Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KSA katrol internasionale borg in
Kugandrie Govender, KSA se kommersiële hoof. Foto: Gallo Images

Betway Limited, ’n wêreldwye aanlyn dobbel- en vermaaklikheidsmaatskappy, is Krieket Suid-Afrika (KSA) se nuwe hoofborg vir eendag- en toetsreekse, sowel as ’n amptelike borg vir die mans se T20-span en die Protea-vrouespan.

KSA het Donderdag in ’n verklaring aangekondig dat hy ’n borgskap van drie jaar met Betway onderteken het.

Die Proteas sit egter steeds sonder ’n titelborg nadat Standard Bank in 2019 besluit het om nie sy borgskap te hernu nie, nadat verskeie krisisse in die raadsaal die organisasie lamgelê het, en tot die skorsing van Thabang Moroe, die uitvoerende hoof, gelei het.

KSA, wat verwag om ’n wins van tussen R50 miljoen en R80 miljoen vir die 2019-’20-boekjaar te maak, sal hoop dat klarigheid in die Moroe-kwessie kan help om hom ’n meer aantreklike proposisie vir voornemende borge te maak.

KSA se raad neem glo Vrydag ’n besluit oor die toekoms van die geskorste Moroe, nadat die beheerliggaam die eerste deel van ’n forensiese oudit ontvang het, wat hy verlede jaar aangevra het.

Betway se betrokkenheid is nietemin goeie nuus vir KSA, wat ook in Junie aangekondig het dat KFC hom vir ’n verdere drie jaar daartoe verbind om die titelborg van T20-reekse te wees.

Dit kom boonop in ’n tyd van wêreldwye ekonomiese onsekerheid weens die Covid-19-pandemie.

“Ons is trots om Betway as Krieket Suid-Afrika (KSA) se hoofborg te verwelkom, in ’n stap wat ons suksesvolle verhouding na ’n nuwe vlak neem,” sê Kugandrie Govender, KSA se kommersiële hoof.

Om die handtekening van hierdie wêreldwye reus te verseker, is soos om ’n ses te slaan om ’n wedstryd te beklink.
Kugandrie Govender

“Die vennootskap stel ons in staat om op ’n groter skaal met ons ondersteuners in verbinding te tree. Om die handtekening van hierdie wêreldwye reus te verseker, is soos om ’n ses te slaan om ’n wedstryd te beklink.

“Dit is verblydend om ’n verhouding wat albei partye baat te hê met ’n organisasie met integriteit, wat ’n bydrae tot die spel in die land sal lewer.

“Ons is verheug dat Betway in hierdie uitdagende tye wys die vertroue wat ons in hulle het, is wederkerig.”

Anthony Werkman, Betway se uitvoerende hoof, sê hulle is verheug oor hul vennootskap met KSA.

Die Engelse sokkerklub West Ham United word ook deur Betway geborg. Foto: Reuters

“Ons het reeds ’n wye sportportefeulje en hierdie is ’n bewys van ons toewyding tot krieket. Die Suid-Afrikaanse span sal eersdaags weer in aksie wees en ons is opgewonde om te sien hoe die span in alle formate van die spel vertoon.”

Betway is ook die borg van die Engelse Premierliga-sokkerspan West Ham United. Dié span het Woensdagaand vir ’n opskudding gesorg toe hy Chelsea met 3-2 in ’n Premierliga-wedstryd geklop het.

Betway is ook as borg by ander sokkerspanne betrokke, soos Deportivo Alavés, Levante U.D. en CD Leganes in Spanje en Werder Bremen in Duitsland.

Die maatskappy het ook ’n sterk teenwoordigheid in perdewedrenne, snoeker en e-sport.

Meer oor:  Thabang Moroe  |  Krieket  |  Ksa  |  Borgskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.