Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Krieket-WB sal enorm vir SA wees, sê Smith
Ondersteuners van Indië en Pakistan gedurende ’n Wêreldbeker-wedstryd by SuperSport-park in Centurion in 2003. Foto: Getty Images

Om vir die eerste keer sedert 2003 die Wêreldbeker-kriekettoernooi aan te bied, sal “enorm vir die spel in die land wees”, sê Graeme Smith.

Krieket Suid-Afrika (KSA) is van plan om te bie vir die reg om die WB-toernooi in 2027 aan te bied.

“Ons het nog nie weer ’n groot wêreldtoernooi aangebied sedert die Kampioene-trofee in 2009 nie. Ons is uitgehonger daarvoor,” sê Smith, KSA se direkteur van krieket.

“Die belangstelling in die spel sal ’n groot hupstoot kry en die finansiële voordele daaraan verbonde is reusagtig.

“Daar is ’n bodproses wat nou voorlê en die volgende drie tot vier maande gaan intens wees vir ’n bod-span wat die werk moet insit om te probeer verseker dat ons die bod wen.

“KSA is tans besig om ’n span bymekaar te sit om daardie bodproses te hanteer.”

Die beplande WB-bod is deel van KSA se plan om die beheerliggaam weer op die regte pad te kry nadat bestuurskwale krieket die afgelope twee jaar lamgelê het.

Die tussentydse raad en lederaad het mekaar verlede week eindelik ná ’n lang struweling gevind en ’n nuwe grondwet vir die beheerliggaam goedgekeur. Die nuwe akte van inlywing is Donderdag op KSA se webtuiste gepubliseer.

Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika se direkteur van krieket. Foto: Gallo Images

Die hoop is dat dié dokument KSA op ’n beter bestuurskoers sal plaas en dat daar voortaan meer onafhanklikheid, kundigheid en verantwoordbaarheid op raadsvlak sal wees.

Smith sê uit ’n bestuursoogpunt is dít goeie nuus.

“Toe ek my by KSA aangesluit het (Desember 2019, net ná die skorsing van die toenmalige uitvoerende hoof, Thabang Moroe), het ek gedink dit is die ergste wat dit kan wees. Dit was egter nie die geval nie en die afgelope tyd was baie uitdagend,” sê Smith.

“Die skorsings (van die waarnemende uitvoerende hoof, Kugandrie Govender, en sekretaris, Welsh Gwaza) het ’n groot werkslading vir die res van die personeel veroorsaak. Ons kan nie net fokus op dít waarop ons moet fokus nie. Ander departemente moes probeer om die bedryfsake op dreef te hou.

“Dit was baie intens vir my en Pholetsi (Moseki, waarnemende uitvoerende hoof). Ons het hard gewerk op bedryfsvlak en ook ongelooflik baie raadsvergaderings bygewoon – ek spot altyd en sê daar was tussen 50 en 60 sedert Januarie.

“Om daardie klarigheid te hê en nou vorentoe te kan begin beweeg, met ’n duidelike idee van waarheen ons wil gaan, is belangrik. Almal wil net weer begin werk en verbeter en dinge in ’n positiewe rigting laat beweeg.”

Daar is egter nog een hekkie wat oorgesteek moet word.

Die SA Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) hou Saterdag ’n vergadering waar hy KSA se nuwe akte van inlywing sal bespreek. Volgens sy grondwet moet Saskok sy lidorganisasies se grondwette goedkeur.

Saskok is nie te vinde vir een van die kernbeginsels in die nuwe KSA-grondwet nie – naamlik dat daar ’n oorgrote meerderheid onafhanklike direkteure in sy raad moet dien.

Saskok glo “sport moet deur sportmense bestuur word”.

Dit sal dus interessant wees om te sien of Saskok ’n stokkie voor vernuwing by KSA gaan probeer steek.

Meer oor:  Graeme Smith  |  Wêreldbekerkrieket  |  Ksa  |  Eendagkrieket  |  Krieket Suid-Afrika  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.