Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Krieket SA: ‘Ons staan teen plaasmoorde’

Net omdat Krieket Suid-Afrika (KSA) sy gewig agter die Black Lives Matter (BLM)-beweging ingegooi het, beteken dit nie hy is gekant teen ’n ander saak, soos die stryd teen plaasmoorde, nie.

Inteendeel – Jacques Faul, KSA se waarnemende uitvoerende hoof, het Vrydag baie sterk standpunt teen plaasmoorde ingeneem.

Jacques Faul, die waarnemende uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

“Natuurlik praat ons ook uit teen plaasmoorde, ons spreek ons beslis uit daarteen. Ons is beslis teen geweld op plase. Dis ongelooflik hartseer en wreed wat daar gebeur,” het Faul aan Netwerk24 gesê.

Faul sê hy is teleurgesteld oor al die kritiek wat dié beheerliggaam kry nadat hy sy steun aan die BLM-beweging uitgespreek het.

“Ons wil ons stem gebruik en ons uitspreek teen alle vorme van geweld en diskriminasie in Suid-Afrika,” sê Faul.

“Ek is dus baie teleurgesteld in Facebook-plasings en kommentaar wat sê ons praat nie uit teen plaasmoorde nie. Natuurlik doen ons dit.

“Sport het die vermoë om mense saam te bind, maar dis boodskappe soos dié op Facebook wat kan veroorsaak dat sport mense verdeel. En dit is bloot net nie waar nie, KSA het nog nooit gesê ons nie gekant teen plaasmoorde nie.

“Ek kom self uit die Noordwes, uit ’n landelike gebied. Ek was self vroeër in my loopbaan by Noordwes Krieket by insamelingsprojekte vir plaasveiligheid betrokke. Ek het self familie wat op plase bly.”

Natuurlik praat ons ook uit teen plaasmoorde, ons spreek ons beslis uit daarteen.
Jacques Faul

Die BLM-beweging oorheers vandeesweek krieket-hoofopskrifte. Die naatbouler Lungi Ngidi het Maandag gesê gesprekke oor dié beweging sal binne die Protea-spanomgewing gehou word.

Verskeie oudspelers soos Boeta Dippenaar, Rudi Steyn en Pat Symcox het hulle daarna oor Ngidi se kommentaar uitgespreek. Hulle sê Ngidi is geregtig op sy mening, maar kan dit nie op ander mense afdwing nie en wys daarop dat ’n kwessie soos plaasmoorde ook aandag moet geniet.

BLM het ook Woensdag in Southampton die kollig gesteel op die eerste dag van die eerste toets tussen Engeland en die Wes-Indiese Eilande. Die spanne speel met BLM-kentekens in hul hempskrae.

Faul sê KSA ondersteun BLM vir sy etos as ’n beweging, wat staan teen rassisme en diskriminasie. KSA is ook gekant teen ongelykheid, plundery en enige geweld, sê Faul.

“As ons sê ons ondersteun een ding, beteken dit nie ons ondersteun nie iets anders nie. Ons sal enige forum ondersteun wat die stryd teen geweld en diskriminasie uitspreek.

As ons sê Black Lives Matter, sê ons nie ander lewens maak nie saak nie.
Jacques Faul

“As ons sê Black Lives Matter, sê ons nie ander lewens maak nie saak nie. Dis nie ‘Only Black Lives Matter’ nie.

“As jy jou uitspreek en sê vroue se lewens maak saak, sê jy mos nie mans se lewens maak nie saak nie. Ons is eintlik seergemaak daardeur dat mense sê omdat ons BLM ondersteun, ondersteun ons nie ander kwessies nie.

“Ons is nie ’n organisasie wat enige gemeenskap sal voortrek nie. Daar is baie geweld in Suid-Afrika en ons staan teen dit alles.

“Ons is ’n organisasie wat ons stem ten goede wil gebruik, ons wil nie haat aanblaas nie. Die BLM-beweging in sport het mense aan die praat gekry. Mense praat oor rassisme en diskriminasie en dit is ’n goeie ding.”

Die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (Saca) sal voor volgende naweek se Solidarity Cup-driespan-wedstryd met die spelers oor die BLM-kwessie praat. Graeme Smith, KSA se direkteur van krieket, het Donderdagaand in ’n twiet gesê hoewel die spanne nie met ’n BLM-kenteken op hul hemde sal speel nie, omdat die klere reeds drukkers toe is, sal hulle ’n ander manier vind om hul ondersteuning aan die beweging te wys.

Ons is nie ’n organisasie wat enige gemeenskap sal voortrek nie.
Jacques Faul

Faul sê wel elke speler mag self besluit wat hy wil doen.

“Ons sal dit nog met die spelers bespreek, maar niemand word gedwing om enigiets te doen nie. Ons respekteer die spelers se eie menings ook.”

KSA sal ook nie enige oudspelers muilband nie.

“Ons respekteer ook Boeta en Symmo en Steyn se sienings. Dit is iets wat hulle in hul gemeenskappe na aan die hart lê en hulle gebruik ook hul stem as sportmense om dit te onderstreep.”

Faul sê die Protea-vrouespeler Mignon du Preez se betrokkenheid by die Solidarity Cup-driespanwedstryd as ’n afrigter, is ’n voorbeeld van KSA se poging om te wys hy beywer homself ook vir geslagsgelykheid.

“Dit is nóg iets waaroor ons sterk voel. Ons ondersteun enigiets wat as ’n spreekbuis teen geweld en diskriminasie gebruik word.”

Meer oor:  Black Lives Matter  |  Jacques Faul  |  Boeta Dippenaar  |  Blm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.