Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KSA stel transformasie-ombud bekend
Adv. Dumisa Ntsebeza, KSA se transformasie-ombudsman. Foto: Argief

Adv. Dumisa Ntsebeza, Krieket Suid-Afrika (KSA) se transformasie-ombudsman, se doel met sy taak as die hoof van die beheerliggaam se projek van krieket vir sosiale geregtigheid en nasiebou (SJN) is om alle krieketspelers te verenig.

Ntsebeza is reeds verlede jaar as die beheerliggaam se transformasie-ombudsman aangestel nadat die gewese raadslid dr. Eugenia Kula-Ameyaw met die SJN-projek vorendag gekom het nadat die Black Lives Matter (BLM)-beweging in krieket stoom opgetel het.

Die gewese raad, waarvan sy deel was, het egter in Oktober 2020 onder groot druk bedank en is deur ’n tussentydse raad vervang. Die tussentydse raad het alle besluite wat die vorige raad geneem het, in heroënskou geneem en vir eers die SJN-projek op ys geplaas.

Ek het gesprekke met KSA gehad oor hoe ek prakties kan help om maatskaplike geregtigheid en nasiebou te verbeter in die volgende ses maande
Adv. Dumisa Ntsebeza

Een van die nege punte van die mandaat wat minister Nathi Mthethwa die tussentydse raad gegee het, is om transformasie te bevorder en teen die agtergrond daarvan is daar Dinsdag aangekondig dat die SJN-projek nou wel sal herleef.

Ntsebeza is vir ses maande aangestel. Hy sal enige klagtes van diskriminasie in krieket ondersoek en dan aanbevelings aan KSA doen. Verhore sal op Zoom plaasvind en vir die publiek toeganklik wees.

“Ek het gesprekke met KSA gehad oor hoe ek prakties kan help om maatskaplike geregtigheid en nasiebou te verbeter in die volgende ses maande,” het Ntsebeza Donderdag gesê.

“Ek sal wyd vergader met álle krieketbelanghebbendes, wat voormalige en huidige spelers, die SA Spelersvereniging en werknemers insluit. Die samesprekings sal in Mei begin.

“Ek is van plan om eerstens te vergader met die 40 swart gewese spelers wat verlede jaar ’n verklaring afgelê het, in lyn met die wêreldwye BLM-proteste in sport.

“Maar ek wil met alle belanghebbendes praat, selfs dié wat glo transformasie is ’n vorm van inmenging, of dit is ’n vorm daarvan om politiek in sport in te bring. Ek stel belang om daardie stemme te hoor, want dit is die stemme wat my aanbevelings gaan vorm.”

Ntsebeza wil ook met die regering en betrokke sakeondernemings vergader.

“Die doelwit is om die land agter krieket te verenig en diegene wat in die verlede slagoffers van onregverdige diskriminasie was, te help om te herstel. Daardie mense moet sien dat KSA ’n meganisme geskep het waar hulle kan kom en praat oor wat hulle voel hulle slagoffers gemaak het.

“Soos wat ons in die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK), waarin ek die eer gehad het om te dien, gesien het: Sodra mense ’n kans kry om in hul eie woorde te praat oor die dinge wat hulle seergemaak het, het daardie proses opsigself die mag om hul menswaardigheid te herstel.”

Prof. André Odendaal, ’n historikus en lid van die tussentydse raad, sê die aanstelling van Ntsebeza kan gesien word as die vyfde vlak van transformasie sedert eenheid in 1991.

“Die eerste was eenheid in ontwikkeling, volgende eksterne monitering en die stel van teikens, daarna het dit intern gegaan, sedert 2013 was daar die bespoediging van Afrikanisering en die jaarlikse regeringsverslag rakende die behaling van teikens,” sê Odendaal.

Odendaal het wel gesê daar was nooit ’n begroting vir reparasies om betaal te word aan spelers wat voel daar is in hul loopbane teen hulle gediskrimineer nie, soos wat Kula-Ameyaw aanvanklik beloof het.

“Ons sal vra dat (adv. Ntsebeza) met belanghebbendes praat en dan terugkeer na KSA met voorstelle, wat begrotings sal insluit.”

Pholetsi Moseki, KSA se waarnemende uitvoerende hoof, sê die beheerliggaam sal binnekort bekend maak watter stappe enige lid van die publiek kan neem as hy of sy met die ombudsman in verbinding wil tree, of self ’n verklaring wil lewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.