Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Krieket SA die ‘skurk’ in WB-fiasko

Thabang Moroe en Krieket Suid-Afrika (KSA) se raad was regstreeks verantwoordelik vir verskeie faktore wat tot die Proteas se vrotsige Wêreldbeker (WB)-veldtog gelei het, blyk uit ’n verslag wat die Protea-breintrust ná die WB-toernooi ingedien het.

Agge nee ... nog ene wat weggekom het! Imran Tahir gee sy misnoeë te kenne by vanjaar se Wêreldbeker-misoes in Engeland. Foto: Gallo Images

Die “aftekenreg” wat die raad op 1 Februarie aan Moroe toegeken het, die gevegte tussen KSA en die spelersvereniging Saca, die versuim om spelers vroeër van die Indiese Premierliga (IPL) te laat terugkeer en ’n U-draai oor ’n belofte om Ottis Gibson se kontrak te hernieu, is van die redes wat vir die WB-misoes voorgehou word. Die verslag is ná die toernooi in Engeland, waar Suid-Afrika slegs drie uit nege wedstryde kon wen, deur Faf du Plessis, kaptein, Gibson, afrigter, en dr. Mohammed Moosajee, spanbestuurder, opgestel en ingedien.

Die omstrede Moroe, wat verlede week voorlopig deur die KSA-raad geskors is as uitvoerende hoof, blyk die hoofskurk in die verslag te wees, al word hy nooit by die naam genoem nie.

“Die besluit op 1 Februarie deur die raad dat die uitvoerende hoof (Moroe) spanne moet ‘afteken’, is nie goed ontvang deur die spelers nie en is as inmenging gesien,” lui die verslag, wat Rapport onder oë gehad het.

“Dié reg is op die Maandag ná die Vrydag se vergadering teruggetrek.

“Gelukkig het nugter denke geseëvier en die besluit is deur die raad omgekeer.”

Gibson is boonop laat verstaan dat daar op dieselfde vergadering goedkeuring gegee is dat sy kontrak, wat ná die WB verstryk het, verleng sou word. In Maart het Moroe en Corrie van Zyl, toe die hoof van krieket, hierdie onderneming aan Gibson herhaal.

“Blykbaar is die besluit omgekeer en (Gibson) is slegs daaroor ingelig op die dag van ons vertrek na die WB op 19 Mei. Die tydsberekening van die kommunikasie was uiters swak.”

Kaptein Faf du Plessis. Foto: Gallo Images

Dit is geen geheim nie dat Gibson ’n stokkie gesteek het voor Moroe se plan om die finale sê oor Protea-spanne te hê.

Dit was egter nie net die hoofafrigter wat na Engeland vertrek het met onsekerheid oor sy toekoms nie. In die verslag blyk dit Moo­sajee, Gibson en Du Plessis, asook die logistieke bestuurder, Volvo Masubelele, die fisioterapeut, Craig Govender, die veiligheidsbeampte, Zunaid Wadee, en die ontleder, Prasanna Agoram, het ook nie sekerheid oor hul kontrakte gehad nie.

Kort voor die WB-toernooi het dit boonop rugbaar geword dat Saca hofstukke ingedien het om KSA te keer om plaaslike krieket van ses franchise-spanne tot 12 eersterangse spanne te herstruktureer. Die besluit sou glo lei tot werkverlies vir 70 beroepspelers.

“Die dispuut tussen Saca en KSA was ontydig en ’n jammerte. Soveel as wat ons probeer het om dit nie op die voorgrond te hou nie, het dit die span-omgewing beïnvloed.”

Die grootste kwessie wat in die verslag aangeraak word, is KSA se versuim om te verseker sleutelspelers word vroeër van die IPL vrygestel, soos wat die afrigter, spanbestuur en mediese personeel versoek het.

Dít het gelei tot ’n tekort aan hersteltyd vir spelers, te min tyd saam met hul families, geestelike uitbranding, minder oefentyd en ’n groter gevaar vir beserings. Dit het ook veroorsaak dat spelers soos Du Plessis, Quinton de Kock en Imran Tahir, wat in die eindstryd gespeel het, twee dae laat vir die finale oefenkamp opgedaag het. Hulle moes reguit van Indië af by die span aansluit.

“(Die kamp) was aanvanklik beplan vir 11 tot 19 Mei, maar weens spelers wat in die IPL-eindstryd gespeel het, kon die kamp eers op 13 Mei begin. Verskeie aktiwiteite soos oefenwedstryde, oefensessies op die kolfblad, wedstryd-scenario-oefeninge en spanbou-oefeninge moes gekanselleer word.

“Die nasionale span het gevra dat Protea-spelers vroeër van die IPL terugkeer, soos wat Krieket Australië en die Engelse krieketraad gedoen het. Hierdie besluit is afgekeur deur die IPL en Indiese beheerraad en nie deur KSA ondersteun nie.”

Die trio wat die verslag opgestel het, sê dit is die rede dat hierdie die swakste voorbereiding was wat die nasionale span vir minstens die laaste drie WB-toernooie gehad het.

Kagiso Rabada is slegs vroeër vrygestel omdat hy ’n besering gehad het. Dit blyk ook nou sy IPL-span, die Delhi Capitals, het die erns van sy besering onderspeel.

“Rabada het ’n besering opgedoen teen die einde van die IPL en dit was eers nadat die (Protea-)spanbestuur ingegryp het deur te reël dat Govender hom sien, dat daar vasgestel is sy besering is ernstiger as wat sy franchise voorgehou het en dit was eers teen hierdie tyd wat hy van die IPL vrygestel is.”

Sy reusagtige werkslading word as die groot rede vir Rabada se louwarm WB voorgehou.

“Hy het meer boulbeurte as enige ander bouler in daardie stadium van sy loopbaan afgestuur. Daar was ’n afname in sy boulspoed by die WB (in vergelyking met die Pakistan-reeks), wat daarop dui dat die lading op KG bygedra het tot uitbranding en swak vertonings.”

Die voorstel word gemaak dat KSA hersien hoe hy sy kwota-vereistes bestuur, sodat spelers soos Rabada en Lungi Ngidi genoegsame rus kan kry.

Moosajee, Gibson en Du Plessis beveel aan dat vinniger en beter besluite voortaan geneem moet word oor kwessies soos die kontrakte en die IPL.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.