Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Klaasen wil draaiballe tot arsenaal voeg

Die Titans se krieketspan fokus die komende seisoen daarop om die eerste plaaslike franchise te word wat al drie trofeë in een seisoen verower.

Heinrich Klaasen in die nette op die Proteas se onlangse toer in Sri Lanka. Foto: Gallo Images

Só sê Heinrich Klaasen, wat die Titans in die meerdaagse reeks sal aanvoer.

Die afgelope drie seisoene het die Titans telkens twee uit drie bekers in sy trofeekas gehad, maar is oorgehaal om dit hierdie seisoen ’n driekuns te maak.

Die span van Centurion het onlangs teruggekeer van ’n spanboutoer op die Seychelle, waar hy ook in ’n T20-kragmeting met ’n plaaslike span gespeel het.

“Die geriewe daar is maar gebrekkig en ons het op ’n mat-kolfblad gespeel. Tog was daar baie belangstelling en sowat duisend toeskouers het opgedaag.

“Dit was vir ons belangrik om die spel na daardie deel van die wêreld te versprei,” het Klaasen gesê.

Volgens hom was die week op die Seychelle baie bedrywig. Die spelers was bedags om 06:00 al uit die vere om hul aktiwiteite te begin.

Ek het ook in die Indiese Premierliga (IPL) gesien jy kan nie net ’n kolwer wil wees om gereeld speelkans te kry nie. Jy moet veelsydig wees.
Heinrich Klaasen

“Vrye tyd was daar nie veel nie, maar dit was tog ’n wonderlike ervaring om in daardie helder see saam met die visse te swem en hulle so duidelik hier om jou te sien,” vertel hy.

Hierdie spanbousessie het die Titans die geleentheid gegee om sy planne en doelwitte vir die seisoen uit te pluis.

Heinrich Klaasen sê met Quinton de Kock voor hom in die tou as Protea-paaltjiewagter, besef hy dat hy ander vaardighede moet leer om ’n permanente lid van die nasionale span te word. Foto: Gallo Images

“Ons het gelukkig nie ernstige sake wat bespreek moet word nie en dit gaan eerder daaroor om enkele verstellings te maak om ons mikpunte te bereik.

“Ons kultuur is ’n maklike een om by in te pas en daar sal goeie wedywering om plekke wees. Met soveel ouens wat by die nasionale opset betrokke is, vind jy soms dat die span taamlik van spelers verander. Wie ook al die kans kry, is altyd gretig om te bewys dat hulle dit verdien om daar te wees,” sê hy.

Met die paaltjiewagter in die nasionale span, Quinton de Kock, wat op 25-jarige ouderdom twee jaar jonger as hy is, sê Klaasen hy het besef hy sal ’n ekstra pyl in sy koker moet kry om ook deel van die Proteas te wees.

“Daarom werk ek nou ook aan my draaiboulwerk. Ek het ook in die Indiese Premierliga (IPL) gesien jy kan nie net ’n kolwer wil wees om gereeld speelkans te kry nie. Jy moet veelsydig wees,” sê Klaasen, wat ook diens agter die paaltjies kan doen.

Hy erken dat hy in sy vertonings op die onlangse toer na Sri Lanka en ook teen Indië teen die einde van verlede seisoen teleurgestel was.

“Daar was een of twee goeie kolfbeurte, maar in die geheel weet ek ek kan veel beter vaar en moet baie harder werk.

“Hopelik kry ek in die komende reeks teen Zimbabwe weer kans om te wys waartoe ek regtig in staat is,” sê hy.

Meer oor:  Titans  |  Meerdagreeks  |  Heinrich Klaasen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.