Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KSA oorhandig verslag aan Mthethwa
Dr. Stavros Nicolaou, voorsitter van KSA se tussentydse raad. Foto: Gallo Images

’n Nuwe era vir Krieket Suid-Afrika (KSA) word Saterdag ingelui.

KSA hou dan vir die eerste keer sedert 2019 ’n jaarvergadering, waar ’n nuwe, voltydse raad verkies sal word om die leisels by die tussentydse raad oor te neem.

Die nuwe raad sal uit agt onafhanklike raadslede, vyf nie-onafhanklike raadslede (oftewel direkteure uit die geledere van die lederaad) en twee uitvoerende KSA-beamptes, die uitvoerende en finansiële hoof, bestaan.

Die tussentydse raad, onder leiding van dr. Stavros Nicolaou, voorsitter, het Vrydag ’n verslag van die werk wat hulle sedert hul aanstelling in November 2020 verrig het aan Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, oorhandig.

Mthethwa het die tussentydse raad verlede jaar aangestel om ’n voortslepende bestuurskrisis by KSA te probeer oplos.

Die tussentydse raad sê in die slot van sy verslag hy het ’n “organisasie in vryval geërf”.

Benewens die bedanking van die ganse raad, ’n top- uitvoerende beampte en ander senior personeellede wat geskors is, is ander roetinewerk teen buitensporige koste en met twyfelagtige voordele uitgekontrakteer.

“Benewens die bedanking van die ganse raad, ’n top- uitvoerende beampte (waarskynlik Jacques Faul) en ander senior personeellede wat geskors is, is ander roetinewerk teen buitensporige koste en met twyfelagtige voordele uitgekontrakteer, terwyl inkomste selfs voor Covid-19 gekrimp het en foutiewe kontrakte tot KSA se laste bygedra het,” skryf die tussentydse raad in sy verslag van 111 bladsye.

“Dít alles is in ’n gedetailleerde forensiese verslag uitgelê wat op sigself omstrede geraak het omdat KSA (voor die tussentydse raad se termyn) teen die publikasie daarvan vasgeskop het.”

Die tussentydse raad sê hy het drie hooftake gehad: om die verval te keer, om sin te maak van die uitvoerende bestuurstruktuur en om ’n nuwe grondwet met ’n sterk bestuursmodel in plek te sit.

“Dit is moeilik gemaak deur sekere elemente van ’n organisasiekultuur wat bestuurshervorming teengestaan het.”

Die tussentydse raad het dit wel reggekry om sekere veranderinge te bewerkstellig – byvoorbeeld om die akte van inlywing, oftewel grondwet, ná groot teenkanting van die lederaad (die hoogste krieketgesag, bestaande uit die uniepresidente) te wysig. Volgens die nuwe akte van inlywing sal die beheerliggaam voortaan ’n meer onafhanklike raad hê.

Welsh Gwaza, KSA se gewese sekretaris.

Nicolaou het Vrydag op ’n nuuskonferensie bevestig dat die benoemingskomitee wat gestig is die eerste nuwe raad se agt onafhanklike raadslede sal aanstel. Volgens Rihan Richards, president van die lederaad, sal onafhanklike raadslede egter in die vervolg verkies word en nie deur ’n komitee aangestel word nie.

Nóg iets wat die tussentydse raad as een van sy suksesse sal beskou, is die afdanking van Welsh Gwaza, gewese maatskappysekretaris.

Die tussentydse raad het Donderdagaand in ’n verklaring bevestig die uitgerekte tugproses teen Gwaza, wat in Desember geskors is, is afgehandel. Die onafhanklike voorsitter, adv. Terry Motau, het Gwaza onder meer daaraan skuldig bevind dat hy strydig met die maatskappyewet opgetree het.

Daar sal ook binnekort uitsluitsel kom oor die saak van Kugandrie Govender, geskorste waarnemende uitvoerende hoof.

Meer oor:  Welsh Gwaza  |  Nathi Mthe­Thwa  |  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Ksa  |  Tussentydse Raad  |  Jaarvergadering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.