Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kohli sê AB het nie sy gelyke in IPL
AB de Villiers kerf Saterdag nog ’n aflewering grens toe in sy beurt van 55 (van 22 aflewerings) in die Royal Challengers Bangalore se sege oor die Rajasthan Royals in die Indiese Premierliga. Foto: @IPL (Twitter)

Die voormalige Protea-kolwer AB de Villiers is Sondag groot lof toegeswaai deur die kaptein van die Royal Challengers Bangalore (RCB), Virat Kohli.

Die kanonkolwer het Saterdag nogmaals met ’n verbluffende vertoning vorendag gekom om ’n oorwinning uit die kake van ’n gewisse loesing teen Rajasthan Royals in die Indiese Premierliga (IPL) te red.

Sy 55* het van net 22 aflewerings gekom en RCB oor die wenstreep gehelp toe die wenteiken van 178, wat Steve Smith se Royals gestel het, gans te ver gelyk het.

“AB is die speler wat die grootste impak op die gang van IPL-wedstryde het. Sonder enige twyfel. Hy het nie sy gelyke nie,” het Kohli Sondag gesê.

AB is die speler wat die grootste impak op die gang van IPL-wedstryde het. Sonder enige twyfel. Hy het nie sy gelyke nie.
Virat Kohli

De Villiers se wilgerlat was die afgelope paar beurte ’n verwoestende wapen.

Hy is reeds deur sy kaptein na “Superman” herdoop nadat hy verlede naweek 73 van net 33 aflewerings getimmer het om die RCB se oorwinning met 82 lopies oor die Kolkata Knight Riders te verseël.

Saterdag was hy terug om nog straf uit te deel.

“AB laat hom altyd lei deur die wedstrydsituasie. Hy sal dit vinnig opsom en sy spel daarby aanpas. Ons het dit al keer op keer sien gebeur.

Virat Kohli, die kaptein van die Royal Challengers Bangalore. Foto: Getty Images

“Na my mening is daar nie ’n speler in die IPL wat soveel impak op wedstryde het soos hy nie. Hy is ’n wedstrydwenner sonder gelyke. Om 50-plus lopies in vier beurte te jaag en af te rond (met ’n ses) soos hy dit gedoen het, sit nie in enigeen se broek nie,” het Kohli voortgegaan.

“As AB kolfblad toe stap, kan jy maar weet jou kanse om ’n wedstryd te wen, ongeag in watter benarde posisie jy ook al is, word oombliklik verdubbel.”

Nie veel beroepswedders sou ’n geldjie op RCB gewaag het om te wen toe die span Saterdag 53 lopies van 20 aflewerings moes aanteken nie.

De Villiers het agter ander planne gehad.

Die arme naatbouler Jaydev Unadkat moes aan die begin van die 19de beurt dit ontgeld met drie sesse agtereenvolgens.

“Ek is geweldig op my senuwees as ek ’n teiken moet jaag. Daar maal allerhande snaakse gedagtes deur my kop. Ek probeer dit maar wegsteek,” het De Villiers ná sy skitterbeurt gesê.

Ek wil darem aan die eienaars (van die IPL-span) wys ek was ’n goeie belegging.
AB de Villiers

“Maar ek is trots op my vertoning. Ek wil graag hê RCB moet elke wedstryd wen en as ek ’n rol daarin kan speel, des te beter. Ek wil darem aan die eienaars (van die IPL-span) wys ek was ’n goeie belegging.”

“Ek wil my stempel so gou moontlik afdruk as ek voor die penne gaan staan. Ek wil die boulers wys ek gaan hou by my wedstrydplan. As jy my nie gou uithaal nie, hou ek ’n bedreiging vir jou in,” het die Suid-Afrikaner bygevoeg. - TeamTalk

Kyk hier hoe moker De Villers die Rajasthan Royals aan flarde:

Meer oor:  Virat Kohli  |  Ab De Villiers  |  Suid-Afrika  |  Indie  |  Krieket  |  Kanonkolwer  |  Royal Challengers Bangalore  |  Ipl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.