Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kolwers kan nie meer verdedig, sê Kohli

Witbalkrieket beduiwel hedendaagse kolwers se vermoë om goed te kan verdedig en daarom sien ’n mens al meer toetskolwers wat veral sukkel op blaaie waarop die bal skerp draai.

Virat Kohli, die kaptein van Indië se krieketspan. Foto: Getty Images

So sê Virat Kohli, die Indiese krieketkaptein, op die vooraand van hul vierde en laaste toets teen Engeland, wat Donderdag in Ahmedabad begin.

In die kortste voltooide toets sedert 1935 het Indië die derde toets binne twee dae gewen nadat 30 paaltjies in vyf sessies geval het.

Hewig debat is oor die blad gevoer, maar Kohli blameer swak kolfwerk deur albei spanne vir die lae tellings.

Kohli sê ondanks soortgelyke kolfineenstortings ontlok blaaie wat uitermatige naatbeweging toon nooit dieselfde tipe kritiek nie.

“Dit was nog altyd die geval dat draaiersblaaie meer in fokus kom. Wanneer die bal naatbeweging toon op ’n betrokke blad en spanne vir 40, 50, 60 uit is, skryf niemand oor die blad nie,” sê Kohli, wie se span met 2-1 in die reeks voorloop.

“Ek hou vol die uitslag in die laaste wedstryd kom op bisarre kolfwerk deur albei spanne neer.”

Draaiers het 28 van die 30 paaltjies platgetrek en die linksdraaier Axar Patel is vir sy oes van 11 paaltjies as die Speler van die Wedstryd aangewys.

Om vir vier tot vyf sessies in te grawe het oudmodies geword.

“Die sleutel wanneer dit by oorlewing op draaiersblaaie kom, is om ’n sterk verdediging te hê. Toetskrieket het uitslag-gedrewe geword, danksy die invloed van witbalkrieket. Maar ek glo een gevolg is dat dit ook die kolwer se verdedigingstegniek beïnvloed.

“Om vir vier tot vyf sessies in te grawe het oudmodies geword. Kolwers is nie genoeg daarop gefokus om ’n soliede verdediging te bou nie, want hulle moet na ander formate oorskakel.”

Hy sê kolwers kan nie net met veeghoue teen draaiers oorleef nie.

“Daar is ander maniere om teen draai te oorleef. Vir my is die beste om ’n selfvoldane verdedigende hou te speel, wat die bal nie in die veldwerker onder die kopskerm in die slagysterposisie se keelgat afstuur nie. Daardie deel van kolfwerk word in vandag se krieket agterweë gelaat.”

Indië het slegs ’n onbesliste uitslag nodig in die laaste wedstryd om ’n plek in die eindstryd van die Wêreld-toetskampioenskap teen Nieu-Seeland in Junie op Lord’s te bespreek.

Hulle sal sonder die snelbouler Jasprit Bumrah moet klaarkom, wat die wedstryd weens persoonlike redes misloop. – Reuters

Meer oor:  Krieket  |  Virat Kohli  |  Verdediging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.