Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KSA kap Engelse se ‘negatiwiteit’
Regter Zak Yacoob, voorsitter van die tussentydse raad van Krieket Suid-Afrika, praat Donderdagop ’n aanlyn nuuskonferensie. Foto: Gallo Images

Ondanks bespiegelinge die afgelope week dat Sri Lanka se kriekettoer na Suid-Afrika in die slag kan bly nadat die Proteas en Engeland se eendagreeks weens probleme met die “bioveilige omgewing” uitgestel moes word, het Krieket Suid-Afrika (KSA) en sy Sri Lankaanse eweknie aangekondig dat dié toetsreeks soos beplan sal voortgaan.

KSA het Donderdagmiddag in ’n verklaring gesê dat Sri Lanka Krieket (SLC) ná ’n vergadering met Namal Rajapaksa, die minister van sport, besluit het om sy verpligtinge in Suid-Afrika na te kom.

Dié reeks vorm deel van die Internasionale Krieketraad se toetskampioenskap.

SLC en die minister se besluit het grootliks berus op ’n assessering wat ’n Sri Lankaanse mediese kenner, prof. Arjuna De Silva, van KSA se Covid-19-protokolle gedoen het.

Mickey Arthur

Mickey Arthur, Sri Lanka se hoofafrigter, en ’n mediese spesialis sal so gou moontlik na Suid-Afrika vertrek om die situasie ter plaatse verder te ondersoek en die nodige reëlings te tref voor die toerspan in die land aankom.

Volgens Kugandrie Govender, KSA se waarnemende uitvoerende hoof, het De Silva eerlike gesprekke met hulle gehad oor KSA se Covid-19-planne en gereedheid om die toer aan te bied en is sy dankbaar dat enige vrese besweer kon word.

Die eerste van twee toetse sal op 26 Desember op SuperSport-park in Centurion begin.

Zak Yacoob, voorsitter van KSA se tussentydse raad, en Graeme Smith, die nasionale direkteur van krieket, het vroeër ook vrese besweer dat Australië se beplande besoek aan Suid-Afrika vir ’n toetsreeks van die baan is.

Daar was onlangs berigte in die Australiese media dat Krieket Australië (KA) oorweeg om dié reeks, wat einde Februarie in Suid-Afrika moet begin, na Perth te skuif as gevolg van kommer oor hoe KSA die Engelse toer bestuur het.Yacoob het egter gesê daar was nog geen besprekinge met KA oor die toer nie. Smith het dit bevestig.

“Ons eerste bedryfsvergadering met KA (oor die toer) vind eers volgende week plaas,” sê Smith.

Yacoob het ook gesê hy verwerp ten sterkste aantygings dat KSA foute gemaak het met die bestuur van die “bioveilige omgewing” in Kaapstad en die Paarl tydens die Engelse reeks.

“Ek het volle vertroue in ons Covid-19-protokolle,” het Yacoob op ’n aanlyn nuuskonferensie gesê.

“Die Engelse houding was baie negatief (oor die toer)” sê Yacoob.

Ek het volle vertroue in ons Covid-19-protokolle. Die Engelse houding was baie negatief (oor die toer.
Zak Yacoob

“Ons (die tussentydse raad) het ons protokolle in diepte ondersoek en glo dit was baie goed. Daar was dalk ’n paar probleme met die Engelse span se reaksie op ’n paar vals positiewe toetse, maar dit is al,” sê Yacoob.

Gevra of KSA op ’n verskoning van die Engelse Krieketraad (ECB) gaan aandring oor die aantygings dat KSA foute gemaak het, het Yacoob gesê: “Nee, ons gaan nie vir ’n verskoning vra nie, maar ons gaan onwaarhede sterk beantwoord.”

Engeland het oorspronklik na Suid-Afrika getoer vir drie T20- en drie eendaagse wedstryde. Al die wedstryde sou of op Nuweland in Kaapstad of op Bolandpark in die Paarl gespeel word.

Eoin Morgan (regs), Engeland se kaptein, saam met Jos Buttler. Foto: Getty Images

Engeland het die T20-reeks met 3-0 gewen, maar die eerste kitswedstryd verlede Vrydag op Nuweland is tot die afgelope Sondag uitgestel nadat ’n Protea-speler positief getoets is.

Die res van die span is Saterdag weer getoets en al die uitslae was negatief. Die eerste kitswedstryd sou toe Sondag in die Paarl plaasvind.

Sondag se wedstryd het egter nooit plaasgevind nie nadat twee personeellede van die Vineyard-hotel in Kaapstad intussen ook positief getoets is. Twee lede van die Engelse toergroep is ook positief getoets, maar dit is later as vals positiewe toetse uitgewys.

KSA en die ECB het egter Maandag ’n gesamentlike verklaring uitgestuur waar hulle saamgestem het om die toer uit te stel as gevolg van die “sielkundige impak” wat die situasie op die besoekers gehad het.

Meer oor:  Zak Yacoob  |  Engeland  |  Sri Lanka  |  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Ksa  |  Reeks  |  Proteas  |  Covid-19  |  Toer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.