Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Krieket SA: Dis als media se skuld!
Kugandrie Govender

Die media het sy mes in vir Krieket Suid-Afrika (KSA) omdat sekere joernaliste voorheen onsuksesvol aansoek gedoen het vir poste by dié organisasie, het Kugandrie Govender vandeesweek vir die land se voorste mans- en vrouespelers gesê.

Govender, waarnemende uitvoerende hoof van KSA, het ook gesê die media stel die beheerliggaam in ’n negatiewe lig omdat hulle kwaad is dat KSA medialede nie meer op “onnodige uitstappies” neem of vir hulle geskenke gee nie.

Govender en die onafhanklike raadslid Dheven Dharmalingam, hoof van die finansiële komitee, het Donderdag virtueel met ’n groep nasionale spelers vergader. Die vergadering het gevolg ná ’n week van drama, waartydens die minister van sport, Nathi Mthethwa, KSA én die Internasionale Krieketraad (IKR) ingelig het dat hy volgens die Nasionale Wet op Sport en Ontspanning by KSA wil intree.

Mthethwa het KSA tot 27 Oktober om 17:00 tyd gegee om ’n geskrewe voorlegging te doen met redes waarom hy nie by die beheerliggaam moet intree nie. KSA het nog nie op Mthethwa se kennisgewing van Woensdag gereageer nie, maar gesê “KSA sal mettertyd kommentaar lewer”.

Govender het gister aan Rapport gesê een van die spelers wou weet waarom “die media aanhoudend ’n ander storie oor (KSA se) finansiële stabiliteit vertel, en dat daar konstante negatiwiteit in die media is”.

Ek, en ’n paar ander mense in die organisasie, het opgelet dat van die negatiewe verslaggewing gedoen word deur joernaliste wat onsuksesvol aansoek gedoen het vir poste by KSA.

“My antwoord was dat ek net kan bespiegel, maar dat ek, en ’n paar ander mense in die organisasie, opgelet het dat van die negatiewe verslaggewing gedoen word deur joernaliste wat onsuksesvol aansoek gedoen het vir poste by KSA,” sê Govender.

“Ek het ook benadruk dat KSA sy finansiële beheer opgeskerp het en dit het tot ’n verandering in ons mediastrategie gelei. Die veranderinge sluit in dat geskenke en onnodige uitstappies vir die media nie goedgekeur is nie.”

Rapport verneem verskeie spelers het dié antwoord met agterdog bejeën. Govender het ook glo vir die spelers gesê KSA is die bes bestuurde sportorganisasie in die land.

Die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (Saca) het Woensdag ná Mthethwa se kennisgewing in ’n verklaring gevra dat KSA se raad moet ontbind ná talle bestuursprobleme by die beheerliggaam. Saca is nie na Donderdag se vergadering tussen die spelers en KSA genooi nie.

“Die vergadering was ’n interne vergadering tussen werkgewer en werknemer. As sodanig was dit nie nodig om Saca na die vergadering te nooi nie,” sê Govender aan Rapport.

“Ons het toegelate platforms vir skakeling met ons werknemers. Ons het ’n ander vergadering met Saca wat vir die komende weke geskeduleer is.”

KSA se kommunikasieplan sluit een-tot-een-onderhoude met medialede in, “om ’n deeglike begrip te kry oor wat die media se bekommernisse met KSA is”.

Govender het vroeër vanjaar, net ná haar aanstelling as tydelike KSA-hoof in Augustus, aan Rapport gesê een van haar doelstellings is om verhoudinge te verbeter. Dit sluit in verhoudinge met die media en Saca.

Sy het gister gesê KSA se kommunikasieplan sluit een-tot-een-onderhoude met medialede in, “om ’n deeglike begrip te kry oor wat die media se bekommernisse met KSA is”.

KSA het glo ook ’n vergadering met die IKR gehad, waar die sekretaris, Welsh Gwaza, voorleggings gedoen het oor die beheerliggaam se planne om die bevindinge in die veelbesproke Fundudzi- forensiese verslag na sy bestuurspraktyke te hanteer. KSA het ’n “padkaart” daargestel en is glo besig met tugsake teen diegene wat in die verslag geïmpliseer word.

KSA is ook besig om sy akte van inlywing (die organisasie se “grondwet”) te hersien.

Al dié planne is egter nie genoeg vir Mthethwa nie. Hy glo nie KSA kan “self-korrigeer” nie.

Hy wil hê Saskok, die moederliggaam, se plan om ’n onafhanklike taakspan aan te stel om KSA te ondersoek, moet deurgevoer word. Saskok eis dat KSA se raad en bestuur afstand van hul pligte doen terwyl sy taakspan te werk gaan.

KSA is nie hiervoor te vinde nie – vandaar die minister se plan om in te tree.

KSA het glo regsadvies ingewin om vas te stel of daar gronde is waarop hulle Mthethwa se ingrypingsplan kan uitdaag.

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Ksa  |  Kommunikasieplan  |  Negatiwiteit  |  Kugandrie Govender  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.