Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KSA se noodplan kry wind van voor

Krieket Suid-Afrika se noodplan om die hervorming van beroepskrieket in die land opnuut onder die loep te neem, het skaars 12 uur ná die aankondiging daarvan klaar die wind van voor gekry.

Die raad van KSA het Maandagaand ná ’n uitvoerende en lede-raadsvergadering in die Paarl die stigting van ’n komitee onder leiding van Dave Richardson aangekondig om die struktuur van beroepskrieket in die land te ondersoek.

Jacques Faul, Krieket Suid-Afrika se waarnemende uitvoerende hoof, en Dave Richardson, ’n gewese Protea en top-internasionale administrateur, wat KSA tans as ’n konsultant bystaan. Foto: Gallo Images

Die komitee bestaan uit Richardson, Graeme Smith, die tussentydse direkteur van krieket, Pholetsi Moseki, hoof-finansiële beampte van KSA en ’n verteenwoordiger van die Spelersvereniging (Saca).

Saca het egter Dinsdagoggend in ’n verklaring aangekondig dat hy nie bereid is om met KSA te vergader oor die herstrukturering van beroepskrieket in die land nie tot tyd en wyl KSA sy vroeëre besluit om beroepskrieket van ses streekspanne ná 12 provinsies uit te brei, ter syde stel.

Tony Irish, die uittredende uitvoerende hoof van Saca, sê in die verklaring KSA se aankondiging Maandagaand laat, was ’n verrassing.

“Ofskoon KSA aangekondig het dat ons deel is van dié komitee, het hy nog glad nie met Saca in verbinding getree nie.

“Ek kan bevestig dat ons nie sal deelneem tot die vorige besluit ter syde gestel word nie,” sê Irish.

“Die feit dat KSA nou vir die eerste keer ondersoek gaan instel ná die plaaslike krieketstruktuur, is bewys dat dit nie gedoen is toe die besluit (om te herstruktureer) agt maande gelede geneem is nie.”

Saca se moeilike verhouding gaan Richardson, voormalige Protea en oud-uitvoerende hoof van die Internasionale Krieketraad, se taak aansienlik moeiliker maak.

As ons die regte syfers het, dan verstaan ons die uitdagings wat voorlê beter
Dave Richardson

Richardson het Maandagaand in die Paarl gesê KSA se raad besef dat hy vir homself ’n diep gat gegrawe het en nou mense probeer betrek om te help.

“Van my kant af is dit ’n opregte poging om te help,” sê Richardson.

“Sake lyk tans aan verskeie fronte nie goed nie. Jacques (Faul, waarnemende uitvoerende hoof van KSA) het sy hande vol met bedryfstake. Dan is daar ook die probleme op bestuursvlak, wat nie gou gaan weggaan nie. En dan die dringendheid van die toetsreeks teen Engeland en die belangrikheid om goed te vertoon.”

Volgens Richardson het KSA minder geld omdat internasionale uitsaairegte nie tans werd is wat dit twee jaar gelede was nie.

Hy sê dit is dus uiters belangrik dat KSA se vooruitskattingsmodelle akkuraat genoeg is om behoorlik te kan beplan.

“As ons die regte syfers het, dan verstaan ons die uitdagings wat voorlê beter,” sê Richardson.

“Dan moet ons al die belanghebbendes raadpleeg en ook seker maak dat sake nie net op ’n krieketgehalte-vlak werk nie, maar ook finansieel lewensvatbaar is.”

Oor KSA se brose verhouding met die Spelersvereniging het Richardson gesê hy voorsien nie probleme nie.

Dit was egter voordat Irish en Saca Dinsdag koue water op die planne gegooi het.

Meer oor:  Graeme Smith  |  Saca  |  Ksa  |  Sa Krieketspelersvereniging  |  Proteas  |  Dave Richardson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.