Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KSA positief oor vlak 3, maar vraagtekens bly
Jacques Faul, die waarnemende uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Krieket Suid-Afrika (KSA) is verheug oor die regulasies wat die bevelsraad Donderdag oor vlak 3 van die inperkings gepubliseer het, maar kan nog nie sê wanneer krieketspelers kan terugkeer oefenveld toe nie.

“Dit is baie positief, ons is dankbaar. Ons is in gesprek met die departement van kuns, kultuur en sport oor riglyne oor die terugkeer tot die oefenveld en/of speelveld,” sê Jacques Faul, KSA se waarnemende uitvoerende hoof.

Ingevolge die vlak 3-regulasies wat Donderdag gepubliseer is, bly sportterreine, sportvelde en swembaddens van Maandag af toe vir die publiek, maar is oop vir beroepsatlete om te oefen.

Venues mag oopgestel word vir wedstryde in nie-kontaksporte. Net spelers, wedstrydbeamptes, joernaliste, mediese en televisiepersoneel sal toegelaat word. Daar sal geen toeskouers wees nie.

Ons is in gesprek met die departement van kuns, kultuur en sport oor riglyne oor die terugkeer tot die oefenveld en/of speelveld.
Jacques Faul

Nou is die vraag wanneer kan krieketspelers terugkeer oefenveld toe en hoe dit sal werk.

“Vlak 3 is reeds afgekondig, maar ons sal moet wag dat die minister (Nathi Mthethwa) al die kwessies uitklaar. Dit is tans in breë omskrywings vervat in die regulasies, so ons kan nie bespiegel oor wat die presiese implikasies gaan wees nie,” het Max Jordaan aan Netwerk24 gesê. Jordaan is KSA se transformasiebestuurder en dien ook in die beheerliggaam se Covid-19-stuurkomitee.

“Ons wag vir duidelikheid van die minister Saterdag. Dis ons verantwoordelikheid om die veiligheid van ons spelers te beskerm ten alle tye.” Mthethwa is veronderstel om die land Saterdag oor die regulasies toe te spreek.

Jordaan het in ’n verklaring ook weer verwys na die “bio-borrel”, waarvan KSA se mediese hoof, dr. Shuaib Manjra, ook vroeër gepraat het. Manjra het verlede week gesê Potchefstroom is dalk die ideale plek vir die reeks van drie T20-wedstryde in Augustus teen Indië, omdat dit in ’n “bio-borrel” omskep kan word.

“KSA kyk na ’n moontlike bio-veilige sone, oftewel ’n bio-borrel. Dit beteken spelers sal in dieselfde omgewing bly en speel, terwyl alle voorsorgmaatreëls getref sal word. Spelers, beamptes en personeel sal getoets word voordat hulle by die sone ingaan,” sê Jordaan.

Jono Leaf-Wright, uitvoerende hoof van die Lions, dien ook in KSA se Covid-19-stuurkomitee. Foto: Gallo Images

Verlede week, voordat die regulasies van vlak 3 gepubliseer is, het Faul gesê daar is ’n moontlikheid dat die plaaslike seisoen eers volgende jaar kan begin, maar sake het uiteraard nou verander.

Jono Leaf-Wright, uitvoerende hoof van die Gautengse Krieketunie, het Vrydagoggend op ’n nuuskonferensie gesê die plan is steeds dat die plaaslike seisoen in November begin.

“Ons werk hard aan die protokolle om spelers terug op die oefenveld te kry. Ek sit in KSA se Covid-19-stuurkomitee en baie positiewe strategieë word in dié verband opgestel,” sê Leaf-Wright.

“Ons het vir die laaste vier weke planne in plek vir wat die protokolle by die stadion en in die span moet wees sodra ons toegelaat word om terug te keer na die oefenveld.

“By die Lions hoop ons om binne die volgende week of twee terug te keer na die Wanderers om te begin oefen.”

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Nathi Mthethwa  |  Proteas  |  Jacques Faul
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.