SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Krieket
Krieket Suid-Afrika op heksejag
Die joernalis Telford Vice sit tussen die toeskouers en werk Sondag op Nuweland nadat sy akkreditasie teruggetrek is en hy nie in die persbank kon sit nie. Foto: Twitter

Dit woel opnuut in Suid-Afrikaanse krieket nadat vyf senior krieketjoernaliste se akkreditasie die naweek teruggetrek is deur Krieket Suid-Afrika (KSA) onder meer vir “sensasionele beriggewing”.

Stuart Hess (The Star), Telford Vice (voorheen TimesLive), Ken Borland (The Citizen), Neil Manthorp (vryskut) en Firdose Moonda (ESPNcricinfo) het almal Sondag uitgevind dat hulle akkreditasie weggeneem is.

Dit beteken dat hulle nie meer toegang tot die land se mediageriewe by die land se krieketstadions het nie.

Van hulle het later die middag ’n e-pos gekry wat gesê het hul akkreditasie is geldig, wat tot verdere verwarring gelei het.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het Hess ook laat weet hy het KSA gekontak en die beheerliggaam het gesê sy akkreditasie is geldig.

Thabang Moroe, KSA se uitvoerende hoof, het egter vroeër die dag aan eNCA bevestig dat Hess se akkreditasie weggeneem is.

“Hy is nie die veld belet nie, maar sy akkreditasie is teruggetrek.

“Stuart Hess se akkreditasie is teruggetrek oor sensasionele beriggewing en omdat hy nie vir KSA om kommentaar genader het nie.”

Hess het dit as baie vreemd bestempel.

“In die laaste storie wat ek die week geskryf het ek letterlik die amptelike woordvoerder van Krieket Suid-Afrika aangehaal.”

Manthorp, ’n bekende krieketkommentator, moes Sondag ’n kaartjie koop om toegang tot Nuweland te kry waar hy vir die SAUK kommentaar moes lewer in die Mzansi-superligawedstryd tussen die Cape Town Blitz en die Tshwane Spartans.

KSA het die laaste paar maande onder hewige kritiek in die media deurgeloop.

Graeme Smith. Foto: Getty Images

Die beheerliggaam het verlede week ’n arbitrasiesaak teen die Westelike Provinsie Krieketvereniging verloor en is ook steeds in ’n hofgeskil gewikkel teen die Suid-Afrikaanse Spelersvereniging oor die herstrukturering van beroepskrieket.

KSA is ook skerp gekritiseer omdat hy – minder as ’n maand voor Engeland se toetsreeks teen die Proteas begin – nog steeds nie die poste van direkteur van krieket of sameroeper van die nasionale keurkomitee gevul het nie.

Thamie Mthembu, KSA se hoof van kommunikasie, het Sondag gesê KSA sal ’n verklaring oor die kwessie uitstuur.

Die voormalige Protea-kaptein Graeme Smith se naam word intussen weer genoem as direkteur van krieket, maar baie water moet nog in die see loop.

Die Sunday Times het Sondag berig Smith oorweeg dit weer om dié pos op te neem en dat sy kontrak tot einde 2023 sal strek nadat hy in beginsel daartoe ingestem het.

Maar Smith het glo nog nie die kontrak onderteken nie. Hy het nie Sondag op navrae reageer nie.

Senior amptenare van KSA het glo onlangs weer met Smith in die Kaap vergader.

Die baie lywige kontrak is glo nou by sy prokureur.

Die 38-jarige Smith het hom vroeër onttrek as ’n kandidaat. Hy het toe in ’n verklaring gesê hy voel dat hy nie genoeg vryheid en ondersteuning sou kry om met die nodige veranderinge by KSA te begin nie.

Smith is bewus van wat die naweek met die media gebeur het.

Verskeie oudspelers en kenners meen Smith is presies wat SA krieket nodig het.

Die geloofwaardigheid van die beheerliggaam is besig om met rasse skrede agteruit te gaan en Smith se aanstelling kan die gety help draai.

Die voormalige Engelse kaptein Michael Vaughan het vroeër gesê dis ’n jammerte dat Smith nie carte blanche kon kry om SA krieket reg te ruk nie.

Jacques Rudolph, voormalige Protea-spanmaat van Smith, het die naweek aan Sport24 gesê dit sal ’n groot stap in die regte rigting wees om Smith te betrek.

“Ek ken hom al van laerskool af. Ek het onder hom gespeel; hy is waarskynlik die sterkste leier wat ons in Suid-Afrikaanse krieket het.

“Hy is ’n gerespekteerde leier wat begrip het vir die nuanses van Suid-Afrikaanse krieket en politiek.”

Rudolph sê Smith sal die man wees om krieket in die land weer om te keer.

https://twitter.com/TelfordVice/status/1201115884129009665Die waarnemende Protea-afrigter Enoch Nkwe het die naweek aan Netwerk24 bevestig hy is ingelig dat hy vir eers moet aanbly in sy pos. ’n Woordvoerder van KSA het verlede week in berigte bevestig hy gaan aanbly, maar dit is nog nie in ’n amptelike verklaring uitgestuur nie.

Rudolph sal graag wil sien dat oudspelers soos Ashwell Prince, Mark Boucher en Robin Peterson betrek word, soos wat Australië met sy voormalige spelers gedoen het.

“Ek voel jammer vir Enoch Nkwe, want om billik teenoor hom te wees, hy is ’n onervare afrigter.

“Ek ken hom baie goed. Hy is ’n lieflike ou en was ’n goeie speler op franchise-vlak.

“Hy het een goeie seisoen saam met die Lions as hoofafrigter gehad. Hy is toe aan die diep kant ingegooi in Indië, waar die Proteas vernietig is.”

Meer oor:  Graeme Smith  |  Krieket  |  Ksa  |  Telford Vice  |  Thabang Moroe  |  Krieket Suid-Afrika  |  Stuart Hess
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.