Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Krieket SA wil ‘bio-borrel’ in Potch skep
Senwespark in Potchefstroom is as ’n potensiële gasheerstadion vir die beoogde T20-reeks tussen Suid-Afrika en Indië geoormerk. Foto: Getty Images

Potchefstroom kan in ’n “bio-borrel” omskep word in ’n poging om internasionale krieket te midde van die koronavirus-pandemie weer in Suid-Afrika op dreef te kry.

Die Proteas is veronderstel om Indië aan die einde van Augustus in drie T20-wedstryde te pak en dié dorp in Noordwes is as ’n moontlike tuiste vir dié reeks uitgewys.

Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika se direkteur van krieket, het Donderdag in ’n aanlyn nuuskonferensie gesê dat KSA Woensdag met die Indiese Krieketraad (BCCI) vergader het en dat die verhouding tussen die twee beheerliggame tans baie goed is.

Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika se direkteur van krieket, probeer sterk bande met Indië smee. Foto: Getty Images

“Die BCCI het bevestig dat die drie T20-wedstryde steeds op die kalender is,” het Smith gesê.

Dít is uitstekende nuus vir KSA, wat glo $10 miljoen (bykans R180 miljoen) uit die reeks sal verdien. Gegewe die finansiële probleme waarmee KSA nog voor die Covid-19-pandemie gesukkel het, kan dié beheerliggaam nie bekostig dat dié reeks nié plaasvind nie.

Die logistieke uitdaging om dié reeks in die konteks van die koronavirus aan te bied, is egter waar die probleme vir KSA begin.

Dr. Shuaib Manjra, die hoof van KSA se Covid-19-taakspan, glo wel dit is moontlik om die reeks in Augustus hier aan te bied.

“Een van die opsies is om ’n bio-borrel (’n beperkte, gebied wat biologies veilig vir die spelers en beamptes is) te skep, waar spelers gereeld getoets word en toegang tot die stadion streng beperk word,” sê Manjra.

Hy het Potchefstroom geïdentifiseer as ’n plek waar só ’n borrel geskep kan word.

“Die hotelle daar is binne stapafstand van die veld (Senwespark) en dit is dus maklik om die borrel te handhaaf. Alle wedstryde sal ook waarskynlik voor leë paviljoene gespeel word.”

Manjra het egter benadruk dat só ’n reeks slegs in Suid-Afrika met die goedkeuring van die regering sal plaasvind.

Internasionale reisbeperkings, wat steeds geld, sal ook ’n bepalende faktor wees.

As internasionale vlugte tussen Indië en Suid-Afrika teen daardie tyd nog nie hervat is nie, is daar wel ’n moontlikheid om ’n spesiale huurvlug vir die Indiese toergroep te reël.

Die hotelle daar is binne stapafstand van die veld (Senwespark) en dit is dus maklik om die borrel te handhaaf.
Shuaib Manjra

Die grootste struikelblok is egter tot in watter mate die verspreiding van die virus in Suid-Afrika in die komende maande hokgeslaan kan word.

Talle wetenskaplikes voorspel dat Suid-Afrika die toppunt van sy infeksies eers in September sal bereik.

Manjra het toegegee dat alle besluite in oorleg met die regering geneem sal word. ’n Finale besluit oor die reeks sal ook eers nader aan die tyd geneem kan word.

Smith het egter gesê dit is nie ’n vereiste dat die reeks in Suid-Afrika móét plaasvind nie en het gesê ’n neutrale bestemming vir die wedstryde is ook ’n opsie.

Dr. Shuaib Manjra, hoof van Krieket Suid-Afrika se Covid-19-taakspan Foto: Gallo Images

In wat as ’n teken van die nuwe, goeie verhouding tussen KSA en die BCCI beskou kan word, het Smith ook ’n sterk pleidooi gelewer dat die president van die Indiese beheerliggaam, die voormalige Indiese toetskaptein Sourav Ganguly, tot president van die Internasionale Krieketraad verkies moet word.

“Ek glo dit is te midde van die Covid-19-krisis hoog tyd om mense met goeie krieket-ervaring in posisies van gesag in die Internasionale Krieketraad te kry,” het Smith gesê.

Verkiesings vir dié pos word vir later vanjaar beplan.

Smith het die pleidooi in sy persoonlike hoedanigheid gelewer, maar Jacques Faul, KSA se waarnemende uitvoerende hoof, het gesê die plaaslike beheerliggaam deel dié mening.

“’n Mens wil egter nie die proses te ver vooruitloop nie. Daar is nog nie benoemings of selfs kandidate vir die pos bekend gemaak nie,” het Faul gesê.

Meer oor:  Potchefstroom  |  Graeme Smith  |  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Indië  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.