Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KSA, Saca help SA spelers uit Indië terugkry

Die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (Saca) en Krieket Suid-Afrika (KSA) werk saam om die 11 Suid-Afrikaanse spelers wat aan die Indiese Premierliga (IPL) deelgeneem het, so gou as moontlik na Suid-Afrika terug te bring.

Die IPL is Dinsdag onbepaald uitgestel weens skerp stygings in Covid-19-gevalle in Indië en toenemende gevalle binne die IPL-bioborrel.

AB de Villiers vir die Royal Challengers Bangalore in aksie. Foto: IPL

Andrew Breetzke, Saca se uitvoerende hoof, en Graeme Smith, KSA se direkteur van krieket, het reeds vroeg Dinsdagoggend vanuit Johannesburg met die Suid-Afrikaners in Indië begin kontak maak.

Daar het die oggend eers onsekerheid geheers, want voor die amptelike aankondiging was daar ook gerugte dat die res van die wedstryde moontlik na Mumbai sou skuif. Baie van die spelers het deur die loop van die oggend spanvergaderings bygewoon om klarigheid te verkry oor die stand van sake.

Nadat die IPL se beheerraad die uitstel-nuus amptelik bevestig het, het KSA in ’n verklaring gesê hy het met die IPL-franchises kontak gemaak om die spoedige terugkeer van alle Suid-Afrikaanse spelers en ondersteuningspersoneel na die land te verseker. Breetzke het aan Netwerk24 bevestig die onderskeie franchises sal vir die vlugte betaal, terwyl KSA en Saca met die logistieke reëlings sal help.

KSA sê in sy verklaring die spelers sal met hul terugkeer na Suid-Afrika tuis ’n tydperk in kwarantyn deurbring in pas met die aanbevelings van die Wêreldgesondheidsorganisasie.

Dit is moeilike tye, veral in Indië, en terwyl ons probeer het om positiwiteit te skep, is dit belangrik dat die toernooi nou uitgestel word en dat almal terugkeer na hul gesinne en geliefdes.

Kagiso Rabada, Anrich Nortjé (albei Delhi Capitals), David Miller, Chris Morris, Gerald Coetzee (almal Rajasthan Royals), Marco Jansen, Quinton de Kock (albei Mumbai Indians), AB de Villiers (Royal Challengers Bangalore), Imran Tahir, Faf du Plessis en Lungi Ngidi (almal Chennai Super Kings) is die Suid-Afrikaners by die IPL.

Bestuurslede van die Super Kings, asook lede van die Sunrisers Hyderabad en Kolkata Knight Riders is in die week positief getoets en dié gevalle binne die bioborrel het die IPL genoop om op te tree.

Die IPL se beheerraad het Dinsdag in ’n verklaring gesê dat hy ná ’n noodvergadering met die Indiese Krieketbeheerraad (BCCI) eenparig besluit het om die IPL uit te stel.

Faf du Plessis se spelpeil vir die Chennai Super Kings was puik. Foto: IPL

“Dit is moeilike tye, veral in Indië, en terwyl ons probeer het om positiwiteit te skep, is dit belangrik dat die toernooi nou uitgestel word en dat almal terugkeer na hul gesinne en geliefdes,” lui die verklaring.

Die situasie in Indië het die laaste paar weke stelselmatig vererger. Covid-19-gevalle het Dinsdag die 20 miljoen-kerf verbygesteek ná 357 229 nuwe gevalle die vorige 24 uur.

Die IPL se voorsitter, Brijesh Patel, het aan Reuters gesê dit is te vroeg om te sê wanneer die toernooi, wat na raming ’n waarde van $6,8 miljard het, sal hervat.

Die situasie is veral problematies vir die 14 Australiese spelers wat nog in Indië is, aangesien die Australiese regering alle vlugte vanuit Indië tot 15 Mei opgeskort het.

Drie Aussies, Andrew Tye, Adam Zampa en Kane Richardson, is reeds verlede week huis toe weens kommer oor die Covid-19-situasie.

Krieket Australië wou nie kommentaar lewer op ’n navraag van Reuters oor of hy planne maak om sy spelers huis toe te bring nie.

ESPNcricinfo berig die nagenoeg 40 Australiërs by die IPL (wat spelers, afrigters en kommentators insluit) kan moontlik ’n tydelike heenkome in die Maledive vind.

Die BBC berig die Engelse en Walliese Krieketraad gaan nie ’n huurvlug reël om die Engelse spelers terug te bring nie. Altesaam 14 Engelse spelers het kontrakte met IPL-spanne gesluit, maar spelers soos Ben Stokes, Liam Livingstone en Jofra Archer is reeds vroeër huis toe weens beserings of “borrelvoosheid” in Livingstone se geval.

Daar is ook nou vrae oor of die T20-Wêreldbeker-toernooi, wat veronderstel is om in Oktober in Indië te begin, wel sal kan voortgaan. Daar was verlede week berigte dat die skouspel moontlik na die Verenigde Arabiese Emirate kan verskuif as die krisis aanhou voortsleep.

Geen van die tien Suid-Afrikaanse spelers in Indië aan wie Netwerk24 navrae gestuur het, wou kommentaar lewer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.