Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Krieket SA se ganse raad bedank

Die laaste vier oorblywende raadslede van Krieket Suid-Afrika (KSA), wat die drie onafhanklike direkteure insluit, het Maandagoggend uit hul poste bedank.

Dr. Eugenia Kula-Ameyaw, gewese raadslid van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

KSA sit dus nou sonder ’n raad en dít kan moontlik die deur oopmaak vir Saskok, die sambreelliggaam waaronder KSA val, om sy beplande taakspan aan te stel om die krieketliggaam te ondersoek. Dit hang egter van Nathi Mthethwa, die minister van sport, af of Saskok wel sy taakspan op die been sal bring.

Mthethwa het KSA twee weke gelede tot Dinsdag om 17:00 gegee om skriftelik redes te verskaf waarom hy nie by die beheerliggaam se sake moet inmeng nie.

Mthethwa is glo te vinde daarvoor dat Saskok se taakspan-plan deurgevoer word, of dat ’n tussentydse komitee gestig word om KSA te bestuur.

Intussen is Rihan Richards, die president van Noord-Kaap, as die waarnemende president van die lederaad aangestel – ’n nuwe posisie wat geskep is.

Die lederaad bestaan uit die land se 14 uniepresidente en is die hoogste krieketgesag in die land. Hy kies die raad.

Die lederaad het verlede Donderdag vergader en besluit dat die raad moet bedank, maar die raad het vasgeskop. Die lederaad het daarna Sondag weer vergader, waarna die raadslede Beresford Williams (waarnemende president), Angelo Carolissen, Donovan May, Tebogo Siko, John Mogodi en Dheven Dharmalingam (onafhanklike raadslid) wel bedank het.

Die lederaad bestaan uit die land se 14 uniepresidente en is die hoogste krieketgesag in die land.

Maandagoggend het KSA op Twitter bekend gemaak dat die oorblywende raadslede – Zola Thamae, Marius Schoeman, dr. Eugenia Kula-Ameyaw en Vuyokazi Memani-Sedile ook bedank het. Almal behalwe Thamae is onafhanklike raadslede.

Thamae, May en Mogodi sal wel aanbly totdat ’n nuwe tussentydse raadstruktuur op die been gebring is. 

“Nadat die lederaad die saak bespreek het, is besluit die hele raad moet in die beste belang van krieket bedank. Alle onafhanklike en nie-onafhanklike direkteure het nou bedank,” het KSA getwiet.

Die bedanking van die raad word lank reeds deur verskeie belanghebbendes, waaronder die spelersvereniging Saca, bepleit. KSA het aan die einde van Augustus sy beplande jaarvergadering van 5 September uitgestel en gesê hy sal met Saskok skakel om die talle bestuursprobleme te help oplos wat die beheerliggaam verlam.

Saskok wou ’n onafhanklike taakspan aanstel om KSA ’n maand lank te ondersoek en het geëis dat KSA se raad vir die duur van dié ondersoek opsy staan. KSA het egter geweier.

Dit het Saskok genoop om die kwessie na Mthethwa te verwys, wat KSA toe verskeie kere gevra het om sy samewerking aan Saskok te gee.

Beresford Williams het as waarnemende president van KSA bedank. Foto: Gallo Images

Williams het Mthethwa twee weke gelede in ’n brief meegedeel dat KSA nie glo dat die minister die reg het om te vra dat die beheerliggaam se raad bedank nie. Mthethwa het woedend gereageer en daarna vir KSA amptelik van sy plan in kennis gestel om volgens die Nasionale Wet op Sport en Ontspanning by die beheerliggaam in te gryp, mits KSA nie skriftelike redes verskaf waarom hy dit nié moet doen nie. Regeringsinmenging is strydig met die Internasionale Krieketraad (IKR) se grondwet en ’n lidland kan daarvoor geskors word.

Mthethwa se dreigement het gelei tot die lederaad se besluit om te bedank.

Dit is nog onduidelik wat Mthethwa se volgende skuif gaan wees.

KSA se lederaad het Donderdag op sy vergadering die moontlikheid van ’n tussentydse raad bespreek, wat ’n stem uit die geledere van die IKR, ’n aanstelling van die minister en ’n oudspeler kan insluit.

KSA se jaarvergadering sal nou op 5 Desember plaasvind, waarop die beheerliggaam beplan om ’n nuwe raad aan te stel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.