Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Oudspelers, kykers ‘soek antwoorde’

Suid-Afrikaanse krieket blyk in ’n krisis te wees in die konteks van wat in die Wêreldbeker-toernooi gebeur het en die treurmare wat die land se o.19’s teen Pakistan beleef het.

Dís die mening van die voormalige Protea-aanvangskolwer Alviro Petersen, wat soos baie oudspelers en ondersteuners bekommerd is oor die toedrag van sake op die oomblik.

Jonathan Bird se kolfvertonings was een van die SA o.19-span se min ligpunte in ’n verpletterende reeksnederlaag. Foto: Gallo Imges

“Die stand waarin ons krieket verkeer is nie goed nie as ’n mens kyk na wat by die WB gebeur het en in die eendagreeks van ons o.19’s,” sê Petersen.

Die Proteas het net drie van hul voltooide agt wedstryde in Engeland gewen, terwyl Pakistan se jonges met 7-0 skoonskip gemaak het in ’n eendagreeks teen Suid-Afrika se o.19’s in KwaZulu-Natal. Dít is inderdaad kommerwekkend aan die vooraand van die o.19-Wêreldbeker-toernooi wat vroeg aanstaande jaar in Suid-Afrika plaasvind.

Dié vertoning het Petersen ook teen die bors gestuit en die uitlating laat maak dat die spel hier die knyp is.

“Die reeks teen Pakistan was boonop in Suid-Afrika gewees. Mense sal nou antwoorde soek,” sê Petersen.

Hy hoop dat daar met die komende raadsvergadering meer duidelikheid verskaf sal word.

Die kolfvertoning van Jonathan Bird, wie se 356 lopies die hoogste was, was een van enkele ligpunte in die o.19’s se eendagreeks. Bird (gemiddeld 59.33) het met die reeks reeds verlore twee agtereenvolgende honderdtalle aangeteken, terwyl die aanvangskolwer Rudi Terblanche ook ’n keer ’n honderdtal aangeteken het.

Pakistan se kolwers het net twee honderdtalle aangeteken, maar 14 vyftigtalle ingeryg teenoor die vyf van die gasheer.

Pakistan se Aamir Ali (13 in 7 wedstryde), Naseem Shah (12 in 5) en Abbas Afridi (10 in 6) was die reeks se voorste boulers. Die snelbouler Gerald Coetzee (7 in 5) het die beste onder die Suid-Afrikaners gevaar. Sy 4/26 was die beste boulsyfers van die reeks.

Nog slae wag straks vir die Suid-Afrikaners indien iets drasties nie intussen gebeur nie. Hulle sal in Desember

opnuut getoets word deur Indië, wat altyd ’n gedugte span het en in die vorige toernooi in 2018 in Nieu-Seeland met die kroon weggestap het. Dié reeks van drie eendagwedstryde word van 26 tot 30 Desember in Oos-Londen beslis.

Die o.19-span se boulafrigter, Chris van Noordwyk, het ná die vyfde wedstryd gesê die realiteit is dat die span van Pakistan beter as hulle is en dat hulle gesukkel het om ’n teenvoeter vir die besoekers te kry.

Hy het gesê dat Pakistan ’n paar ernstige krieketspelers in sy geledere het en dat die gaping tussen die spanne groot is. Hy beskou die aanvangskolwer Haider Ali, wat die boulers dadelik onder druk plaas, as ’n speler van internasionale gehalte.

Suid-Afrika het in 2014 die o.19-Wêreldbeker-toernooi in die Verenigde Arabiese Emirate gewen met huidige Proteas soos Aiden Markram, Kagiso Rabada en Andile Phehlukwayo in die geledere. Ray Jennings, wat daardie span afgerig het, is toe vervang deur Lawrence Mahatlane, wat steeds die hoofafrigter is.

Meer oor:  Pakistan  |  Proteas  |  Alviro Petersen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.