Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Plaaslike krieket kry nuwe formaat

Die plaaslike meerdagreeks sal in die komende seisoen vir die eerste keer sedert die begin van die franchise-era in 2004 in ’n nuwe formaat gespeel word.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het Woensdag ’n nuwe kompetisiestruktuur vir die 2020-’21-seisoen aangekondig, maar die algehele herstrukturering van plaaslike krieket kan in die daaropvolgende seisoen plaasvind.

Malusi Siboto en sy Lions-spanmaats vier ’n paaltjie in die meerdagreeks. Die Lions is as die kampioen van dié reeks gekroon. Foto: Gallo Images

Die ses franchises sal in die komende seisoen steeds met mekaar meeding, terwyl KSA Woensdag in ’n verklaring ook nuwe planne vir reekse tussen al 15 provinsiale spanne (wat Mpumalanga en Limpopo insluit), sowel as ’n nuwe T20-Superklubreeks aangekondig het.

In die meerdag- én eendagreeks sal die ses franchises in die komende seisoen in twee groepe van drie verdeel word.

Die spanne sal elk ’n tuis- en wegwedstryd teen die ander twee spanne in hul groep speel, sowel as ’n enkele wedstryd teen elke span in die ander groep. Dit sal beteken dat elke span ’n minimum van sewe wedstryde speel, terwyl die twee groepwenners in ’n eindstryd om die titel sal meeding.

Volgens die huidige meerdagformaat het elke span twee keer teen elke ander span gespeel en die span wat ná sy tien ligawedstryde die meeste ligapunte gehad het, is as die wenner aangewys.

In die eendagreeks het die spanne ook twee keer teen mekaar gespeel, waarna ’n halfeindronde en ’n eindstryd plaasgevind het. Elke franchise sal dus vanaf die 2020-’21-seisoen in drie minder ligawedstryde speel, wat koste sal bespaar.

Die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (Saca) is gekonsulteer en het deurentyd ingelig oor die proses.

“Dit is belangrik om te let dat die kompetisiestrukture verander het, maar die spanstruktuur is steeds dieselfde. Herstrukturering van plaaslike krieket sal eers vanaf die 2021-’22-seisoen gebeur,” het Andrew Breetzke, die uitvoerende hoof van Saca, aan Netwerk24 gesê.

“Saca word geraadpleeg oor dié veranderinge en is ook deurentyd geraadpleeg en ingelig oor die veranderinge in die kompetisiestruktuur.

“Ons voel dié struktuur balanseer die aantal dae wat krieket gespeel word, met ’n goeie pyplyn van ontwikkelende spelers en kostebesparing,” sê Breetzke.

Jacques Faul en Dave Richardson. Foto: Gallo Images

Saca was ontevrede met die wyse waarop die vorige KSA-regime, onder leiding van die geskorste uitvoerende hoof Thabang Moroe, die herstrukturering van plaaslike krieket aangepak het.

Die spelersvereniging het aangevoer hy is glad nie by besprekinge betrek nie en het KSA hof toe gevat om sy besluit tersyde te stel om plaaslike krieket van ses franchisespanne tot 12 eersterangse spanne te herstruktureer, wat tot werkverlies vir tot 70 van die land se beroepspelers kon lei.

Terwyl daar oor die herstrukturering van plaaslike krieket beraadslag word, moes KSA vinnig ’n struktuur aankondig vir die komende seisoen.

Spanne is besig met kontraktering en uitsluitsel was nodig. Die nuwe strukture is deur die plaaslike krieket-hersieningskomitee ontwikkel, onder leiding van David Richardson, die voormalige uitvoerende hoof van die Internasionale Krieketraad.

KSA sê sy hoofdoelwitte was om die status quo vir die komende seisoen te handhaaf, wat beteken dat die ses franchisespanne behoue moes bly.

Hy wou ook kompetisiekoste beperk en betekenisvolle en kommersieel aanloklike inhoud vir franchises en provinsies te bied.

Die beheerliggaam wou ook skakeling met ondersteuners en lojaliteit uitbou en ’n duidelike pyplyn skep om die voedingstrukture (klubs en universiteite) te verstrek.

“Ek is seker die strukture sal weer hoogs mededingende krieket op alle vlakke oplewer en ons sien ook uit na nuwe produkte soos die provinsiale 40-boulbeurt-uitklopkompetisie en die T20-Superklub-reeks, wat bykomende geleenthede op provinsiale, o.19-, universiteits- en klubvlak sal bied,” sê Jacques Faul, KSA se waarnemende uitvoerende hoof.

In die driedagreeks sal die 15 provinsiale spanne in twee groepe van agt en sewe spanne verdeel word en ’n enkele ronde van groepwedstryde speel. Hulle sal ook eendagwedstryde op dieselfde naweke op dieselfde grondslag speel.

Die wedstryde waarin Mpumalanga en Limpopo speel, sal nie eersterangse status geniet nie, maar sal wel vir ligapunte tel.

Daar sal boonop ’n nuwe 40-boulbeurt-uitklopkompetisie wees, waarin die 15 provinsies en die nasionale o.19-span sal deelneem. Dié wedstryde sal op naweke gespeel word wanneer franchise- en skolespelers vir hul onderskeie spanne beskikbaar sal wees.

KSA het ook ’n T20-Superklubreeks geloods, wat tussen die voorste ses universiteitspanne van die Varsitybeker-reeks, en die voorste drie gemeenskapspanne (uit die nasionale gemeenskapseendagreeks) beslis sal word.

Elke span sal in Januarie en Februarie agt T20-wedstryde (vier tuis en vier weg) en ’n eindstryd speel.

Meer oor:  Krieket  |  Ksa  |  Herstrukturering  |  Plaaslike Krieket  |  Krieket Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.