Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kolwe en gewere in Karatsji

Dit lyk meer soos Call of Duty as ’n kriekettoer.

In ’n konvooi van weermagbakkies met gewapende soldate agterop en selfs helikopters in die lug, is die Suid-Afrikaanse toetsspan Saterdag na hul hotel in Karatsji in Pakistan begelei.

Adrian le Roux (fiksheidsafrigter), Dean Elgar, Lungi Ngidi, Tabraiz Shamsi en Justin Ontong (veldwerkafrigter) draf Sondag om die veld in Karatsji. Foto: Twitter/PCB

Die draaibalbouler Tabraiz Shamsi het ’n foto op Twitter gedeel van twee soldate agterop een van die bakkies wat voor die spanbus gery het, met die byskrif: “Call of Duty in die regte lewe. Hierdie ouens speel nie met klein gewere nie en hulle is gereed vir aksie.”

Call of Duty is ’n oorlog-videospeletjie wat menige student en hoërskool-laaitie in een of ander tyd van sy lewe gejol het, maar in Pakistan is dit g’n speletjies nie.

Twee Pakistanse weermaglede in die konvooi wat die Proteas na hul hotel begelei het. Foto: Twitter/Tabraiz Shamsi

Daar is ’n rede waarom die Proteas in 2007 laas daar getoer het. Daar is ’n rede waarom Krieket Suid-Afrika (KSA) verlede jaar eers ’n afvaardiging, kompleet met veiligheidskenners en al, soontoe gestuur het om te kyk of die Proteas veilig sal wees. Die rede is dat veiligheidsvrese in Pakistan nie tot die Covid-19-pandemie beperk is nie.

Trouens, die virus is een van die kleiner bekommernisse in Pakistan. Internasionale krieket het immers al in 2009 in Pakistan gestaak – lank voor die koronavirus uitgebreek het.

In 2009 is Sri Lanka, wat op ’n toer in Pakistan was, se spanbus met gewere aangeval.

Mark Boucher, die Protea-afrigter, Sondag by ’n Protea-oefening in Karachi. Foto: Twitter/PCB

Die Proteas is dus besig met baanbrekerswerk – hulle help om internasionale krieket terug na Pakistan te neem.

Goeie nuus vir die Suid-Afrikaners is dat hulle almal ook negatief getoets is vir die koronavirus en Sondag vir die eerste keer in Karatsji kon oefen.

Die span is in kwarantyn en berei voor vir die eerste toets, wat op 26 Januarie begin.

Terwyl die weermag weg van die veld na die spelers omsien, sal die spelers moet seker maak hulle is gereed vir die uitdaging wat die Pakistani’s op die veld bied.

Die blaaie in Pakistan is gewoonlik vinnig, maar kenners soos Paul Harris meen draaiboulwerk kan tog ’n rol speel.

Mark Boucher, die breier, verwag goeie kolfoppervlaktes en die Suid-Afrikaanse kolwers sal dus wil sorg hulle sit groot lopies op die telbord. Die tweede en laaste toets begin op 4 Februarie in Rawalpindi.

Die toetsgroep kom daarna terug om voor te berei vir die toetsreeks teen die Aussies, wat óf in middel-Februarie, óf vroeg-Maart sal begin.

Meer oor:  Pakistan  |  Karatsji  |  Krieket  |  Toetskrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.