Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Krieket SA moet nou die moue oprol’

Daar wag harde werk op die nuutverkose raad van Krieket Suid-Afrika (KSA).

Nie net is dié beheerliggaam in ’n benarde finansiële posisie nie, KSA moet sy geloofwaardigheid herwin ná 18 maande van interne struweling.

Eerste op die agenda is om ’n voorsitter te kies en dan om ’n nuwe uitvoerende hoof aan te stel. KSA was sedert die begin van Desember 2019 onder die beheer van ’n reeks tussentydse uitvoerende hoofde.

Die laaste voltydse uitvoerende hoof was Thabang Moroe, wat in Desember 2019 geskors is.

Rihan Richards tydens KSA se jaarvergadering. Foto: Gallo Images

Rihan Richards, wat Saterdag by die jaarvergadering verkies is as die Lederaad se president, het gesê dat KSA in die huidige boekjaar ’n verlies van R250 miljoen gely het.

“Die verkorting van die Engelse toer en die kansellasie van die Australiese en Indiese toere weens Covid het ’n reuse-impak gehad,” sê Richards.

Die jaarvergadering was die eerste sedert die Lederaad ’n paar weke gelede ’n nuwe akte van inlywing aanvaar het.

Die nuwe struktuur is onder druk van die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, aanvaar.

Daar is agt onafhanklike lede en slegs vyf nie-onafhanklike lede (provinsiale presidente) in die nuwe raad. Die vyf nie-onafhanklike lede wat verkies is, is Daniel Govender (KZN), John Mogodi (Limpopo), Craig Nel (Mpumalanga), Tebogo Siko (Noordelikes) en Simphiwe Ndzundzu (Grens).

Die onafhanklike lede is Steven Budlender, Andrew Hudson, Dugmore Lushaba, Lawson Naidoo, Andisa Ntsubane, Mark Rayner en Muditambi Ravele.

Slegs sewe van die agt onafhanklike lede is aangestel nadat sommige lede van die Lederaad beswaar aangeteken het teen die aanstelling van die voormalige KSA-president Norman Arendse.

’n Onafhanklike nominasie-paneel onder die leiding van Muhammad Seedat stel die onafhanklike lede aan en het besluit om Arendse te heroorweeg.

Die laaste raadslid sal teen Dinsdag aangekondig word.

Richards het ná die vergadering op ’n nuuskonferensie gesê dat daar verskeie besware teen Arendse se aanstelling is.

“Hy was die hoof- nie-onafhanklike direkteur toe Thabang Moroe as uitvoerende hoof aangestel is. Ons het ook nie gehou van sommige opmerkings wat hy (Arendse) gemaak het toe hy nie by KSA betrokke was nie,” sê Richards.

Die verkiesing van die nuwe raad het ’n einde gebring aan die termyn van die tussentydse raad met Stavros Nicolaou wat KSA sedert September verlede jaar bestuur het.

Nicolau, die voorsitter van die tussentydse raad, het ná die jaarvergadering gesê hy is trots op die nuwe struktuur wat aanvaar is.

“Met ’n onafhanklike raad is KSA se struktuur nou in lyn met hoe moderne maatskappye bestuur word. Ek glo dit sal KSA help om vertroue by sy huidige en toekomstige borge te herwin,” sê Nicolaou.

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Rihan Richards  |  Stavros Nicolaou  |  Proteas  |  Krieket Sa  |  Ksa  |  Ksa-Raad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.