Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kolpak-kontrak kos Olivier sy kans op prys

Die voormalige Proteas-snelbouler Duanne Olivier se besluit om ’n Kolpak-kontrak op te neem, het teen hom getel om vir enige pryse deur Krieket Suid-Afrika in aanmerking te kom.

Olivier, wat kort ná die toetsreeks teen Pakistan vroeër vanjaar ’n Kolpak-kontrak gesluit het, is nie in die afdeling Toetsbouler van die Jaar benoem nie en het ook nie vir die Aflewering van die Jaar of selfs Nuweling van die Jaar ’n benoeming gekry nie.

Duanne Olivier/Foto: Gallo Images

Dít nadat hy dié seisoen een van die voorste toetsboulers vir die Proteas was. Hy het veral in die toetsreeks teen Pakistan uitgeblink en reeds in die eerste wedstryd verlede jaar Desember vyf paaltjies platgetrek.

Internasionaal het net een snelbouler in die 2018/’19-seisoen ’n beter gemiddeld as Olivier gehandhaaf: die Indiese sensasie Jasprit Bumrah. Bumrah het ’n gemiddeld van 17.00 gehandhaaf teenoor Olivier se 17.12.

KSA het gister bevestig die besluit om die snelboul-sensasie nie op die kortlys te hê nie, het te make het met sy besluit om sy rug op die Proteas te keer.

“Die beoordelaarspaneel het besluit om sy naam weg te laat van die lys van benoemdes omdat hy besluit het om Kolpak te gaan,” het ’n woordvoerder van KSA aan Rapport gesê.

Pleks van Olivier, wat teen Pakistan ’n allemintige 24 paaltjies platgetrek het, is Dale Steyn en Kagiso Rabada as snelboulers in dié kategorie benoem met die draaier Keshav Maharaj die ander bouler.

Olivier sou ook in die Aflewering van die Jaar-kategorie ’n benoeming kon kry, met die blits wat Pakistan se kolwers oorhoops gehad het met sy opslagballe waarmee hy hulle in Desember en Januarie gepeper het.

Herschelle Gibbs, voormalige sterkolwer van die Proteas, het gesê hoewel Olivier op meriete verdien het om op die lys te wees, is die regte besluit geneem omdat hy oorsee uitgewyk het.

  • Van die benoemdes:

Proteas se eendagspeler van die Jaar: Faf du Plessis, Imran Tahir, Andile Phehlukwayo, Kagiso Rabada, Rassie van der Dussen.

Toetsspeler van die Jaar: Quinton de Kock, Faf du Plessis, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada, Dale Steyn.

Proteas se T20-speler van die Jaar: Reeza Hendricks, David Miller, Andile Phehlukwayo, Rassie van der Dussen

Aflewering van die Jaar: Keshav Maharaj, Andile Phehlukwayo, Vernon Philander, Kagiso Rabada.

Proteas se Speler van die Jaar: Quinton de Kock, Faf du Plessis, Imran Tahir, Kagiso Rabada.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.