Suid-Afrikaanse krieketondersteuners gaan nog ’n paar weke moet wag om uit vind oor die pad vorentoe vir die spel in die land.
Krieket Suid-Afrika se ringkoppe het verlede Vrydag onderhoude met verskeie kandidate gevoer vir die nuwe pos van direkteur van krieket.
Thami Mthembu, ’n KSA-woordvoerder, wou Maandag slegs sê dat ’n aankondiging hieroor voor einde November gemaak sal word.

Die voormalige Protea-kaptein, Graeme Smith. Foto: Getty Images
Die nuwe direkteur sal verantwoordelik wees vir die bestuur van alle krieket wat onder die KSA se vaandel gespeel word. Hy is in beheer van die nasionale mans- en vroue-spanne, die junior spanne sowel as die provinsiale- en franchise-krieket wat in Suid-Afrika gespeel word.
Die pos is geskep ná ’n herstrukturering van die bestuur van beroepskrieket, ná die Proteas se onsuksesvolle veldtog in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Engeland. Dat die onderhoude eers in November gehou is, spreek egter boekdele van die diep waters waarin SA krieket hom bevind.
Ofskoon KSA nie wou bevestig wie die kandidate is nie, verneem Netwerk24 van die mense met wie onderhoude gevoer is, sluit in die voormalige Protea-kaptein Graeme Smith, die voormalige Protea-keurder Hussain Manack en die waarnemende direkteur van Krieket, Corrie van Zyl.
Van Zyl is egter geskors uit dié pos hangende ’n ondersoek oor die wanbetaling van geld aan die Spelersvereniging. Die ondersoek begin later vandeesweek.
Smith is glo die voorloper in die wedloop om die pos. Dit sal interessant wees om te hoor of hy enige voorwaardes aan KSA sal stel voor hy sal instem om die pos te vul. Hy sal moontlik waarborge soek teen inmenging vanuit die raadsale en sal wil weet of hy die alleenreg het oor die aanstelling van afrigters en die spanbestuur.
Suid-Afrika se suksesvolste toetskaptein nóg verdien boonop ’n baie goeie salaris as ’n internasionale krieketkommentator. Hy is beslis nie verleë oor dié pos nie.
Dit is moeilik om te sien hoe Smith die kommentaarwerk sal opgee as hy nie op sy voorwaardes nie nuwe pos kan vul nie.
Netwerk24 het Smith en Manack om kommentaar genader, maar hulle wou nie kommentaar lewer nie.
Krieket Suid-Afrika het ook verlede week onderhoude met kandidate gevoer vir die pos as sameroeper van die keurkomitee.
Van Zyl het sedert die Wêreldbeker-toernooi vroeër vanjaar ook dié pos op ’n waarnemende grondslag gevul.
Linda Zondi, wat as sameroeper gedien het tot en met die WB-toernooi, het weer aansoek gedoen.
Die pos moet gou gevul word aangesien die Protea-groep vir die toetsreeks teen Engeland aan die einde van die jaar, binnekort saamgestel moet word.