Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KSA-raadslid word ondersoek ná sy borg kap
Dr. Eugenia Kula-Ameyaw, ’n onafhanklike raadslid van Krieket Suid-Afrika.

Dr. Eugenia Kula-Ameyaw, ’n onafhanklike raadslid van Krieket Suid-Afrika (KSA), gaan deur die beheerliggaam se etiekkomitee ondersoek word ná ’n twiet waarin sy een van KSA se borge kritiseer.

Nadat die finansiëledienstemaatskappy Momentum Dinsdag aangekondig het hy gaan nie sy borgskap van eendagkrieket verleng wanneer die huidige ooreenkoms in April 2021 verstryk nie, het Kula-Ameyaw getwiet: “Momentum vergeet dat ons honderdmiljoene in Momentum belê deur ons staatsbeheerde ondernemings en pensioenfondse. Ek onthou dat ek gevra het vir hul breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging-sertifikaat op my ander direksie. Kyk net voordat jy enige irrasionele besluite neem.”

Ná kritiek het sy hierdie twiet uitgewis, maar het Woensdag weer krities getwiet oor Momentum, wat wel steeds tot 2023 sal aanbly as die borg van die Protea-vrouespan.

Kula-Ameyaw, die hoof van KSA se transformasiekomitee, het toe gesê die “punt is dat Momentum besigheid kry uit spelers, ondersteuners en burgers. Ek was bly dat hulle die vrouespan befonds, maar dit is nie transformasie nie, maar bemarking.”

Dr. Eugenia Kula-Ameyaw se twiet oor Momentum, wat sy later uitgewis het.

Dié twiets sal nou deur KSA na sy etiekkomitee verwys word. Kula-Ameyaw dien ook op hierdie komitee, maar KSA het aan Netwerk24 bevestig sy sal nie in die ondersoek betrokke wees nie.

Ná die bedanking van prof. Steve Cornelius is die onafhanklike raadslid Dheven Dharamlingam die voorsitter van die komitee.

“KSA neem die kwessie baie ernstig op. Sodra alle interne prosesse afgehandel is, sal die regstellende aksie geneem word,” sê KSA in ’n verklaring.

KSA het hom van haar twiets gedistansieer en vir Momentum om verskoning gevra vir die “betreurenswaardige en onnodige twiets van een van ons raadslede in haar persoonlike hoedanigheid”.

Beresford Williams, KSA se waarnemende president, sê Kula-Ameyaw het nie opgetree in haar hoedanigheid as ’n nie-uitvoerende raadslid nie.

“Ons wil dit ook duidelik stel dat KSA nie die sienings deel wat oor Momentum geuiter is nie.” KSA sal nou sy personeel “heronderrig” oor sy sosialemedia-beleid.

Carel Bosman, Momentum se hoof van borgskappe. Foto: Gallo Images

Carel Bosman, Momentum se hoof van borgskappe, het aan Netwerk24 bevestig dat Williams en Kugandrie Govender, KSA se waarnemende uitvoerende hoof, Momentum persoonlik gebel het en om verskoning gevra het vir Kula-Ameyaw se twiets.

“Ons is nie heeltemal seker wat dr. Kula-Ameyaw bedoel het met haar kommentaar nie, omdat ons twee jaar gelede vlak 1-status van breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging bereik het en steeds daardie status handhaaf,” sê Bosman.

Momentum heroorweeg nie sy verhouding met KSA nie.

Netwerk24 het Maandag ook berig dat Kula-Ameyaw in ’n skrywe daarop aangedring het dat haar transformasiekomitee ’n sê in spankeuses moet hê. In reaksie hierop het die DA gevra dat Saskok haar moet ondersoek.

Daar is vroeër ook in Rapport berig dat sy sonder magtiging druk uitgeoefen het dat ’n advertensie van R521 000 in die Sunday Times geplaas word, om haar projek van krieket vir maatskaplike geregtigheid en nasiebou (SJN) te bemark.

Kula-Ameyaw het ’n leidende rol gespeel in die aanstelling van adv. Dumisa Ntsebeza as KSA se eerste transformasie-ombudsman.

Op Ntsebenza se bekendstelling het Kula-Ameyaw gesê wat sy nie van krieket hou nie, is dat “hulle nie kan voorspel hoe lank hulle gaan speel nie”.

Sokker is 45, 45 minute, dan is hulle klaar. Ek kyk net die hoogtepunte van krieket, nie die hele wedstryd nie. Ek het nie tyd daarvoor nie.
Dr. Eugenia Kula-Ameyaw

“Sokker is 45, 45 minute, dan is hulle klaar. Ek kyk net die hoogtepunte van krieket, nie die hele wedstryd nie. Ek het nie tyd daarvoor nie,” het sy gesê.

Sy is in Mei saam met Dharamlingam en Vuyokazi Memani-Sedile tydelik tot die raad gevoeg ná drie bedankings van onafhanklike raadslede in Desember 2019.

Sy moet egter op die jaarvergadering herverkies word om ’n volwaardige termyn te dien.

Voordat die beplande jaarvergadering van 5 September uitgestel is, het haar naam op die benoemingslys verskyn as die enigste benoemde vir die pos van hoof- onafhanklike direkteur. Volgens KSA se akte van inlywing word daar egter nie vir ’n hoof- onafhanklike direkteur gestem nie – die vyf onafhanklike direkteure stem onderling vir die hoof.

Andrew Breetzke

Welsh Gwaza, KSA se sekretaris, het glo op ’n vergadering gesê dit was “ ’n fout” dat sy as ’n kandidaat vir dié pos gelys was.

• Andrew Breetzke, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (Saca), het Momentum bedank vir wat die maatskappy die laaste agt jaar vir krieket beteken het.

“Momentum het ’n kernrol gespeel in een van die grootste gebeurtenisse op die krieketkalender – die pienk-eendagwedstryd. Momentum speel ook ’n reuserol in vrouekrieket,” sê Breetzke.

Meer oor:  Dr. Eugenia Kula-Ameyaw  |  Carel Bosman  |  Johannesburg  |  Bestuurslig  |  Ondersoek  |  Borg  |  Krieket  |  Ksa  |  Omstrede Twiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.