Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KSA steek kers op by Engelse oor terugkeer

Krieket Suid-Afrika (KSA) is in gesprek met die Engelse en Walliese Krieketraad (ECB) om te kyk na strategieë om die spel later vanjaar te hervat.

Jacques Faul, waarnemende uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika. Foto: Getty Images

Jacques Faul, waarnemende uitvoerende hoof van KSA, het bevestig hy beraadslaag met sy eweknie Tom Harrison en Steve Elworthy, direkteur: spesiale projekte van die ECB.

Hy sou vandeesweek weer met Harrison-hulle gesels het.

Die begin van die seisoen in Engeland is weens die Covid-19-pandemie reeds twee keer uitgestel. Dié land se inperking is oor die naweek tot 1 Junie verleng, terwyl die ECB alle krieket vroeër tot 1 Julie opgeskort het.

“Hulle is voor ons (met ’n moontlike terugkeer-strategie) en help ons mooi. Ons is almal in dieselfde storm,” sê Faul.

Hy sê KSA het ’n paar scenario’s waarna hy kyk soos die situasie in die land algaande verander.

“Ons sal waarskynlik eers aan die einde van Julie weer meer duidelikheid hê.”

KSA sal hom soos die ECB ook deur die owerhede se maatreëls laat lei.

Tom Harrison, uitvoerende hoof van die Engelse en Walliese Krieketraad. Foto: Getty Images

“Die groot kwessie is wanneer mense weer kan reis. Dis nie iets wat ons kan beheer nie, so alles is daarom nog uitgestel,” sê Faul.

Hy het voorts onthul hulle nader nie net die ECB om advies nie.

“Ons reik ook uit na rugby (Saru) en sokker (Safa), die land se ander groot sportsoorte.”

Faul kan hom intussen nie in die stadium uitlaat oor die Mzansi 20, ’n nuwe weergawe van die bestaande Mzansi-superliga nie. Dié liga sal glo twee nuwe spanne by die bestaande ses franchises voeg en is veronderstel om aan die einde van November te begin, met die eindstryd kort ná Kersfees.

Daar ook sprake van ’n eendagreeks oor 40 boulbeurte, wat glo reeds ’n borgskap het.

KSA se bestuur by amateurkrieket, wat skole-, tersiêre en klubkrieket behels, het na verneem word ook reeds sy beplanning gedoen en kyk na moontlikhede vir sy nasionale weke.

’n Vergadering aan die begin van Augustus sal verdere duidelikheid gee.

Die beste moontlike situasie is dat al die nasionale krieketweke voortgaan soos beplan, maar as dit nie gebeur nie, sal dit in Desember hersien en herskeduleer word. Die ergste situasie is natuurlik dat al die weke gekanselleer word. Die jaarlikse Khaya Majola-skoleweek sal dan onder meer in die slag bly soos wat reeds met die Cravenweek-rugbytoernooi gebeur het.

Meer oor:  Tom Harrison  |  Jacques Faul  |  Ecb  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Krieket  |  Ksa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.