Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Krieket Suid-Afrika is jóú baba, Nathi!’

Gee ons meer geld – of gaan red Krieket Suid-Afrika (KSA) self.

Dit is die strekking van ’n brief waarin die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese komitee (Saskok) Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, Vrydag in kennis gestel het dat hulle nie meer die warm patat wat KSA geword het, wil hanteer nie.

Die Saskok-raad het op ’n raadsvergadering Vrydagoggend besluit hy kan nie voortgaan met sy eie reddingspoging nie weens KSA se onwilligheid om die omstrede Fundudzi-forensiese verslag aan hulle beskikbaar te stel.

Dít, meen die raad, sal noodwendig lei tot die verklaring van ’n dispuut tussen Saskok en KSA – en die Olimpiese liggaam het eenvoudig nie geld daarvoor nie.

“Ons aandrang op die forensiese verslag is met ernstige weerstand begroet deur die administrateurs van KSA,” skryf Saskok.

“(Hulle het) dit glashelder gemaak dat dit nie onvoorwaardelik aan ons uitgereik sal word nie en dat ons raadslede ’n vertroulikheidsooreenkoms sal moet onderteken. Dit sal verhoed dat ons advies en aanbevelings (van buite) sal kan kry oor die verslag."

Saskok sê voorts dit blyk uit onlangse mediaberigte dat KSA vasbeslote is om te ‘selfkorrigeer’ met sy huidige raad en uitvoerende bestuurslede steeds in hul posisies.

Dit ten spyte daarvan dat sommige van hulle na Saskok se mening moontlik in die forensiese verslag geïmpliseer word.

“Dit het duidelik geword dat KSA, wat hulpbronne tot sy beskikking het, nie geredelik met Saskok sal saamwerk nie, en dit is daarom onvermydelik dat ’n dispuut tussen Saskok en KSA verklaar sal word. Dit sal uitloop op ’n lang en duur litigasieproses en sal hulpbronne vereis wat Saskok eenvoudig nie het nie.”

Nathi Mthethwa

Dit is geen geheim nie dat Sas­kok finansieel sukkel. Ravi Govender, die liggaam se waarnemende uitvoerende hoof, het vroeër vanjaar aan die parlementêre portefeuljekomitee oor sport, gesê Sas­kok begroot vir ’n verlies van minstens R8 miljoen in die huidige finansiële boekjaar en weet nie of hy genoeg geld sal hê om spanne na aanstaande jaar se Olimpiese en Paralimpiese Spele in Tokio te stuur nie.

Die organisasie se ledefederasies is boonop ook moeg daarvoor dat soveel van Saskok se geld aan regskoste bestee word. Dit was glo een van die redes waarom hulle verlede week besluit het die tugproses teen Barry Hendricks, waarnemende Sas­kok-president, moet onmiddellik gestaak word.

In die brief moedig Saskok ook die minister aan om alle stappe binne sy magte te doen om die waardigheid van krieket te herstel.

“Sou u egter bereid wees om hulpbronne aan Sas­kok beskikbaar te stel sodat ons korrektiewe maatreëls kan instel, sal ons graag alle meganismes tot ons beskikking gebruik om KSA tot sy vroeëre glorie te herstel,” voeg hulle by.

’n Saskok-raadslid het by navraag aan Rapport gesê daar was eenstemmigheid onder die raadslede op die vergadering dat hulle niks verder kan doen om KSA tot inkeer te bring oor die Fundudzi-verslag nie.

“As die minister geld gee, kan ons aangaan, maar soos sake nou staan, is dit onmoontlik,” het die raadslid gesê.

“Onthou net dat dit nie Sas­kok was wat besluit het ons wil ingryp nie. Ons is genader om te help deur die minister en deur KSA self.

“Nou het die krieketadministrateurs van plan verander oor of hulle ons hulp nodig het, en is ons enigste roete vorentoe deur ’n regsproses. Sonder finansiële ingryping van die minister is dit nie vir ons ’n opsie nie.”

Rapport verneem onlangse gebeure by Saskok self het ook ’n (we­liswaar kleiner) rol in hul besluit gespeel.

Die Saskok-raad is ongelukkig daaroor dat hul ledefederasies verlede Saterdag ’n resolusie om Hendricks se skorsing en tugproses op te hef, aanvaar het, en bestempel die proses en vergadering waar dit gebeur het as ongrondwetlik.

’n Saskok-raadslid het die afgelope week gesê die Olimpiese liggaam “het nou geen morele en etiese voet om op te staan in sy aandrang dat KSA sy huis in orde moet kry nie. Hoe kan hy, nadat hy sy eie grondwet oortree het?”

Dit is na verneem word ’n mening wat deur etlike raadslede gedeel word.

Meer oor:  Geld  |  Reddingspoging  |  Nathi Mthethwa  |  Fundudzi-Verslag  |  Saskokksa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.