Die land se provinsiale krieketbase gaan dié naweek steeds sleg slaap nadat die aankondiging oor watter provinsies volgende seisoen in die topliga gaan speel, tot Maandag uitgestel is.
Agt provinsies sal in die boonste liga speel, met sewe wat in ’n laer een sal meeding.
Al die provinsies moes einde verlede maand ’n bod ingedien het waarin uitgestippel is waarom hulle een van die uitverkorenes moet wees.
Die aankondiging oor die uitslag van die bodproses sou oorspronklik Vrydag gewees het, maar dit sal nou Maandag tydens ’n aanlyn nuuskonferensie gebeur.
Die nuwe stelsel van 15 provinsies vervang die ou stelsel van ses franchises van die begin van volgende seisoen af. Die 15 provinsies sal in ’n vierdaagse en ’n eendaagse kompetisie speel, met promosie/relegasie tussen die twee ligas.
Promosie/relegasie sal glo eers aan die einde van die tweede seisoen van die nuwe bedeling intree.

Faf du Plessis kan dalk volgende seisoen sy krieket vir die Boland speel. Foto: Gallo Images
Die spanne se vertonings in albei kompetisies sal in ag geneem word voor daar volgens ’n formule bepaal word wie gerelegeer moet word.
Die ses velde waar daar toetse gespeel word en wat die hoofsetels van die franchises was – Westelike Provinsie, Oostelike Provinsie, Vrystaat, Noordelikes, Gauteng en KwaZulu-Natal – behoort onder die agt te tel.
Dit is egter die laaste twee plekke wat sommige krieketbase straks snags wakker hou.
Die Boland het waarskynlik sy neus voor ná die sukses wat die Paarl Rocks in die Mzansi-superliga behaal het. Nie net het die Paarliete die laaste reeks gewen nie, maar die bywoning in die Paarl was van die heel beste.
Daar sal ook groot druk uit politieke geledere wees om Grens een van die plekke te gee, aangesien dit as die tuiste van etniese swart krieket beskou word.
Dit sal egter moeilik wees om dié provinsie te bemark weens sy etlike finansiële en bestuursprobleme.
Noordwes in Potchefstroom het uitstekende geriewe en ’n sterk voedingsbron danksy die universiteit (Pukke), maar dié provinsie is tans onder administrasie van Krieket Suid-Afrika (KSA).
• Intussen verneem Netwerk24 dat die Boland die voormalige Protea-kaptein Faf du Plessis in sy visier het mits die provisie een van die uitverkorenes agt sou wees.
Du Plessis het goeie verhoudinge opgebou met die bestuur in die Paarl, waar hy die Rocks aangevoer het.
Du Plessis het tot onlangs ’n KSA-kontrak gehad en kan dus nou kies vir wie hy wil speel.
Die 15 provinsies in die nuwe struktuur is die WP, Boland, Suidwestelike Distrikte, OP, Grens, Griekwas, Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Noordelikes, Oostelikes, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal.