Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Yacoob bedank ná relletjie met joernalis

Die voorsitter van Krieket Suid-Afrika (KSA) se tussentydse raad, oudregter Zak Yacoob, het uit dié posisie bedank nadat hy ’n Times Live-joernalis ’n “idioot en leuenaar” genoem het.

Oudregter Zak Yacoob staan nie meer aan die stuur van Krieket Suid-Afrika se tussentydse raad nie. Foto: Nelius Rademan

’n Klankopname van ’n vurige telefoongesprek tussen Yacoob en die joernalis Tiisetso Malepa is Maandag op Times Live gepubliseer. In die gesprek van bykans 40 minute noem Yacoob vir Malepa menigmaal ’n leuenaar, idioot en ’n skelm joernalis. Dit spruit uit vrae wat Malepa aan Yacoob gestel het oor ’n kwessie tussen Yacoob en Shamilla Surjoo, ’n gewese direkteur van die KwaZulu-Natalse vereniging vir blindes en dowes.

Malepa wou by Yacoob weet of Surjoo hom aangekla het van omkopery nadat Yacoob haar na bewering gevra het: “Hoeveel vir hierdie om weg te gaan?” nadat Surjoo haar in 2019 tot die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gewend het nadat sy as ’n direkteur van die vereniging verwyder is.

Yacoob ontken dat daar ’n saak van omkopery teen hom is en vat dan vir Malepa daaroor aan. Malepa het ook uitgevra oor die bewering dat Yacoob aangebied het om met R5 000 van sy eie geld vir die geskorste waarnemende uitvoerende hoof van KSA, Kugandrie Govender, se regskoste te betaal.

Die opname van die gesprek het groot reaksie ontketen en die tussentydse raad het Dinsdag reeds ’n verskoning uitgereik, maar ook gesê Malepa het al “onvanpaste aanmerkings” oor Yacoob in berigte gemaak.

Dié verskoning was skynbaar nie genoeg nie. KSA se lederaad – die hoogste besluitnemingsgesag in die land, bestaande uit die presidente van die 14 unies – was glo ontevrede met Yacoob se optrede.

Minister Nathi Mthethwa, wat die tussentydse raad aangewys het, het Woensdag met Yacoob vergader en daar is volgens ’n verklaring “gesamentlik besluit” dat Yacoob hom moet verskoon.

Dr. Stavros Nicolaou neem nou waar as die voorsitter van die interimraad totdat sy termyn op 15 Februarie verstryk.

“Die besluit is ná baie oorweging geneem om die ongelooflike werk wat die interimraad onder sy voorsitterskap verrig het, te beskerm,” sê Mthethwa.

“Die oudregter het berou getoon en om verskoning gevra vir sy rol in die gesprek met die joernalis.”

Mthethwa het Yacoob vir sy leierskap bedank.

Die minister hoop die veranderings wat die tussentydse raad aanbring, sal inwerking gestel word wanneer KSA se jaarvergadering gehou word. Daar is nog nie ’n datum vir die jaarvergadering nie, wat al sedert September 2020 uitgestel is.

Die tussentydse raad sê in ’n verklaring Yacoob het die beste belang van krieket voorop gestel en daarom besluit om te bedank. 

Meer oor:  Bedank  |  Krieket  |  Ksa  |  Ksa-Raad  |  Zak Yacoob
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.