Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Moroe kry pos sonder vereiste kwalifikasies

Voordat Thabang Moroe as Krieket Suid-Afrika (KSA) se uitvoerende hoof aangestel is, het die paneel van raadslede wat sy onderhoud behartig het, in ’n verslag erken daar was ’n gebrek aan elemente van leierskap in sy voorlegging.

Thabang Moroe, die gewese uitvoerende hoof van KSA. Foto: Elizabeth Sejake

Hulle het nietemin gevoel Moroe is “beslis die ideale kandidaat” vir die pos, skryf die Fundudzi- forensiese ouditeurs in hul verslag oor die nasionale krieketbeheerliggaam se bestuursprobleme. Dít ondanks die feit dat Moroe nie aan die minimumvereistes vir die pos voldoen het nie.

Die voormalige KSA-president, Chris Nenzani, het boonop aan Fundudzi gesê hy en die raad was nie daarvan bewus dat Moroe nie aan die minimumvereistes voldoen het toe hulle hom in 2018 as die voltydse uitvoerende hoof aangestel het nie. Nenzani se stelling word egter betwis.

Dit het in Oktober tydens ’n portefeuljekomiteevergadering reeds bekend geword dat Moroe, wat sedertdien afgedank is, nie aan die minimumvereistes vir die pos voldoen het nie.

Die besonderhede daarvan is Woensdag onthul toe KSA se tussentydse raad eindelik besluit het om die volledige, onbeperkte Fundudzi- forensiese verslag rugbaar te maak.

Die sage van Moroe se aanstelling in Julie 2018 skets ’n prentjie van ’n organisasie wat chaoties bestuur word.

Volgens Fundudzi was dit in die eerste plek opvallend dat die interne posbeskrywing nie ooreengestem het met KSA se advertensie vir die pos nie.

Volgens Fundudzi was dit in die eerste plek opvallend dat die interne posbeskrywing nie ooreengestem het met KSA se advertensie vir die pos nie.

Volgens die posbeskrywing was ’n nagraadse kwalifikasie en ’n minimum van tien jaar se werkservaring as ’n uitvoerende beampte van ’n mediumgrootte maatskappy die voorvereistes.

In die advertensie het KSA egter gesê die minimumvereistes is ’n B-graad in besigheidsadministrasie (of ’n kwalifikasie op dieselfde vlak) en agt jaar se werkservaring.

Ondanks die teenstrydigheid, het Moroe nie aan enige van dié kwalifikasies voldoen nie. Moroe het nie ’n graad nie; sy hoogste kwalifikasie is ’n N4-sertifikaat in elektriese ingenieurswese (gelykstaande aan matriek). Hy het ook nie oor agt jaar se werkservaring beskik op die vlak wat KSA verlang het nie.

Moroe het nie ’n graad nie; sy hoogste kwalifikasie is ’n N4-sertifikaat in elektriese ingenieurswese (gelykstaande aan matriek).

Moroe het op daardie stadium as uitvoerende hoof waargeneem nadat Haroon Lorgat die organisasie verlaat het, en het ondanks sy gebrek aan die nodige ervaring en kwalifikasies die kortlys van agt kandidate gehaal nadat KSA 35 aansoeke ontvang het.

Moroe, Max Jordaan, dr. Oupa Nkagisang, Steven Jowell, prof. Trevor Govender, Udesh Pillay, Barri Maggott en Sugen Pillay was die kandidate op die kortlys.

Moroe, Nkagisang, Jordaan (wat tans KSA se transformasiebestuurder is) en Govender is vir onderhoude genooi deur die paneel, wat uit die raadslede Thando Ganda, Iqbal Khan, Dawn Mokhobo, Louis von Zeuner en Beresford Williams bestaan het. Nie een van hulle is meer KSA-raadslede nie.

Die paneel het ná die onderhoude besluit Moroe is die aangewese kandidaat. Nadat hulle hom vir sy goeie voorlegging geloof het, het die paneellede wel die volgende toegewing in hul verslag van sy onderhoud gemaak: “Sy voorlegging het wel tekort geskiet in elemente van leierskapsidees/-projeksies/-voorbeelde.”

Nenzani het aan Fundudzi gesê die raad was nie bewus daarvan dat Moroe nie oor die minimumkwalifikasies vir die pos beskik het nie, maar Khan ontken dit en sê die raad het geweet.

Moroe se naam verskyn 681 keer in die Fundudzi-verslag, wat 457 bladsye beslaan en die KSA-verval in fyn besonderhede beskryf.

Fundudzi bevind in die verslag dat Moroe die maatskappywet tientalle kere met sy optrede oortree het. Hy het honderdduisende rande se drank op die maatskappy se kredietkaarte gekoop, verkrygingsprosedures geïgnoreer en hom aan erge finansiële wanbesteding skuldig gemaak.

Moroe het, ondanks talle probeerslae van Fundudzi, nie sy kant van die saak aan die ouditeure gestel nie. Hy is in Augustus ná ’n gesloer van nege maande deur KSA afgedank, maar beplan om sy ontslag in die howe te beveg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.