Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Shaun sonder kontrak weens ‘transformasie’

Die draaibouler Shaun von Berg sal dalk genoop wees om krieket te groet nadat die Knights hom gepos het omdat hulle glo voortaan op “transformasie en naatboulers” wil fokus.

Shaun von Berg gaan moontlik volgende jaar ophou krieket speel nadat die Knights hom uit die bloute nie gekontrakteer het nie. Foto: Gallo Images

Dít kom nadat Knights hom na bewering vroeër by meer as een geleentheid die versekering gegee het dat hy wél in die herstruktureerde plaaslike stelsel ’n kontrak sal kry.

Von Berg was die afgelope seisoen die Knights se voorste paaltjievraat en het die meerdagreeks met die tweede meeste paaltjies afgesluit.

“Die kontraktering het op 15 Maart begin. Die Knights het op 23 Maart gesê hulle soek my nie meer nie. Hulle gaan op transformasie fokus en wil naatboulers kontrakteer,” het die 34-jarige bybreker aan Netwerk24 gesê.

Johan van Heerden, Knights se uitvoerende hoof, het bevestig dat transformasie-vereistes ’n groot rol in die besluit gespeel het.

Von Berg sê die nuus het hom geruk.

Ek het drie keer vir die Knights gevra of hulle my sal laat weet as hulle my nie meer wil hê nie sodat ’n mens ’n ander plan kan maak. Hulle het twee of drie keer vir my gesê ek is in, ek speel.

“Ek was nogal geskok, want ek was hul beste bouler vanjaar. Dis nie regtig die punt nie, die punt is dat hulle my nie genoeg tyd gegee het om met ’n ander span (oor ’n kontrak) te praat nie,” het hy gesê.

“Die ander spanne het klaar omtrent al hul kontrakte gefinaliseer en die ouens geïdentifiseer wat hulle wil hê, want dit is ’n week nadat die onderhandelingsfase begin het. Ek mag heel moontlik nie eens meer krieket speel nie.

“Ek het drie keer vir die Knights gevra of hulle my sal laat weet as hulle my nie meer wil hê nie sodat ’n mens ’n ander plan kan maak. Hulle het twee of drie keer vir my gesê ek is in, ek speel.”

Kontraktering werk vanjaar anders omdat plaaslike krieket van volgende seisoen af herstruktureer word.

Vanaf 1 Mei sal die land se 15 provinsiale spanne in twee afdelings ingedeel word, met agt spanne in Afdeling 1 en ses spanne in Afdeling 2.

Die ses gewese franchises bly in Afdeling 1 in die gewaad van hul provinsiale spanne (Knights word Vrystaat, Warriors OP, ensovoorts), met Boland en Noordwes wat bykom.

Die eerste fase van kontraktering het van 15 tot 29 Maart geduur en elke Afdeling 1-span het die kans gehad om hul eerste agt kontrakte te finaliseer.

Nou sit Von Berg hoog en droog.

“Dit is swak van hulle. Daar was selfs in ’n stadium sprake dat hulle vir my ’n kontrak van twee jaar sou gee. ’n Week later, toe drop hulle my.

“Dis moeilik, jy sit elke dag en wonder wat gaan gebeur. Ek is nogal kwaad, want ek het in November my huis in Pretoria verkoop en Bloem toe getrek.

As krieketspeler veg jy elke liewe dag op die veld om goed te vertoon en jou werk te behou, maar as jy weer sien, dan steek hulle jou in die rug van die administratiewe kant af.

“Ek moet weer ’n trek reël en ek weet nie watter kant toe nie. Gaan ek noord, gaan ek suid, gaan ek wes . . . ek weet nie.

“Hulle besef nie wat hulle aan ’n mens doen nie. Ek het nie eens ’n ander span gesoek nie. As krieketspeler veg jy elke liewe dag op die veld om goed te vertoon en jou werk te behou, maar as jy weer sien, dan steek hulle jou in die rug van die administratiewe kant af. Hulle voel ’n veer vir wat in jou lewe aangaan.”

In die nuwe provinsiale stelsel sal ongeveer 75 minder kontrakte beskikbaar wees. Die spanne is tans in die tweede fase van kontraktering en besig om die res van hul groepe te finaliseer. Elke span mag 16 spelers kontrakteer, van wie een ’n groentjie-kontrak moet kry. Die 16 gekontrakteerdes sluit nie nasionaal gekontrakteerde spelers in nie.

Daar is dus nog ’n kans dat Von Berg in die tweede kontrakteringsvenster opgeraap kan word, maar hy sê die probleem is dat spanne reeds besluit het hoe hul groepe gaan lyk.

“Die spanne het reeds tentatief die ouens gekry wat hulle wou hê. Hulle het reeds ’n verklaring van voorneme onderteken.

“Ek wag nou maar vir twee spanne om vir my te laat weet wat hul plan is en of hulle ’n plan kan maak, maar ek het (verlede week) heelweek met hulle gepraat en hoe langer die tyd verbygaan, hoe minder goed lyk dit.”

Daar is ’n kans dat hy plek kan kry by ’n span in Afdeling B, maar sy ideaal is om in Afdeling A te bly.

“Daar is een (Afdeling B-)span waarheen ek dalk kan gaan, maar hulle kan my nog nie ’n antwoord gee nie. Ek sou dit uiteraard verkies om in Afdeling A te bly. My laaste opsie sou Afdeling B wees, ás ek daar kan regkom.

“Dis vir my skokkend dat ek 420 eersterangse paaltjies het, die tweede meeste paaltjies wat in die meerdagreeks geneem is, en nou kan ek nie eens ’n span kry nie.”

Van Heerden het gesê weens die feit dat die aankondiging van die herstrukturering eers in Januarie was en die agt Afdeling A-spanne eers drie weke gelede aangekondig is, was dit moeilik om te beplan.

“Jou kontrakte het van 17 tot 15 (16 as die groentjie-kontrak bygereken word) verminder. Daar sou dus altyd twee ouens in die gedrang wees. So hoe maak ’n ou die goed werk? Dit is bitter moeilik,” het Van Heerden gesê.

“Natuurlik is transformasie-eienskappe betrokke, maar dit is die lewe waarin ons is. Ek wens ek kon omdraai en sê die situasie waarin ons onsself bevind, rondom die Suid-Afrikaanse uniekheid wat die samestellings van spanne betref, was anders. Maar dit is nie waar ons onsself bevind nie en ons moet by die reëls hou.”

In plaaslike krieket mag daar slegs vyf wit spelers per elftal op die veld wees.

Van Heerden het gesê dit is waar dat Von Berg eers op 23 Maart in kennis gestel is, maar dit was die vroegste wat die raad kon vergader. Hy het Von Berg gebel die oomblik toe hy uit daardie vergadering gestap het.

“Kan jy voor die tyd beloftes aan die ouens maak? Nee, jy kan nie. Tot en met vyf minute voor die einde van daardie vergadering wat ons gehad het, was hy nog in die planne.

“Maar as ’n ou die (span-)balans moet uitwerk waarin ons onsself bevind, dan sien jy dit kan nie werk nie.

“Dit is die lewe van ’n krieketspeler. Was hy vir ons goed? Natuurlik was hy vir ons goed. Daar was ’n komitee wat oor dié goed besluit.

“Persoonlik sou ek hom graag wou gehad het, ek sou hom in elke span van my gekies het. Ek is ongelooflik hartseer, maar ons kon hom nie akkommodeer nie.

“Hy is ook ’n goeie ou. Hy is getroud, maar as ek ’n dogter gehad het, kon hy haar maar kry.”

Andrew Breetzke, die uitvoerende hoof van die SA Spelersvereniging (Saca), het bevestig dat Von Berg die saak na dié vereniging verwys het.

* Von Berg se week van onsekerheid is laat Dinsdagmiddag beëindig toe hy ’n kontrak met Boland beding het. “Hulle het uit hulle pad gegaan om my by hulle te kry. So dankbaar,” het Von Berg Dinsdagaand aan Netwerk24 gesê.

Meer oor:  Shaun Von Berg  |  Kontrak  |  Krieket  |  Transformasie  |  Knights
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.