Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kohli betreur aanvalle in Christchurch

Die krieket- en sportwêreld is geruk deur die aanvalle op twee moskees Vrydag in Christchurch, Nieu-Seeland, waarin 49 mense gesterf het en waarvoor vier mense in hegtenis geneem is.

Nieu-Seeland en Bangladesj het Vrydag die derde kriekettoets gekanselleer.

Kane Williamson (regs), Nieu-Seeland se krieketkaptein, praat met Bangladesj se Mahmudullah ná die tweede toets tussen die spanne. Foto: Getty Images

Een van die aanvalle was op ’n moskee wat deur die Bangladesj-span besoek is.

Die Swartpette het op Twitter bevestig die besluit om die wedstryd te kanselleer is gesamentlik deur albei spanne geneem en bygevoeg dat alle spelers en beamptes veilig is.

Die derde en laaste toets sou Saterdag op die Hagley Oval in Christchurch begin het. Die Kiwi’s het die eerste twee toetse in die reeks gewen.

Spelers en beamptes van die Bangladesj-span het net buite die Masjid Al Noor-moskee opgedaag om te bid toe die skietery plaasgevind het. Hulle is gewaarsku om nie die moskee binne te gaan nie.

“Ons is gewalg en geskok,” sê David White, Nieu-Seeland se krieketbaas.

“Ek het met my eweknie in Bangladesj gesels en ons het saamgestem dit is nie gepas om in hierdie tyd krieket te speel nie.”

Dave Richardson, die uitvoerende hoof van die Internasionale Krieketraad (IKR), het in ’n verklaring gesê die IKR steun die besluit.

“Ons gedagtes en opregte medelye is by die families en vriende van diegene wat deur die verskriklike voorval in Christchurch geraak is,” sê Richardson.

“Albei spanne, personeel en wedstrydbeamptes is veilig en die IKR ondersteun die besluit ten volle om die toets af te las.”

Virat Kohli, die Indiese kaptein, het op Twitter gesê die voorval is “skokkend en tragies”.

“My hart gaan uit na almal wat deur die lafhartige daad in Christchurch geraak is,” twiet Kohli.

“My gedagtes is ook by die Bangladesjiese span. Bly veilig.”

Jimmy Neesham, ’n Nieu-Seelandse veelsydige speler, het ook sy afgryse oor die voorval uitgespreek.

“Vir so lank het ek (sulke) gebeurtenisse om die wêreld van ver af dopgehou en naïef gedink ons is op ’n manier anders in ons klein hoekie van die wêreld, op die een of ander manier veilig,” skryf Neesham op Twitter.

“Vandag is ’n aaklige dag. Vies en hartseer begin nie eens om dit te beskryf nie.”

Ish Sodhi, ’n Nieu-Seelandse bybreekbouler, sê hy is hartseer saam met al die families wat geraak is.

“F*k dit,” het Sodhi getwiet.

Die Kiwi-snelbouler Mitchell McClenaghan sê die voorval raak baie meer mense as net Nieu-Seelanders.

“Oral in die wêreld moet hierdie bullsh*t end kry,” het McClenaghan getwiet.

Die voormalige Australiese veelsydige speler Shane Watson het ook sy simpatie met die families van die slagoffers uitgespreek.

“Watter skande is hierdie ou (die skieters wat van Australiese afkoms is) nie vir die mensdom nie?” skryf Watson.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.