Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KP en Gayle gewaarborg van plek in SA

Internasionale sterspelers soos Kevin Pietersen en Chris Gayle sal eerste opsie hê om nee dankie te sê vir speelkans in Suid-Afrika se nuwe T20-toernooi in November en Desember.

Chris Gayle en Kevin Pietersen in Mei 2009. Foto: Getty Images

Dié kontraktuele klousule is ingeskryf vir die steeds naamlose toernooi wat laat vanjaar in die plek van die mislukte Global League gaan plaasvind, op aandrang van die Suid-Afrikaanse Spelersvereniging (Saca).

Saca het dit beding toe hulle onderhandel het vir vergoeding vir hul spelers ná verlede jaar se Global League uitgestel is.

Die weieringsklousule dui daarop dat die verguisde Australiese duo van Steve Smith en David Warner waarskynlik nie in die nuwe SA toernooi sal speel nie. Daar is in onlangse weke gefluister dat hulle in die toernooi in aksie sal wees, maar met slegs ses franchises in die liga sal daar net plek wees vir ’n handvol internasionale spelers.

Internasionale spelers wat verlede jaar ingestem het om in die Global League te speel, is ook dié keer voor in die ry. Smith en Warner is nie in dié groep nie.

’n Bron in die binnekringe het die afgelope week gesê die nuwe liga (wat deur Newco, ’n maatskappy wat KSA en SuperSport saam gestig het, bestuur sal word) sal van die grond af kom omdat daar kleiner gedroom word as verlede jaar.

“Dis ’n kwessie van skaal. Hulle (KSA) wou dinge verlede jaar op so ’n groot skaal doen dat hulle ’n massiewe uitsaaiooreenkoms nodig gehad het om die kompetisie te verseker. Hierdie keer sal daar minder spanne wees en sal dit ’n kleiner toernooi wees, wat ruimte laat om te groei in die toekoms.”

Die struktuur en personeel van Newco is nog in duisternis gehul, maar omdat KSA die meerderheidsaandeel daarin het, sal hy waarskynlik meer lede in die Newco-raad hê.

Onder die nuwe entiteit se beheer, is privaat eienaarskap van spanne (wat verlede jaar ’n sleutelelement van die kompetisie was) iets van die verlede.

Al ses spanne in die nuwe kompetisie sal onder die beheer van Newco val. Die kontraktering van spelers en aanstelling van afrigters sal alles gesentraliseer wees.

Terwyl dit veiliger en finansieel slimmer lyk, beantwoord dit steeds nie die vrae rondom die terugbetaling van verlede jaar se eienaars nie.

Die deposito’s wat die eienaars van verlede jaar se spanne toe neergesit het, is meestal terugbetaal, maar daar word steeds koppe gestamp omdat die eienaars hul uitgawes ook by KSA terugeis. KSA het aangebied om 50% van die spanne se uitgawerekenings te dek, maar dit is van die hand gewys.

“Ons is nie deur KSA ingelig oor die nuwe toernooi nie. Dit was nuus vir ons,” het een plaaslike eienaar gesê. “Ek dink ons sal hulle in die hof sien.”

Meer oor:  T20gl  |  Chris Gayle  |  T20  |  Kevin Pietersen  |  T20 Global League
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.