In sy forensiese ondersoek na bestuurspraktyke by Krieket Suid-Afrika (KSA) het Fundudzi bewerings ondersoek dat KSA-kredietkaarte gebruik is om die gewese uitvoerende hoof, Thabang Moroe, se verjaardagpartytjie in 2019 te befonds.

Thabang Moroe, afgedankte uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, het vermoedelik ’n lekker “verjaardagpartytjie” op KSA se rekening in ’n spoggerige Kaapse restaurant gehou. Foto: Gallo Images
KSA-kredietkaartstate wys R50 000 is op 6 Januarie 2019 in die spoggerige Kaapstadse restaurant Coco aan “alkoholiese verversings” bestee. Moroe se verjaardag is op 5 Januarie.
Fundudzi skryf in sy forensiese verslag dat hy ’n betaalstrokie van Coco gesien vir ’n transaksie van R28 038,50 op 6 Januarie. Dit sluit ’n fooitjie van R3 115,50 in. Die strokie is aan Moroe uitgemaak, maar daar was geen ooreenstemmende transaksie op sy persoonlike kredietkaartstaat nie.
Fundudzi het egter agter die kap van die byl gekom toe hy die kredietkaartstate van Naasei Appiah, wat later as bedryfshoof afgedank is, nagegaan het.
Die ondersoekers het twee transaksies op 6 Januarie 2019 van R30 000 en R10 000 onderskeidelik op Appiah se maatskappy-kredietkaart opgemerk. Bogenoemde betaalstrokie van R28 039,50 is as bewys vir die betaling van R30 000 ingedien. Geen ondersteunende dokumentasie vir die betaling van die R10 000 is ingedien nie.
Moroe se “verjaardagpartytjie” was in die tydperk van die Proteas se Nuwejaarstoets teen Pakistan.
Fundudzi het óók ’n betaling van R10 000 op die maatskappy-kredietkaart van Ziyanda Nkuta, die afgedankte finansiële hoof, opgemerk. Die transaksie was ook op 6 Januarie in Coco.
Nkuta het dié uitgawe as “vermaak” beskryf op die amptelike vorm wat vir uitgawes ingedien moes word. Sy lynhoof het dit egter nie onderteken nie.
“Die kredietkaarttransaksies op Appiah en Nkuta se KSA-kredietkaarte wat R50 000 beloop sonder dat hulle enige dokumentasie ingedien het, kan dus die bewerings bevestig dat KSA se kredietkaarte gebruik is om Moroe se verjaardagpartytjie te finansier.
“(Chris) Nenzani (gewese president), het aangedui dat dit na sy mening nie gepas was om R50 000 op die maatskappy se kredietkaarte in ’n restaurant/nagklub op alkohol uit te gee nie,” lui die Fundudzi-verslag.
Op 8 Desember 2018, die dag ná ’n Mzansi-superliga (MSL)-wedstryd op Nuweland, het Moroe R28 000 in Coco op “vermaak” uitgegee.
Moroe se “verjaardagpartytjie” was in die tydperk van die Proteas se Nuwejaarstoets teen Pakistan. Dit was ook nie die enigste keer dat Coco goeie geld uit KSA gemaak het nie.
Minder as ’n maand tevore het Moroe by twee geleenthede gesamentlik R50 080 in Coco uitgegee.
Op 8 Desember 2018, die dag ná ’n Mzansi-superliga (MSL)-wedstryd op Nuweland, het Moroe R28 000 in Coco op “vermaak” uitgegee. Hy het self die uitgawe onderteken.
Moroe het op 17 Desember ook R22 080 in dieselfde restaurant op ’n partytjie ná die MSL-eindstryd spandeer. Die strokie reflekteer “alkoholiese verversings met ’n fooitjie van R2 365,80”.
Coco het dus in minder as ’n maand meer as R100 000 uit KSA-werknemers verdien.
KSA het nie ’n kredietkaartbeleid nie.