Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kortbal-koning Duanne 'jammer' vir Ali
Duanne Olivier stuur een van sy kartetse teen Pakistan af. Foto: Gallo Images

Dit was nie net ondersteuners wat verbaas was oor Duanne Olivier se uitstekende boulvertoning in die toetsreeks teen Pakistan nie.

“Ek het myself baie verbaas, om eerlik te wees,” het Olivier ná die derde en laaste toets op die Wanderers in Johannesburg gesê.

Die 24 paaltjies wat hy in die reeks platgetrek het, het Suid-Afrika gehelp om met 3-0 te wen en die tweede plek op die wêreldranglys vir toetsspanne in te neem.

Sy 24 paaltjies is die naasmeeste tot dusver deur ’n Suid-Afrikaner in ’n reeks van drie toetse.

Hy is Sondagaand, ná die derde dag se spel van die derde toets, eers bewus gemaak van Charlie Llewellyn se rekord vir die meeste paaltjies in ’n reeks van drie toetse. Llewellyn het in 1902 altesaam 25 paaltjies in drie toetse teen Australië platgetrek.

“Ek het nie regtig daaraan gedink om daardie rekord te oortref nie. Ons het nog sewe paaltjies nodig gehad, so ons fokus was net om (Maandagoggend) twee vroeë paaltjies plat te trek,” sê Olivier.

Hy het verby Vernon Philander en Dale Steyn op dié lys geskuif, wat albei voorheen 21 paaltjies in ’n reeks van drie toetse versamel het.

Olivier het sy toetsbuiging in 2017 gemaak en sedertdien weinig speelkans gekry. Die begin van sy toetsloopbaan was louwarm.

Ek nog baie jonk en te ver vooruit gedink, sonder om net op elke aflewering te konsentreer. Dít het ek in die toetsreeks probeer verander en dit het goed gewerk.
Duanne Olivier

“As ek terugkyk na my vorige toetservaring, was ek nog baie jonk en ek het te ver vooruit gedink, sonder om net op elke aflewering te konsentreer. Dít het ek in die toetsreeks probeer verander en dit het goed gewerk,” sê hy.

Olivier het die Pakistanse kolwers met kort aflewerings laat bewe. Hy het veral die Pakistanse kolwer Azhar Ali gekasty en dié ervare speler vier keer in ses beurte uitgekry.

Shame, ek voel jammer vir hom. Hy het ’n taai toer gehad,” sê Olivier.

“Ek wou aggressief wees teen hom. Die kolfblaaie het ook ’n bietjie gehelp.”

Azhar Ali gaan nie die reeks teen die Proteas (en Duanne Olivier se boulwerk) vinnig vergeet nie. Foto: Getty Images

Volgens hom was Ali sy gunsteling-slagoffer in dié reeks, veral die twee kere wat hy hom met kort balle in Centurion uitgekry het. Hy sal ook nooit sy oes van 11 paaltjies in Centurion vergeet nie.

“Ek hou daarvan om kort te boul en ek is trots daarop dat ek dit vir drie toetse kon doen. Ek is dankbaar dat my liggaam gehou het.

“Uiteindelik wou ek dit net geniet, want jy weet nooit wanneer dit jou laaste toets is nie.”

Olivier sê hy het hard aan sy kondisionering gewerk om boulfiks te wees sodat hy soveel kort aflewerings kan afstuur, maar hy glo hy moet nog aan sy boulwerk skaaf wanneer dit by voller aflewerings kom.

Hy sê die boulaanvallers wat in dié reeks gespeel het, vul mekaar puik aan.

“Vern en Dale het ongelooflike vaardighede en KG (Rabada) beskik oor alles. Ons fokus net daarop om tien paaltjies plat te trek.

“Dit is nie asof ek verseker is van my plek in die span nie. Vir die eerste wedstryd was Vernon beseer en ek het só my kans gekry. Ek wou net die meeste van daardie geleentheid maak en pret hê.”

Meer oor:  Azhar Ali  |  Duanne Olivier  |  Suid-Afrika  |  Pakistan  |  Krieket  |  Reekssege  |  Snelbouler  |  Ikr  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.