Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kolpak word vloekwoord in SA krieket

Wayne Parnell se besluit om internasionale krieket die rug toe te keer het opnuut die kollig laat val op die uittog van senior spelers en die knou wat dít die diepte van Suid-Afrikaanse krieket toedien.

Parnell (29) het vandeesweek ’n kontrak met die Engelse graafskap Worcestershire as ’n Kolpak-speler gesluit en is dus nie meer vir die Proteas beskikbaar nie.

Wayne Parnell gaan nou ook die Kolpak-roete volg. Foto: Deaan Vivier

Dié veelsydige speler het verlede Oktober in ’n toets teen Bangladesj die laaste keer vir Suid-Afrika gespeel.

Parnell is die jongste op ’n lang lys van spelers wat die laaste paar jaar die Proteas die rug toegekeer het. Amper almal van hulle – Kyle Abbott, Rilee Rossouw, Colin Ingram, Simon Harmer, Stiaan van Zyl, Dane Vilas, Heino Kuhn en Hardus Viljoen – het al vir Suid-Afrika in een of meer van die drie weergawes van internasionale krieket verteenwoordig.

Met die kern van die huidige Protea-span wat uit spelers bestaan wie se loopbane einde se kant toe staan, sou die meeste van die Kolpak-spelers in die wedloop gewees het om langtermyn-plaasvervangers vir hulle te word.

AB de Villiers (34) en Morné Morkel (33) het albei klaar hul internasionale stewels opgehang, terwyl spelers soos Hashim Amla (35), Dale Steyn (35), Faf du Plessis (34) en JP Duminy (34) se loopbane ook in die pylvak is.

As bogenoemde groep spelers oor die volgende 18 maande uittree, gaan dit beslis ’n groot leemte by die Proteas laat wat ervaring betref. Dit is waar spelers soos Abbott (31), Rossouw (28) en Parnell beslis ’n rol sou kon vervul het.

Dean Elgar (31) en Keshav Maharaj (28) is die enigste twee spelers in dié ouderdomsgroep wat tans gereeld in die Proteas se beginspan is.

Dit beteken dat jonger spelers soos Kagiso Rabada (23), Quinton de Kock (24) en Aiden Markram (24) vroeër reeds ’n groter las in die span sal dra.

Dit is egter nie net in die nasionale span waar die verlies swaar gevoel word nie.

Die spelers, almal in hul laat 20’s of vroeë 30’s, het ook ’n belangrike rol in hul provinsiale spanne gespeel. Dáár het hulle gehelp om jonger spelers te mentor en vir krieket op ’n hoër vlak groot te maak.

Maar nou help hulle eerder om die volgende geslag Engelse spelers slaggereed vir groot krieket te kry.

In die verlede het van die Kolpak-spelers steeds deelgeneem in die plaaslike reekse, maar ’n nuwe Krieket Suid-Afrika-regulasie gaan waarskynlik ’n stokkie daarvoor steek.

Ingevolge die nuwe regulasie mag franchises nie Kolpak-spelers vergoed met geld wat KSA aan die onderskeie spanne beskikbaar stel vir spelers se salarisse nie. Franchises sal dus uit hul eie sak vir sulke spelers moet opdok indien hulle hul voortaan wil gebruik.

Wat ook insiggewend is, is dat ander lande se Kolpak-spelers kyk – soos die Wes-Indiese spelers Shivnarine Chanderpaul (44) en Tino Best (35) en die Kiwi Grant Elliott (39) – almal spelers is wie se internasionale loopbane reeds tot ’n einde gekom het.

* Die Kolpak-reël laat spelers van lande met ondertekende Europese Unie-handelsooreenkomste toe om vanuit ’n werkpermit-oogpunt dieselfde regte as EU-burgers te geniet. Spelers wat sulke kontrakte onderteken, mag egter nie steeds hul geboortelande verteenwoordig nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.