Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KSA kry nou jou huis in orde – Pollock
Shaun PollockFoto: Getty Images

Krieket Suid-Afrika (KSA) moet sy huis so gou as moontlik in orde kry.

Dit is die boodskap van die eertydse nasionale kaptein, Shaun Pollock, wat die afgelope naweek aan die Gary Player uitnodigingstoernooi by die Lost City-gholfbaan in Sun City deelgeneem het.

Soos vir feitlik almal wat die Suid-Afrikaanse krieketbelange op die hart dra, is KSA se planne vir Pollock omtrent so helder soos modder.

“Ek weet ook nie hoe KSA se planne met die aanstelling van hul direkteur van krieket gaan werk nie en wanneer alles in plek gaan wees nie, maar met ’n massiewe toer van Engeland wat feitlik op hande is, moet dinge vinnig gebeur sodat die planne in werking gestel kan word vir daardie toer,” sê Pollock.

Met ’n massiewe toer van Engeland wat feitlik op hande is, moet dinge vinnig gebeur sodat die planne in werking gestel kan word vir daardie toer.
Shaun Pollock

“Sportsituasies in Suid-Afrika, soos met feitlik alles, is baie kompleks en om aansoek te doen vir die pos as direkteur van krieket moet jy die sensitiwiteit van die land en SA krieket verstaan.

“Dit is dalk net té ambisieus om te wil dink dat veel verandering aangebring kan word.

“Die nasionale span moet herbou word nadat verskeie sleutelspelers oor die laaste twee jaar verloor is en dit gaan altyd ’n uitdaging wees.

“Wanneer die spanbestuur daargestel word, moet daar slim gekies word en daar sal goeie wedstrydplanne moet wees.

Thabang Moroe, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

“Hierdie toer van Engeland gaan ’n grote wees en sal bepalend wees om te sien waartoe hierdie SA span in staat is,” glo Pollock.

“Ek weet nie genoeg van diegene wat in beheer is (Thabang Moroe en kie) om hul karakter en hul agendas te kan bespreek nie.

“Die feit dat van hulle nie op die hoogste vlak gespeel het nie, is nie vir my ’n bepalende faktor nie.

“Ek glo altyd dat wanneer ’n span deur ’n moeilike tyd gaan, soos die nasionale span nou, moet jy terugkeer na die basiese aspekte.

“Ek glo ons boulaanval met Vernon (Philander), KG (Kagiso Rabada), Lungi (Ngidi) en dalk nog een veelsydige speler, is goed genoeg om 20 paaltjies te neem. Die uitdaging gaan egter vir die kolwers wees om teen ’n baie goeie Engelse boulaanval genoeg lopies aan te teken om ons ’n wenkans te gee.

“Daar gaan ook net een plaaslike meerdagwedstryd wees vir die toetsspelers om slaggereed te word vir die eerste toets vanaf 26 Desember in Centurion.

Veral uit ’n keurder-oogpunt sal dit nutteloos wees om T20-krieket te kyk en dan die span te wil kies.
Shaun Pollock

“Dit is maar min kans, want met hierdie MSL (Mzansi-superliga) kan jy beslis nie in ’n T20-reeks ingestel word vir ’n toetsreeks nie. Veral uit ’n keurder-oogpunt sal dit nutteloos wees om T20-krieket te kyk en dan die span te wil kies,” sê hy.

Pollock reken ook die nasionale spelers moet meer blootstelling in die plaaslike reeks kry en veral in die meerdaagse kompetisie.

“Ons moet slaggereed wees vir daardie eerste twee toetse teen Engeland, anders gaan ons die heeltyd moet terugveg en dit gaan nie maklik wees nie.

Pollock het ook die kapteinskap van die nasionale span oorgevat net ná die krisis met die Hansie Cronjé-skandaal, maar hy sê dit was ’n heel ander soort van situasie en hy het darem ’n goeie span en goeie stelsel geërf.

Wat die kolfblaaie teen Engeland betref, sal Pollock net goeie krieketblaaie wil sien.

“Ons sterkpunt is ons boulaanval en die kolfwerk is taamlik onervare. Sorg net dat die blaaie goed en betroubaar is en waarop die kolwers groot tellings kan bou,” reken hy.

Meer oor:  Thabang Moroe  |  Shaun Pollock  |  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Ksa  |  Direkteur  |  Proteas  |  Afrigter  |  Toetsreeks  |  Toer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.