Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kolpak-roete gee hom rigting, sê Wiese
David Wiese lê die langsteel in vir Sussex in ’n T20-wedstryd in Engeland. Foto: Getty Images

Vergeet van ’n miljoen. Waarmee die Suid-Afrikaanse krieketspan nou kan doen, is ’n paar van die Kolpak-spelers wat oor die laaste paar jare hul heil in Engeland gaan soek het.

Dink maar aan Simon Harmer, Kyle Abbott, Duanne Olivier en Rilee Rossouw.

Nog een van die name op die lang lys wat die Kolpak-roete gestap het, David Wiese, het vandeesweek by SuperSportpark in Centurion die sluier gelig oor hoe hy die lewe met die etiket as Kolpak-speler ervaar.

Die 34-jarige Wiese, wat ses eendagstryde en 20 T20-kragmetings vir Suid-Afrika gespeel het, erken om die groot stap te gedoen het om sy wortels hier te lig en in Engeland te gaan speel, het van hom ’n baie beter speler gemaak.

“Bloot uit ’n krieket-oogpunt, het my spel geweldig gegroei. Dit was wel ’n groot aanpassing, want jy is nie soos hier in jou gemaksone nie.

“Jy kan ook nie daar in Engeland dink jy kan net speel soos wat jy hier gedoen het nie. Ek het dit aanvanklik op die harde manier geleer en dit het veral in my eerste seisoen daar groot aanpassing geverg,” gee die veelsydige Wiese toe.

Jy kan ook nie daar in Engeland dink jy kan net speel soos wat jy hier gedoen het nie. Ek het dit aanvanklik op die harde manier geleer en dit het veral in my eerste seisoen daar groot aanpassing geverg.
David Wiese

“Jy leer ’n paar harde lesse langs die pad, maar dit maak van jou ’n baie beter speler en ook mens en ek is glad nie spyt daaroor nie.

“Van die grootste aanpassings vir my was om daar net met die Duke-bal te speel en nie met die Kookaburra soos hier in Suid-Afrika nie. Veral in die eerste helfte van die seisoen, wanneer die toestande nog nat is, is daar altyd beweging op die blaaie en swaai die bal vir die volle 80 boulbeurte.

“Die blaaie is ook stadiger, maar in die tweede helfte van die seisoen raak die toestande bietjie makliker.

“Die feit dat ek nie onder internasionale druk was nie en bloot net vir die liefde van die spel kon speel, was vir my belangrik.

“Al het ons die etiket as Kolpak-spelers, dwing die Suid-Afrikaners daar respek af, want ons het ’n goeie werketiek en van die voorste tien spelers daar in die graafskap-opset was die helfte Suid-Afrikaners.”

Wat het hom laat besluit om die Kolpak-roete te volg?

“Ek het gevoel ek begin bietjie stagneer by die Titans en wat die Proteas betref, het Andile Phehlukwayo op die toneel verskyn, asook Dwaine Pretorius en Chris Morris en was ek eintlik uit die prentjie as veelsydige speler in witbal-krieket. Ek het gevoel die deur het vir my toegegaan,” sê hy.

Hy speel vir Sussex in Hove en sê daar word na hulle verwys as “Sussex by the sea.”

Dit is ’n lekker opset daar en een van sy spanmaats is die nuwe Engelse snelboul-sensasie Jofra Archer.

David Wiese vir die Proteas in aksie tydens die T20-Wêreldtoernooi in 2016. Foto: Getty Images

“Elke bouler is jaloers op Jofra met sy gemaklike boulaksie en die vaart en wip wat hy kry. Ek kan steeds nie verstaan waar kom al sy vaart en wip vandaan nie. Hy het die perfekte boulaksie. Hy gaan op hul toer hierheen later vanjaar ’n groot gevaar wees,” voorspel Wiese.

“Dit gaan moeilik wees om blaaie voor te berei om hom te neutraliseer, want ons blaaie gaan sy kos wees. Engeland het ’n goed gebalanseerde span en hulle dek alle opsies. Dit gaan nie maklik wees om hulle te klop nie,” glo hy.

Wiese sluit nie die moontlikheid uit dat hy dalk nog sy krieketloopbaan weer hier in Suid-Afrika by die Titans sal wil afsluit nie.

“Hier plaaslik was die Titans my lewe en daar is steeds ’n versugting om wel nog eendag weer hier te kan speel,” sê hy.

Meer oor:  David Wiese  |  Engeland  |  Graafskapkrieket  |  Krieket  |  Protea
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.