Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kolpak-spelers ‘frustreer’ ook Engelse

Kolpak-spelers is ook vir die Engelse Krieketraad (ECB) ’n doring in die vlees, sê Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika (KSA) se direkteur van krieket.

Smith het vandeesweek bevestig dat hy informele gesprekke met Tom Harrison, die ECB se uitvoerende hoof, oor Kolpak-spelers gehad het.

Tom Harrison, die uitvoerende hoof van die Engelse Krieketraad (ECB). Foto: Getty Images

Mark Boucher, die Protea-afrigter, het verlede week aangekondig daar is “gesprekke op hoë vlakke” om maniere te vind om spelers wat Kolpak-kontrakte het, weer vir Suid-Afrika beskikbaar te kry.

“Daar was absoluut geen gesprekke oor ’n spesifieke speler, of om ’n sekere speler terug te kry nie,” het Smith vandeesweek by KSA se hoofkantoor in Johannesburg gesê.

“Ek het tydens die eerste toets met Tom Harrison gepraat en die ECB het ook hul frustrasies met Kolpak-spelers, want hulle bestee groot geld aan spelers wat nooit vir Engeland sal speel nie.

“Ek wou graag die proses verstaan en wat gaan gebeur met Brexit. My doelwit is om ons beste spelers in die stelsel te hou. Dit was dus bloot om te verstaan hoe dit gaan werk en wat Tom se siening oor al hierdie kwessies is.”

Die Kolpak-reël het sy oorsprong in 2003, toe die Slowaakse handbalspeler Maros Kolpak ’n hofsaak gewen het nadat hy “onregverdiglik” deur ’n Duitse klub van sy kontrak onthef is weens ’n beperking op oorsese spelers.

Volgens dié beslissing het enigeen met ’n werkpermit van ’n land met handelsbetrekkinge met ’n land wat aan die Europese Unie (EU) behoort, dieselfde regte as ’n EU-werknemer. In krieketterme beteken dit dat ’n speler vir ’n Kolpak-ooreenkoms oorweeg kan word, mits hy instem om vir die duur van die kontrak nie vir sy geboorteland te speel nie.

Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika (KSA) se direkteur van krieket. Foto: Getty Images

Sedert Claude Henderson in 2004 die eerste krieketspeler geword het om ’n Kolpak-kontrak te onderteken, het 42 Suid-Afrikaanse krieketspelers in sy spore gevolg.

Die huidige Kolpak-reël moet vanjaar hernieu word.

Dit is nog onduidelik hoe Brexit die Kolpak-reël gaan beïnvloed, maar aangesien die reël aan die EU gekoppel is en Engeland dan nie meer gaan deel vorm van die EU nie, sal Suid-Afrikaanse spelers waarskynlik nie meer Kolpak-kontrakte met Engelse graafskapspanne kan onderteken ná Brexit nie.

Faf du Plessis, die Protea-kaptein, wil hê daar moet ’n manier gevind word om oorsese spelers vir die Proteas beskikbaar te stel.

“Ek is oop vir dit, beslis. Ek weet nie hoe dit sal werk of hoe lank dit sal neem nie. Dit is belangrik dat ons (’n ooreenkoms bereik), soortgelyk aan die rugby, hoe hulle oorsese spelers terug in hul groep ingebring het,” sê Du Plessis.

“Dit het die Springbokke sterker gemaak. Dan het jy ’n groter groep van goeie spelers waaruit jy kan kies.”

As die reël nie verander nie, sal Kolpak-spelers soos Duanne Olivier, Kyle Abbott, Simon Harmer en Stiaan van Zyl, om ’n paar te noem, nie weer vir die Proteas kan speel nie.

Meer oor:  Graeme Smith  |  Ksa  |  Toetskrieket  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Kolpak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.