Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Krieket Suid-Afrika steier op 0/3

Krieket Suid-Afrika (KSA) het nie net sy eie sperdatum vir die aankondiging van ’n direkteur van krieket gemis nie, die beheerliggaam is geheel en al terug by stap een en gaan dié pos weer adverteer.

Dít nadat die kandidaat wat KSA graag wou hê, Graeme Smith, hom aan die wedloop onttrek het. Smith het gevoel dat KSA hom nie die nodige vryheid in die pos sou gee nie. Hy het KSA ook verkwalik vir sy liederlike gesloer met hul kommunikasie.

Geskors . . . Corrie van Zyl, waar­nemende direkteur van krieket.
Gepos . . . Linda Zondi, sameroeper van die nasionale keurkomitee.
Gebelg . . . Tony Irish, hoof van die Spelersvereniging.

Nie een van die ander kandidate, Dave Nosworthy, Hussein Manack en Corrie van Zyl, het teen Vrydag – die dag wat KSA se uitvoerende hoof, Thabang Moroe, onderneem het om ’n aankondiging te doen – van KSA gehoor nie.

Engeland land op 15 Desember in Johannesburg vir hul toer in Suid-Afrika, maar KSA sit nog sonder ’n direkteur van krieket, ’n voltydse spandirekteur, ’n keurkomitee en hulpafrigters.

Moroe het vandeesweek in onderhoude op SAfm en Newzroom Afrika onderneem om teen Vrydag ’n aankondiging te doen, maar dit het nie gebeur nie.

“Ons bly by ons tydlyne, maar ons wil die regte man vir die pos aanstel. Ons sal foute maak met hoe ons dinge aanpak, maar ons gaan nie aangejaag word met die aanstelling van die eerste direkteur van krieket nie,” het Moroe op die TV-nuuskanaal Newzroom Afrika gesê.

“Dit is ’n belangrike aanstelling, wat ons nie ligtelik opneem nie. Daar is geen gunsteling op die oomblik nie.

“Ons gaan nie onder druk swig om ’n aankondiging te maak nie. As dit nodig raak om weer te adverteer of selfs mense van oorsee uit te nooi, sal ons dit doen,” sê Moroe.

Manack, wat ’n onderhoud vir die pos gehad het, het Vrydag aan Rapport gesê dit sal ’n fout wees om ’n buitelander aan te stel.

“Jy het iemand nodig wat die Suid-Afrikaanse konteks verstaan, wat die geskiedenis en die politiek en transformasie verstaan,” sê Manack.

Dit blyk nietemin onwaarskynlik dat KSA binnekort ’n aanstelling gaan maak. Enoch Nkwe behoort aan te bly as die tussentydse spandirekteur, maar dit is nog onduidelik wie sy hulpafrigters sal wees. Dit is boonop onduidelik wie die span gaan kies, want KSA het ook nog nie ’n nuwe keurderbaas aangestel om by Linda Zondi oor te neem nie.

3 weke voor Engelse aankom en SA krieket het...
  • Geen amptelike breier
  • Geen direkteur van krieket
  • Geen keurkomitee

          maar wel 

  • Een almagtige uitvoerende hoof

Thamie Mthembu, ’n KSA-woordvoerder, het vandeesweek gesê daar is ’n “span” binne KSA wat die span sal kies, maar “in die belang van kollegialiteit” wou hy nie name bekend maak nie.

KSA moet boonop nog die gemors opruim van die skorsings van Van Zyl, Naasei Appiah en Clive Eksteen. KSA het dié trio in Oktober geskors hangende ’n ondersoek na beweerde pligsversuim rakende die beeldregtekwessie van verlede jaar se MSL.

Tony Irish, die uitvoerende hoof van die spelersvereniging, Saca, het ná die skorsing gesê dit was nie een van dié drie amptenare se skuld dat KSA nie betyds vir spelers se beeldregte betaal het nie. Dit was Moroe se skuld.

Minstens een van die drie geskorste werknemers het regshulp ingewin en bronne glo nie dié kwessie gaan binnekort opgelos word nie. Dit belemmer Van Zyl se kanse om die pos as direkteur van krieket voltyds te beklee, selfs al word hy in krieketkringe as die beste van die drie huidige kandidate gesien.

Ons gaan nie aangejaag word met die aanstelling nie.

Moroe het homself in ’n posisie van bykans onaantasbare mag binne KSA ingewikkel. Hy het die raad oortuig om vir hom die reg te gee om sekere besluite te neem sonder om eers goedkeuring by die raad te kry.

Vandaar die nuwe bestuurstruktuur met ’n spandirekteur wat aan ’n direkteur van krieket rapporteer, wat op sy beurt aan Moroe verslag doen. Moroe het sodoende ’n regstreekse lyn tot in die Protea-kleedkamer.

Om meer sout in die sukkelende beheerliggaam se wonde te vryf, sukkel die MSL om groot skares te lok. Buiten in die Paarl, word daar swak bywoning by bykans al die stadions beleef en minder as 3 000 mense was verlede Saterdag op die Wanderers om die Jozi Stars teen die Giants te sien speel.

Moroe het op Newzroom Afrika erken dit is kommerwekkend, maar sê die MSL is reeds naas die Indiese Premierliga (IPL) die toernooi wat die grootste televisiegehoor wêreldwyd trek.

“Om in die tweede seisoen reeds groter gehore as die Big Bash-liga en die Pakistanse liga te lok, is verblydend,” sê Moroe.

KSA het die beeldregte gratis vir die SAUK gegee en die reeks stuur weer op ’n groot verlies af. Volgens inligting kan die verlies sowat R100 miljoen beloop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.