Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KSA vies oor Duanne se Kolpak-keuse
Duanne Olivier in die oefennette. Foto: Gallo Images

Krieket Suid-Afrika (KSA) het “ná alles wat vir hom gedoen is” sy misnoeë met Duanne Olivier te kenne gegee nadat dié Protea-snelbouler ’n nasionale kontrak van die hand gewys en eerder ’n Kolpak-kontrak met Yorkshire gesluit het.

Die 26-jarige Olivier, die Proteas se voorste toetsbouler die afgelope somer, is verlore vir Suid-Afrika se nasionale span nadat hy ’n Kolpak-kontrak van drie jaar met die graafskap verkies het.

“Ons vind dit uiters teleurstellend dat Duanne die stap geneem het ná al die geleenthede wat ons hom gegee het – veral in die laaste seisoen en met die oog op die toekoms om sy droom as ’n internasionale krieketspeler uit te leef,” sê Thabang Moroe, uitvoerende hoof van Krieket-Suid-Afrika.

Ons vind dit uiters teleurstellend dat Duanne die stap geneem het ná al die geleenthede wat ons hom gegee het – veral in die laaste seisoen en met die oog op die toekoms.
Thabang Moroe

Dit was in November al rugbaar dat Yorkshire op Olivier jag maak.

KSA het kennis geneem hiervan en ’n poging aangewend om Olivier in Suid-Afrika te hou.

“Hy is opgegradeer tot ’n nasionale kontrak tydens die seisoen en ons het hom intussen ’n kontrak van twee jaar aangebied, wat hom finansiële stabiliteit tot aan die einde van die 2020-’21-seisoen sou gebied het,” sê Moroe.

Sommige waarnemers glo KSA moes vroeër al gespring het en voeg by dat hy altyd maar die “plaasvervanger-snelbouler” was op wie se knoppie gedruk kon word as daar beserings was.

Thabang Moroe, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Moroe wys daarop dat Olivier in al ses toetse die somer in aksie was en boonop ’n kans gekry het met die witbal. Hy noem egter nie dat spelers soos Lungi Ngidi en Vernon Philander met tye beseer was nie.

Moroe sê dis nie ’n goeie ding vir die spel dat ’n speler wat pas die top-20 op die toetsranglys betree het nou die gordyn laat sak op sy internasionale loopbaan om plaaslike ligakrieket te gaan speel nie.

Ottis Gibson, die Proteas se afrigter, sê hulle is uiteraard teleurgesteld met Olivier se besluit.

“Hy was ’n sleutelspeler en een van die uitstaande spelers.

“Ons het verskeie vergaderings met hom oor sy toekoms gehad en hom selfs ’n kontrak van twee jaar aangebied.

“Dis teleurstellend om te sien dat hy nou sy internasionale loopbaan kortknip. Ons kon op die einde ondanks ons beste pogings hom nie van besluit laat verander nie.”

Yorkshire het die nuus Dinsdag amptelik bekend gemaak.

Dis teleurstellend om te sien dat hy nou sy internasionale loopbaan kortknip. Ons kon op die einde ondanks ons beste pogings hom nie van besluit laat verander nie.
Thabang Moroe

Dit het vroeg in November verlede jaar aan die lig gekom dat Yorkshire planne het om Olivier met ’n Kolpak-kontrak soontoe te lok. Dit was nadat hy ’n goeie seisoen as ’n oorsese speler by Derbyshire beleef het.

Olivier het Dinsdag navrae na Weber van Wyk, sy agent, verwys wat ook namens spelers soos Morné Morkel, Rilee Rossouw, Kyle Abbott en AB de Villiers optree.

Olivier het wel op Yorkshire se webtuiste kommentaar oor die moeilike besluit gelewer.

Hy sê hy het aanvanklik planne gehad om soos verlede seisoen weer as ’n oorsese speler graafskapkrieket te speel, maar toe hy die langtermynkontrak van Yorkshire kry, besluit dit sal die beste vir hom en sy familie wees.

“Ek het my graafskapkrieket verlede seisoen in Brittanje baie geniet en besef dat ek myself maklik daar kan vestig in die toekoms.”

Ek het my graafskapkrieket verlede seisoen in Brittanje baie geniet en besef dat ek myself maklik daar kan vestig in die toekoms.
Duanne Olivier

Olivier sê Pakistan se besoek het vir hom uitgestaan en dat hy dit nooit sal vergeet nie.

Hy sê hy sal jok as hy sê dit was nie ’n moeilike besluit nie.

Martyn Moxon, direkteur van Yorkshire, sê hoewel die kontrak vir net drie jaar is, hoop hulle om dit later verleng.

Olivier was ná sy heldedade teen Pakistan ’n gunsteling om later vanjaar deur KSA vereer te word op sy prysuitdeling, maar ná dese sal dit interessant wees om te sien of hy hoegenaamd benoem sal word vir ’n eerbewys.

Meer oor:  Thabang Moroe  |  Duanne Olivier  |  Yorkshire  |  Snelbouler  |  Kolpak-Kontrak  |  Ksa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.