bruyn, Dean Elgar, Lungi Ngidi, Roelof van der Merwe en Tony de Zorzi en die feit dat hulle so goed saam vertoon het in die verlede vir die Titans, sal in ons guns tel hier by die Spartans,” sê Klaasen, wat in die derde toets in Indië in Ranchi verlede maand sy toetsdebuut vir die Proteas gemaak het.

Klaasen beskryf homself as ’n baie ontspanne soort van kaptein. Hy is nie onbekend in daardie rol nie en het enkele seisoene gelede die Titans aangevoer in die plaaslike meerdaagse reeks. Deurdat hy toe witbal-krieket vir Suid-Afrika begin speel het en nie so gereeld beskikbaar was vir die Titans nie, is die kapteinskap toe van hom weggeneem.

Nou het Mark Boucher egter weer vir vanjaar se MSL besluit hy is die speler wat moet voor stap.

“Ek het vier jaar lank onder Albie Morkel se kapteinskap gespeel en skoei my eie leierskap op die veld op hom. Hy was ook ’n baie rustige karakter en dit is hoe ek wil wees. Ek luister na elkeen se idees op die veld en dit is beslis nie ’n geval dat net my woord wet is nie. Jy moet ontvanklik wees vir ander idees en insette en met ouens soos AB, Dean, Morné en Roelof daar, is daar genoeg ervaring om my by te staan.”

Klaasen sê sy kolfposisie in die span kan ook vloeibaar wees en dat hy nie net altyd op dieselfde tydstip sal instap nie.

“Dit hang af wat die situasie van my verlang. Ons het veelsydige kolwers wat op en af in die orde gebruik kan word,” sê hy.

Die Spartans skop hul MSL-veldtog Saterdag in Durban af teen Klaasen se vorige span, die Heat, en hul eerste tuiswedstryd in Centurion is aanstaande Woensdag teen die Nelson Mandela Bay Giants.

Meer oor:  Mslt20  |  Mzansi-Superliga  |  Msl  |  Heinrich Klaasen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.