Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KSA is nou soos Tsjernobil, sê Lorgat

Dit wat nou in Suid-Afrikaanse krieket gebeur, kan vergelyk word met die Tsjernobil-kerntragedie in die Oekraïne.

So sê Haroon Lorgat, Thabang Moroe se voorganger as uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA).

Haroon Lorgat (links) saam met die SA kaptein, Faf du Plessis. Foto: Gallo Images

Lorgat, wie se tydperk aan die stuur self nie altyd maanskyn en rosegeur was nie, het aan Sport24 gesê dit is pynlik om dop te hou wat by KSA gebeur.

“Ons het dié liggaam in ’n gesonde en baie goeie finansiële posisie gelaat en ons is gesien as van wêreldgehalte.

“Wat oor die laaste 18 maande gebeur het, maak nou baie seer. Die spel waarvoor ons almal só lief is, het baie seergekry en dit is hartseer,” sê hy.

“Dit is soos wat by Tsjernobil gebeur het. Die raad kon sien wat is besig om te kom, maar het niks daaraan gedoen nie.
Haroon Lorgat

Lorgat meen Moroe kan Saterdag op ’n spesiale raadsvergadering uitgeskop word as die meerderheid lede van die uitvoerende raad wantroue uitspreek in sy vermoë om KSA te lei.

Al hoe meer stemme het die afgelope paar dae opgegaan dat hy onbevoeg is om die uitvoerende hoof van KSA te wees.

Lorgat glo egter die raad dra baie skuld vir die situasie waarin die spel hom nou bevind.

’n Besluit is in September geneem om KSA se grondwet te wysig sodat die voorsitter, Chris Nenzani, nog ’n jaar kan aanbly in daardie pos.

“Dit was die eerste teken dat alles nie reg is in KSA nie,” sê Lorgat.

“Dit is soos wat by Tsjernobil gebeur het. Die raad kon sien wat is besig om te kom, maar het niks daaraan gedoen nie. Ek het egter nooit gedink dinge sou só sleg raak nie,” sê hy.

Toe ek daar weg is, is Thabang in ’n waarnemende rol aangestel. Hy is net 36 jaar oud en het nie die nodige ervaring om in só ’n belangrike rol te wees nie,
Haroon Lorgat

Volgens hom moet die regering betrokke raak, die hele KSA-raad skors en ’n onafhanklike liggaam daarstel om krieket in Suid-Afrika weer op die regte pad te kry.

“Toe ek daar weg is, is Thabang in ’n waarnemende rol aangestel. Hy is net 36 jaar oud en het nie die nodige ervaring om in só ’n belangrike rol te wees nie,” sê Lorgat.

“In die ses maande dat hy waargeneem het, moes die raad tog waarskuwingstekens gesien het. Hulle het nie en nou sit ons in ’n gemors,” sê hy.

Lorgat meen onder leiding van Moroe het het KSA agteruit beweeg wat transformasie en die ontwikkeling van krieket op voetsoolvlak betref.

“Ons verloor ’n generasie van goeie spelers. Hoekom sal ’n talentvolle sportman ’n loopbaan in krieket wil volg met hoe dinge nou verloop? Hoekom sal sy ouers hom enigsins aanmoedig om dit te doen?”

Hy reken om Moroe en die nuwe afrigter (Enoch Nkwe) in sulke top-poste aan te stel, is teen-produktief vir die doelwit van transformasie.

Lorgat se tydperk as uitvoerende hoof het in September 2017 ook op ’n baie omstrede wyse geëindig toe hy ná ’n onderonsie met die raad waar die T20 Global League geskrap is, van die toneel verdwyn het.

Meer oor:  Krieketskrywers  |  Haroon Lorgat  |  Ksa  |  Krieket Suid-Afrika  |  Akkreditasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.