Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kritiek oor SA borrel ‘onregverdig’
Dr. Shoaib Manjra sê Engeland het vooraf ingestem tot die plan vir ’n “bioveilige omgewing” vir sy en die Proteas se spelers tydens hul toer die laaste paar weke. Foto: Gallo Images

Kritiek uit Engeland oor die doeltreffendheid van Krieket Suid-Afrika (KSA) se Covid-reëlings is onregverdig.

Die eendagreeks is Maandag amptelik tot ’n onbepaalde datum in die toekoms uitgestel nadat KSA en die Engelse Krieketraad (ECB) saam besluit het dis in die belang van beide spanne se sielkundige welstand.

Dr. Shoaib Manjra, hoof van KSA se Covid-19-komitee, het Maandag aan Netwerk24 gesê die “bioveilige omgewing” in Kaapstad was nooit veronderstel om só streng te wees soos die “bioborrels” in Engeland vroeër vanjaar nie.

Engeland en sy teenstanders, die Wes-Indiese Eilande, Pakistan en Australië, het tydens die Engelse somer in bioborrels tuisgegaan en gespeel en daar was nie ’n enkele positiewe toetsuitslag tydens die reeks nie.

Engeland het in die middel van verlede maand in Suid-Afrika aangekom vir ’n reeks van drie T20- en drie eendaagse wedstryde.

Albei spanne het in die Vineyard-hotel in Nuweland tuisgegaan en al die wedstryde is op Nuweland of op Bolandpark in die Paarl gespeel.

Hoewel daar geen ander gaste in die hotel was nie en die twee spanne in verskillende dele van die hotel afgesonder is, was daar steeds dele van die hotel waar mense van buite die hotel betree het.
Dr. Shoaib Manjra

Hoewel daar geen ander gaste in die hotel was nie en die twee spanne in verskillende dele van die hotel afgesonder is, was daar steeds dele van die hotel waar mense van buite die hotel betree het.

In Engeland het almal wat betrokke was by die toets, van die spelers, beamptes, media, uitsaaiers tot die veldopsigters, binne die “borrel” gebly.

Dit was nie so streng in Suid-Afrika nie, met die baanopsigters, media en die uitsaaiers wat nie in die Vineyard-hotel gebly het nie.

“Dit was altyd die plan. Ons het geweet dit was nie vir ons moontlik om presies dieselfde plan as Engeland te volg nie. Die ECB het begrip daarvoor gehad. Ons kon ook nie so baie toetse doen soos wat hulle in Engeland gedoen het nie,” het Manjra gesê.

“Ons het dus van die begin af geweet dat die ‘omgewing’ nie heeltemal dig is nie en dat daar positiewe toetsuitslae sou wees. Dit was altyd ’n geval van hoe ons die spelers wat positief getoets is, dan sou hanteer.”

Drie Protea-spelers, twee personeellede van die hotel en twee Engelse spelers is glo positief getoets tydens hul verblyf in die “bioveilige omgewing”.

Dit het gelei tot die uitstel van al drie eendagwedstryde. Engeland het vroeër die T20-reeks met 3-0 gewen.

Hoewel daar gemor word in Engelse geledere, het dit ook bekend geword dat Engeland die protokol verbreek het.

Engeland was nie tevrede met die oefengeriewe wat vir hulle by Nuweland gereël is nie en het Vrydag in die nette aan die Kelvin Grove-kant, agter die paviljoen, gaan oefen. Dié nette was nie binne die bioveilige omgewing nie.

Die Engelse het in hul verweer, luidens ’n berig op ESPNcricinfo, gesê die nette wat vir hulle op die veld opgerig was, het nie aan die nodige standaarde voldoen nie.

Manjra het ook gesê hy voorsien nie dat probleme met die Engelse reeks die komende toere van Sri Lanka en Australië in die gedrang sal bring nie.

Nee wat, dit behoort nie ’n probleem te wees nie. Sri Lanka kom oor ’n week in die land aan en die reëlings is ver gevorder.

“Nee wat, dit behoort nie ’n probleem te wees nie. Sri Lanka kom oor ’n week in die land aan en die reëlings is ver gevorder.

’n Krieket-administrateur wat anoniem wil bly, sê hy glo die deursigtigheid waarmee KSA dié moeilike kwessie hanteer, behoort in hul guns te tel.

“Geen omgewing is 100% veilig nie. KSA kon probleme probeer wegsteek het, maar was openhartig oor die uitslae van toetse en ander uitdagings. Dit behoort die ander lande se krieketrade vertroue te gee,” het hy gesê.

Dié administrateur het ook gesê KSA behoort nie ’n enorme finansiële verlies te lei uit die uitgestelde wedstryde nie.

“Solank daardie wedstryde in ’n vierjaar-siklus voltooi word, sal die uitsaaier (Sky in hierdie geval) KSA betaal.

• KSA het intussen aangekondig dat hy ’n kontrak met Fox Sports in Australië gesluit het om Suid-Afrikaanse krieket (mans én vroue se wedstryde) in dié land vir die volgende vier jaar uit te saai.

Meer oor:  Kaapstad  |  Ecb  |  Afgelas  |  Covid-19  |  Toer  |  Krieket  |  Ksa  |  Witbalreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.