Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Krieketbase swyg nog oor T20-WB

Daar is nog nie besluit of die T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) uitgestel of dalk selfs afgelas gaan word nie.

Die Wes-Indiese Eilande het die vorige T20-WB in 2016 in Indië gewen. Foto: Getty Images

Die Internasionale Krieketraad (IKR) het Donderdag ’n vergadering met sy lidlande se uitvoerende hoofde gehad, waar die invloed van die Covid-19-pandemie bespreek is.

Gebeurlikheidsbeplanning word gedoen en die situasie word nog gemonitor, maar geen besluite oor die toernooi is op die vergadering geneem nie, verneem Netwerk24.

Dié blitskrieket-skouspel is geskeduleer om in Oktober en November in Australië gespeel te word.

Volgens ’n verklaring van die IKR sal hul toekomstige-toere-program, wat tot 2023 strek, hersien moet word en soveel as moontlik van die toere wat weens die pandemie nie kon plaasvind nie, sal herskeduleer moet word.

Kevin Roberts, die uitvoerende hoof van Krieket Australië (KA), sê hulle werk nou saam met die IKR om te probeer verseker dat die T20-WB in Oktober gespeel sal word.

’n Finale besluit oor die toernooi sal eers later geneem word.

David White, hoof van die Nieu-Seelandse Krieketunie se raad, het voor Donderdag se vergadering gesê hy verwag nie enige besluite oor die T20-WB sal voor Julie geneem word nie, berig Reuters.

“Krieket Australië (KA) werk nou saam met regeringsowerhede en hulle beplan vir die T20-WB om voort te gaan in Oktober en November,” sê White.

Hy sê gebeurlikheidsbeplanning word gedoen en verskeie gesprekke gevoer.

Fairfax Media het Donderdag gesê KA het as deel van sy scenariobeplanning Februarie 2021 as ’n moontlike nuwe tydgleuf vir die T20-WB geoormerk.

Streng inperkingsmaatreëls in Australië en Nieu-Seeland het die infeksiekoers van die koronavirus laat daal, wat die hoop laat opvlam het dat sport dalk weer gou kan voortgaan.

Die Australiese kolwer Peter Handscomb is derhalwe vol vertroue dat die toernooi sal kan voortgaan.

“As jy kyk na wat ander sport probeer doen op die oomblik: Dis wonderlik om te sien dat die voetbal-sporte in Australië minstens weer wil begin oefen,” het Handscomb volgens Sport24.co.za gesê.

“Hulle gaan probeer om hul seisoene aan die einde van Mei, of in Junie/Julie te laat begin. Dit stel ’n baie goeie presedent vir sport in Australië vir die komende somer.”

Brendon McCullum, die voormalige Nieu-Seelandse kaptein. Foto: Getty Images

Australië se T20-kaptein, Aaron Finch, glo egter die toernooi kan uitgestel word.

“Ons moet dalk begin besef die T20-WB kan dalk met ’n maand, twee maande, drie maande, of wat ook al uitgestel word,” het hy aan SEN Radio in Melbourne gesê.

Brendon McCullum, voormalige Nieu-Seelandse kaptein, dink ook nie die T20-WB sal in Oktober en November plaasvind nie, berig Reuters.

McCullum, die hoofafrigter van die Indiese Premierliga (IPL)-span die Kolkata Knight Riders, voel liewer die IPL moet in Oktober en November gespeel word, met die T20-WB wat dan tot volgende jaar aangeskuif word.

Die IPL was veronderstel om op 29 Maart te begin, maar is onbepaald opgeskort.

“Ek sou sê die T20-WB moet in die gedrang wees,” het McCullum op die Sky Cricket-podsending gesê.

Hy kan hom dit ook nie indink dat die toernooi met geslote deure sal plaasvind nie.

Volgens McCullum kan die IPL dan in Oktober plaasvind, wanneer die T20-WB sou wees. Wedstryde kan met geslote deure gespeel word, aangesien groot kykersgetalle in die krieketmal Indië gewaarborg is, sê McCullum (38).

Die IKR, daarenteen, sal toeskouers nodig hê om van die T20-WB ’n sukses te maak.

Meer oor:  Krieket  |  Ikr  |  T20-Wêreldbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.